Moffie - die film waarvan almal praat!

Lloyd Zandberg
Die amptelike Suid-Afrikaanse lokprent van die bekroonde regisseur Oliver Hermanus se nuwe rolprent, Moffie, is onlangs vrygestel midde die fliek se voortgesette veldtog op die internasionale feeskringloop.

Moffie maak op 13 Maart vanjaar sy debuut op die grootskerm, maar dit is reeds by verskeie rolprentfeeste oor die wêreld vertoon. Hieronder tel die Venesië-filmfees in September verlede jaar.

Die storie van ’n jong dienspligtige wat die alledaagse wreedheid van die weermag in die 1980’s tydens apartheid in Suid-Afrika probeer oorleef, het reeds gehore oor die wêreld heen oorgehaal.

Vertonings in Londen, Stockholm en Glasgow verlede jaar het vinnig uitverkoop, en die fliek is deur resensente geloof.

Die nuwe lokprent gee met ’n gestroopte herskepping van Rodriguez se “Sugar Man” die toon aan vir “Oliver Hermanus se meesterstuk,” soos Variety dit bestempel het. Hermanus het op die nippertjie besluit om die regte vir die liedjie te bekom en in die fliek te gebruik. Met slegs 10 dae oor voordat die fliek moes klaar, het Hermanus na die musiekvervaardiger Ben Ludik uitgereik.

Hy het vir Ludik gevra om die liedjie met ’n vrouestem in iets nuuts te omskep, wat hy dan as ’n onuitwisbare lied aan die einde van die fliek kon gebruik.

“Elke vervaardiger droom daarvan om gevra te word om ’n ikoniese liedjie in iets nuuts te omskep,” sê Ludik.

Ludik het onder meer die klankbaan vir een van Hermanus se ander flieks, Skoonheid/Beauty, behartig.

“Ek glo Oliver het besluit om “Sugar Man” in Moffie in te sluit omdat dit ’n lied oor ’n hunkering na ontsnapping is” – soortgelyk aan die fliek se hoofkarakter, Nicholas (Kai Luke Brümmer) se ervaring.

“Die liedjie het ’n spesiale stem nodig gehad om daardie broosheid en hunkering weer te gee.”

Om dít te bewerkstelling, het Ludik die sanger Rebekah Thompson se ryk alt-stem ingespan.

“Ek is so opgewonde om die nuwe lokprent met die Suid-Afrikaanse gehoor te deel,” sê Hermanus.

“Dit was so ’n ongelooflike geleentheid om Rodriguez se “Sugar Man” in te sluit.

Ben Ludik se verwerking vir die lokprent is die kersie op die koek. Ek is gek oor wat hy met die liedjie gedoen het en ek hoop gehore sal opdaag om die ongelooflike werk te ervaar wat deur ’n groep briljante Suid-Afrikaners – akteurs, ontwerpers, fotograwe, komponiste, vervaardigers en produksiespan – gemaak is. Ons nuwe lokprent is ’n eerbetoon aan Suid-Afrikaanse rolprentteaters en filmmakers wat die wêreldmark aanvat.”

Moffie is gegrond op die gelyknamige memoir deur André-Carl van der Merwe, en vervaardig deur Eric Abraham en Jack Sidey, met medevervaardiging deur Theresa Ryan-van Graan.

“As ’n vrou en ’n ma is ek diep aangeraak en baie trots om deel van die rolprent te wees,” sê Ryan-van Graan. “Ek kan my nie indink hoe dit moes wees om jou seun oorlog toe te stuur nie, of om te vrees vir sy oorlewing in ’n omgewing waar seuns vervolg en afgepers is as hulle op enige manier anders was.”

Moffie is deur Portobello Productions en Penzance Films vervaardig en is vroeg in Januarie by die Palm Springs-filmfees in Amerika bekend gestel. Die fliek sal ook oor die volgende drie maande in Noorweë, Skotland, Ierland en Mexiko bekend gestel word.

Moffie se rolverdeling sluit Kai Luke Brümmer, Hitlon Pelser, Matthew Vey, Stefan Vermaak en Ryan de Villliers in.

Moffie begin op 13 Maart vanjaar in Suid-Afrikaanse rolprentteaters draai. Namibiese datums is nog nie in die stadium bekend nie. Hou Kollig dop vir verdere inligting.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!