Moet ek gaan, of moet ek bly?
Moet ek gaan, of moet ek bly?

Moet ek gaan, of moet ek bly?

[email protected]
Sanet de Waal
Otis Finck

Met die koms van die Covid-pandemie, is met vakansie gaan ook nie meer wat dit eens was nie.

Dit is asof die lekkerte van ’n trippie na die buurland ook die trekpas gekry het en vervang is met ’n onaangename gevoel van ’n oorpluisie wat in jou neus opgedruk of tot teen jou gorrel geswaai word.

Dit hoef egter nie so te wees nie.

Die president en die minister van gesondheid praat en jy moet luister.

Die Covid-maatreëls verander en jy moet jou daarvolgens aanpas.

Tog, al luister jy ook hoe mooi, verstaan jy “die voornemende reisiger” nie die veranderings so mooi nie. Al wat ek hoor is “die Khomasstreek word gehok”.

Ná baie rondvra kom daar effense duidelikheid. “Jy nodig ’n permit om te travel, ou broer.”

“Ja, maar ek wil mos nie in Khomas bly nie. Ek wil verby en voorwaarts na die land se grens. Ek wil uit.”

Dié streek se kommissaris van polisie sê vir my hy wag vir bevele van bo en dat hy heel moontlik eers Vrydag duidelikheid oor die weg vorentoe gaan hê. Maak maar die Covid-toetsie raai hy aan. “Vir hom gaan jy beslis nodig hê.”

Ek wou al Vrydagoggend vroeg in die pad val, want die buurland is ver. Skielik is ek effe rigtingloos.

My hart sê vir my ek moet die hele geryery net los.

Saterdag vertel die polisiekantoor se bevelvoerder die reëls het verander, so daar moet nuwe veranderings gemaak word. “Ek kan nie ’n permit issue nie. Ons wag vir duidelikheid.”

Ek is heel geconfuse.

Jy betaal en wag in spanning vir jou Covid-toets uitslae. ’n Negatiewe uitslag beteken jy mag jou paspoort maar afstof en voortgaan met jou vakansieplanne.

Jou kop sê vir jou dit gaan nie werk nie. Die pad is lank en boonop kan jy nie vertrek wanneer jy wil nie, want Covid se inperkingsmaatreëls verhoed jou om so te maak.

Jy mag net tussen vieruur in die vroeë oggendure en voor tienuur snags beweeg.

Die Covid-uitslag kom Saterdag per SMS en dis negatief. Ek is in twee geskeur: “Moet ek gaan, of moet ek bly?”

Na ’n gewik en geweeg maak ek die tenk vol en vat die pad teen die middaguur. Soos ek nader aan die padblokkade by Okahandja kom, klop my hart in my keel.

“Waantoe gaan jy?”

“Suid-Afrika toe,” sê ek en druk my negatiewe Covid-toetsuitslag in die soldaat aan diens se hand. Hy kyk lank en intensief daarna.

“Proceed.”

Voor Windhoek, ná Windhoek en duskant Rehoboth herhaal ek dieselfde proses en sug van verligting. Al die gestres was verniet.

Teen tienuur is ek deur die Namibiese grenspos op Ariamsvlei en ek druk vir die Suid-Afrikaanse kant.

“Jy sal hier moet slaap, want die klokreël verbied jou om na 22:00 te beweeg,” verduidelik die beampte vir my.

Toe ek my kop op die agterste sitplek van die Polo Vivo neerlê, worry ek nie meer nie. “Amper daar,” sê ek vir myself voor my oë toeval.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer