Moetie beplan glo coup du2019u00e9tat in BA
Moetie beplan glo coup du2019u00e9tat in BA

Moetie beplan glo coup d’état in BA

Daar is allesbehalwe eensgesindheid oor verskeie partye se planne om ’n plaasvervanger vir die Namibië Premierliga op die been te bring.
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Die rimpeleffek van die verlammende struwelinge binne die Namibiese Sokkervereniging (NFA) is besig om nie net sokker nie, maar ook Black Africa-sokkerklub (BA), Namibië se mees suksesvolle premierligaklub, binne te dring.

Met mnr. Ranga Haikali, president van die NFA, in beheer van die land se sokker, het sokkergeesdriftiges en veral premierligaspelers gebid dat gesonde verstand hopelik sal seëvier.

Maar helaas, die beheerliggaam het die Namibië Premierliga (NPL), die land se topliga, op 18 Julie finaal die trekpas gegee. Die premierliga is sedert laasjaar as lid van die sokkervereniging weens beweerde wangedrag geskors en kon nie die 2019-2020-seisoen afskop nie.

Dié gewilde kompetisie wat vir die afgelope jare deur MTC geborg was, het nie net vir vermaak vir ondersteuners van die verskeie klubs gesorg nie, maar ook vir spelers en hul gesinne brood op die tafel geplaas.

Met die laaste premierligaseisoen (2019-2020) wat einde Mei 2020 moes klaarmaak, het die NPL sy MTC-borgskap verloor, want die kontrak was net vir drie jaar geldig. Die leierskap van die premierliga het egter nie op hulle laat wag nie en het hul eie planne vir ’n nuut gevormde professionele liga aangekondig.

Die 16 premierligaklubs wat steeds lede van die NPL is, is deur die NFA tot 23 Augustus tyd gegee om by die NFA vir sy nuwe topvlakliga te registreer. Black Africa, asook Blue Waters van Walvisbaai, het hulle egter by die NPL geskaar en het nie op die NFA se versoek gereageer nie. Tans is dit nog onduidelik wat die ander 14 klubs se planne is.

Mnr. Cassius Moetie, ’n voormalige lid van Black Africa se uitvoerende komitee, is egter nie tevrede met BA se planne om hom by die NPL te skaar nie. Moetie het Vrydag in ’n mediaverklaring gesê hy en nog 51 bekommerde BA-ondersteuners sou gister om 15:00 by die Emmanuel Shifidi Hoërskool in Katutura ’n vergadering hou om oor BA se toekoms te besluit.

Moetie, wat geen magte het om namens BA op te tree nie, het egter gisteroggend besluit om nie met die vergadering voort te gaan nie.

“Goeie môre. Ek dink ons moet vandag se vergadering tot die einde van die maand uitstel. Ek het ’n e-pos aan die sekretaris-generaal (Franco Cosmos van die NFA) gestuur waarin ek gevra het hulle (die NFA) moet die sperdatum van 23 Augustus uitstel sodat ‘BA’ ’n bietjie meer tyd het om sy sake in orde te kry.

“Ons span is deur beginsellose elemente (BA-uitvoerende komitee) gekaap en gesteel en aan iemand twyfelagtig verkoop (die NPL) wat ’n rebelle-liga tot stand gebring het. Hulle (BA-komitee) het geen opregte belang by BA nie.

“Ons versoek aan die NFA om die sperdatum van 23 Augustus uit te stel, is goedgekeur. Ek dink nie ons sal vandag (gister) vergader nie. Ons moet die tyd tydens die nuwe grendelregulasies gebruik om ons planne en strategie vir ons volgende stappe reg te kry.

“Ons moet ’n volwaardige vergadering hê waar meer as tien mense teenwoordig kan wees. Hopelik sal die president nuwe inperkingsmaatreëls op 28 Augustus aankondig. Hoop julle vind dit in orde. Sharp, sharp, Cassius,” het Moetie geskryf.

Volgens die rebellegroep se verklaring het die BA-bestuur geen mag of mandaat om besluite te neem wat BA-spelers of die klub kan skaad nie. Moetie en kie sê besluite lê gelukkig of ongelukkig by die magte van elke BA-ondersteuner.

BA se uitvoerende komitee van Browny Mutrifa (voorsitter), Lakka Goagoseb (ondervoorsitter), Rebekka Goagoses, Doris Lamperth en Boni Paulino het BA-ondersteuners landwyd teen Moetie en kie se planne gewaarsku. Dié uitvoerende komitee distansieer hom van die rebellegroep en keur nie die vergadering goed nie.

Die BA-bestuur het skriftelik aan Nampa gesê: “Ons vra BA-ondersteuners landwyd om versigtig te wees vir ’n desperate poging van sekere mense wat BA se reputasie vir hul eie persoonlike gewin wil skaad.”

Volgens Nampa het Blue Waters ’n brief aan die Namibiese Sportkommissie gerig waarin hy hom ook by die NPL skaar. Blue Waters waarsku die Sportkommissie om nie enige skrywe van ene Vilho Tostao te aanvaar nie, maar slegs van dié klub se uitvoerende komitee. Die brief aan die Sportkommissie is deur Knowledge Iipinge, Abraham Hangula, Albertus Shitatu en Armando Satchlpia van Blue Waters onderteken.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!