Molefe het Guptas gehelp u2013 Ramatlhodi
Molefe het Guptas gehelp u2013 Ramatlhodi

Molefe het Guptas gehelp – Ramatlhodi

Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister van minerale bronne, beweer Brian Molefe, uitvoerende hoof van Eskom, en Ben Ngubane, voorsitter van Eskom se raad, het druk op hom geplaas om die Guptas te help om beheer van Glencore se steenkoolmyn in 2016 oor te neem.

Ramatlhodi sê hy het in 2015 op aandrang van die voorsitter met Molefe en Ngubane vergader, berig AmaBhungane.

“Hulle het na bewering in die vergadering daarop aangedring dat hy al Glencore se mynlisensies in Suid-Afrika opskort tot ’n boete van R2,17 miljard betaal is,” berig AmaBhungane.

“Ek het gesê ek gaan nie die myne toemaak nie,” het Ramatlhodi aan AmaBhungane gesê.

Hy was bekommerd dat as 14 steenkoolmyne gesluit word dit nog meer druk op die beurtkragkrisis sou plaas.

Pres. Jacob Zuma het hom kort daarna uit die pos as minister van minerale bronne onthef en in 2015 na openbare dienste en administrasie geskuif. Zuma het hom in Maart saam met Pravin Gordhan, die voormalige minister van finansies, uit die kabinet gelaat.

Ramatlhodi is deur Mosebenzi Zwane vervang wat na bewering noue bande met die Guptas het. Hy het glo ook met Ivan Glasenberg, uitvoerende hoof van Glencore, in Zürich vergader om die verkoop van die myn aan Tegeta te bespreek.

Khulani Qoma, woordvoerder van Eskom, het Dinsdag die tydsberekening van die bewerings bevraagteken.

“Hy maak ernstige bewerings, maar dit is by die tydsberekening waar die probleem kom. As dit ’n vraag oor moraliteit is hoekom moes hy ’n spesifieke tyd kies? Dit is gemaklik vir hom om nou daarmee uit te kom.”

Die kwessie van Tegeta se verkryging van die Optimum-myn is die onderwerp van die openbare beskermer se verslag oor staatskaping, wat Zuma beveel om met ’n geregtelike ondersoek te begin.

Qoma sê Eskom is desperaat om ’n “manier te vind om hierdie persepsies te hanteer – hulle is baie negatief oor ons.

“Die verslag oor staatskaping skryf voor hoe hierdie kwessies afgehandel moet word. Dit praat van regstellende aksie, maar dit is onder oorsig geneem,” sê hy.

“Mens moet wag dat die proses afgehandel word. Eskom kan nie ’n gevolgtrekking maak nie.”

Molefe het in November 2016 bedank om sy naam in ere te herstel aangesien daar gesê is dat hy by die Guptas betrokke was toe die transaksie plaasgevind het en in die belang van goeie bestuur.

Hy het Maandag teruggekeer as hoof van Eskom ná ’n geskil oor sy pensioenbetaling van R30 miljoen. - Netwerk24/Fin24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer