Moets en moenies vir Erongo
Moets en moenies vir Erongo

Moets en moenies vir Erongo

Denver Kisting
Denver Kisting – Alle skole, hoëronderwys- en ander opvoedkundige instellings in die plaaslike owerhede van Walvisbaai, Swakopmund en Arandis bly tot middernag op 3 Augustus toe.

Die instellings wat opvoeding aan graad 0 tot graad 3 in die res van die Erongostreek verskaf mag sedert gister (7 Julie) onderrig van aangesig tot aangesig hervat.

Instellings gemoeid met die opvoeding van graad 7’s en graad 9’s heropen op 20 Julie, terwyl leerlinge in graad 4, 5, 6, 8 en 10 op 3 Augustus terugkeer skool toe.

So lui die proklamasie wat die noodtoestandregulasies vir die Erongostreek uiteensit en Maandag deur pres. Hage Geingob onderteken is.

Dié regulasies is sedert gister van krag.

Alle hoofde van opvoedkundige instellings moet sorg dat enigiemand wat hul persele betree aan die gesondheidsvereistes voldoen om die verspreiding van Covid-19 te beveg, te voorkom en te onderdruk.

Maskers bly verpligtend

Enigiemand wat hom of haar in ’n openbare ruimte bevind, moet ’n masker dra wat hulle mond én neus bedek.

Die dra van ’n deursigtige gesigskerm is toelaatbaar mits ’n masker óók gedra word, lui die regulasies.

Wat Walvisbaai, Swakopmund en Arandis betref, mag saamtrekke uit nie meer as tien mense bestaan nie.

’n Perk van 50 mense geld vir die res van die Erongostreek.

Diegene wat ’n saamtrek reël, moet die besonderhede van die gaste in ’n register aanteken.

Sodanige persone moet ook die inligting vertroulik hanteer.

Alkohol mag verkoop en gekoop word mits dit tussen 12:00 en 18:00 op Maandae tot Vrydae geskied en tussen 09:00 en 13:00 op Saterdae.

Die verkoop en koop van alkohol mag nie op Sondae en openbare vakansiedae gebeur nie.

Restaurante en hotelle mag kragtens hul dranklisensies alkohol verkoop en bedien.

Kontaksport, insluitend rugby, boks, sokker, oosterse gevegkuns en stoei, is tans verbode.

Dieselfde geld vir casino’s, dobbelhuise en nagklubs.

Mits daar gehoor gegee word aan die maksimum aantal mense mag niekontaksport, vermaakgeleenthede en konserte en seminaars, konferensies en slypskole wel plaasvind.

Onderworpe aan reëlings tussen die werkgewer en die werknemer word hoofde van instellings aangemoedig om kwesbare werknemers toe te laat om van die huis af te werk.

Werkgewers word eweneens aangemoedig om werknemers van gesigmaskers te voorsien.

Werkgewers moet ook toesien dat almal wat die werkpersele betree aan alle gesondheidsvereistes voldoen om die pandemie te probeer hokslaan.

Tot 3 Augustus mag niemand die drie plaaslike owerhede binnegaan of verlaat nie, behalwe diegene wat kritieke dienste of goedere lewer of weens ’n mediese noodgeval.

Reis beperk

Net polisielede mag permitte toestaan vir beweging in en uit die drie beperkte areas.

Die mediese behandeling moenie redelikerwys elders verleen of uitgestel kan word nie, lui die regulasies.

Die regulasies bemagtig die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, om ná beraadslaging met mnr. Ben Nangombe, die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, verdere voorskrifte oor permitte aan polisiebeamptes uit te vaardig.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het Maandag by Staatshuis gesê ofskoon Hentiesbaai deel is van die Arandis-kiesafdeling vorm dié kusdorp nie deel van die plaaslike owerheid van Arandis nie en is derhalwe nie ’n beperkte area nie.

Openbare vervoer teen vergoeding is tans verbode.

Enigiemand wat die regulasies verontagsaam, word deur ’n boete van N$2 000 en/of ses maande se gevangenisstraf in die gesig gestaar. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer