Moet nie moeite meet nie
Moet nie moeite meet nie

Moet nie moeite meet nie

Yochanaan Coetzee
Yochanaan Coetzee - Vanjaar vier NMH en die toerismebedryf die 20ste jaar van die Namibië Tourisme Ekspo.

In die kort tydjie sedert ek by die maatskappy werksaam is, het ek gesien hoe verbeelding en ongelooflik baie moeite wonderwerke 'n werklikheid kan maak.

Ondanks seer voete en 'n hunkering na wanneer jy weer 'n behoorlike nagrus sal kan inkry, is die beloning van 'n bakgat bymekaarkoms elke minuut van die afgelope maande se moeite werd.

Ek het altyd geglo 'n mens moet alles wat jy doen voluit aanpak, volhard en die regverdige aandeel moeite insit.

Die onbeskryflike harde werk wat ek die afgelope tyd gesien het, was niks minder as ongelooflik nie.

Duisende ure van beplanning en insette deur 'n reusegroep mense was nodig om hierdie twee dekades van deurbraak in die toerismebedryf te vier.

Dit sluit in die huidige "ekspo-argitek", met sy goue hart, groot planne en nog groter drome, en sy vroulike regterhand - wat altyd 'n dame bly deur vele dae vol ongelooflike druk.

Dan is daar die boffins wat duisende meters drade deur donker, stowwerige dakke moes trek sodat ons aanlyn kan kom.

Die Namibia Media Events-span, bestaande uit drie dapper dames, het die afgelope maande 'n magdom werk gedoen om heirdie week te laat gebeur, maar deur dik en dun het hierdie ystervrouens altyd 'n glimlag op hul gesigte.

Ons ontwerpers het dag en nag gewerk om al die gidse en ons spogpublikasies te voltooi, buiten vir hul daaglikse werk om die inhoud en advertensies in die groep te koerante te ontwerp.

En dit is nie net die NMH-span wat by die skougronde hier in Windhoek skitter nie. Daar is talle hande wat konstant besig bly.

As dit nie DB Audio se spanne is wat spogstalletjies voor jou oë opslaan nie, dan is dit die betroubare en jolige manne van Jaylo wat ons help om ons beelde en menings met ons gaste te deel.

Die inrigters ("shopfitters" as jy nie die Afrikaans ken nie) werk sonder einde en omskep 'n saal in grepe uit ons fassinerende land se hele lengte en breedte.

Dan is daar die skare skoonmakers en die spanne veiligheidswagte, wat vol vriendelikhied en hulpvaardigheid oor die hele perseel waak.

Hierdie kombinasie van moeite, mannekrag, vrouekrag en verbeelding, maak vir 'n magiese byeenkoms.

Al waarvoor ons wag, is vir die hekke om oop te swaai en vir ons gaste om in te waai.

Alhoewel ek en my kollegas, alle deelnemers en verskaffers van ondersteuningsdienste weet dit gaan 'n bedrywige vyf dae wees, weet ons ook dat die druk soms die beste uit ons bring.

Dis waarom dit vir my voel dat ons 'n kultuur ontwikkel het waarin die proses belangrik is. Maar omdat ons so gefokus is op die eindresultaat, meet ons nie al die emmers sweet en die ure se inspanning wat dit als verg nie.

Hierdie kultuur en trots op ons land is vir my indrukwekkend.

Vroeër vanjaar tydens ons begrotingsdekking was ek, ons grootindoena en 'n ander kollega nog besig om mekaar agter in die saal met nog 'n uitdagende, maar baie inspirerende regstreekse uitsending geluk te wens, toe die volkslied skielik begin speel. Sonder om 'n sekonde verby te laat gaan, het ons al drie dadelik op aandag gespring om saam te sing.

In sulke omblikke besef ek dat ek by die regte span is. En dit veroorsaak dat ek, soos die meeste van my kollegas, nie die moeite meet wat ons insit nie.

As u in Windhoek is, maak 'n punt daarvan om saam te kom kuier en almal se moeite te ervaar.

As u nie in die hoofstad is nie, sluit gerus op Facebook by ons uitsendings aan om deel te wees van al die aksie en pret.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!