Monetêre beleid raak onsinnig
Weinig, indien enige, ekonome sal ontken dat hoër groei en werkskepping tans die buurland se hoogste ekonomiese prioriteite is.
Roelof Botha
Die Suid-Afrikaanse ekonomie krimp in die derde kwartaal. Inflasie is op sy laagste vlak in meer as ’n dekade. Die vervaardigingswese se uitset krimp al vyf opeenvolgende maande, en Suid-Afrika vervaardig in Oktober 2019 minder as in dieselfde maand vyf jaar gelede.
Die land se bevolking het egter sedert 2014 met byna 4 miljoen mense toegeneem, terwyl werkloosheid met byna 2 miljoen mense toegeneem het.
Kleinhandelverkope was in Oktober vanjaar min of meer dieselfde as ’n jaar gelede.
Teen dié agtergrond is dit voorspelbaar dat vraaginflasie geheel en al afwesig is, iets waarvoor ’n verdere bewys in die hoë vlak van onbenutte produksiekapasiteit in vervaardiging gevind kan word.
Ten spyte van dié en ook ’n hele rits ander negatiewe ekonomiese aanwysers, verseg die monetêre beleidskomitee (MBK) van die Reserwebank om rentekoerse te verlaag.
Tydens die November-vergadering van die MBK het twee van die vyf lede volgens berigte ’n verlaging van die sogenaamde repokoers met 25 basispunte ondersteun (’n kwart van ’n persentasiepunt), maar die ander drie het daarteen gestem.
Hiermee het die MBK ondubbelsinnig verklaar dat hy die kluts kwyt geraak het. Bykans elke sentrale bank in die wêreld het in onlangse maande rentekoerse verlaag, meesal as ’n logiese reaksie op swakker ekonomiese groei. Maar nee, in Suid-Afrika doen die Reserwebank niks om die sikliese daalfase teen te werk nie.
Tans is die reële primakoers net bokant 6%. Tydens die ampstermyn van die vorige president van die Reserwebank, Gill Marcus, het die reële primakoers gemiddeld ’n vlak van sowat 3% gehandhaaf en het die ekonomie teen meer as 2,5% per jaar gegroei (in reële terme).
EKONOMIESE MALLIGHEID
Die koste van kapitaal het nou met meer as 100% toegeneem – ekonomiese malligheid, om dit sagkens te stel (’n studie deur navorsers aan drie verskillende universiteite word eersdaags van stapel gestuur om die skade te bereken wat onnodige hoë rentekoerse aan die ekonomie berokken het).
Verder is die reële koste van kapitaal in Suid-Afrika tans sowat 2,5 persentasiepunte hoër as die gemiddeld van ons handelsvennote.
Die tyd vir bespiegel oor ’n moontlike verlaging van die repokoers van 25 basispunte is verby – die land kort dringend ’n groeigerigte benadering jeens monetêre beleid, wat deur wesenlik laer rentekoerse ondersteun moet word.
Pres. Cyril Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies, kan seker hul hare uit die kop trek van pure frustrasie oor die MBK se skynbare obsessie met die behaling van uiters lae inflasie, aangesien dit die regering se nuwe verbintenis tot ekonomiese groei en werkskepping in die wiele ry.
Indien die repokoers met 200 basispunte verlaag word en die paaiemente op die skuld van slegs 50% van individue en ondernemings dienooreenkomstig aangepas word, ontsluit dit meer as R3 miljard se verbruiksbesteding en kapitaalvorming per maand, en word positiewe ekonomiese groei gewaarborg.
Weinig, indien enige, ekonome sal ontken dat hoër groei en werkskepping tans die land se hoogste ekonomiese prioriteite is. Nuwe investering in produksievermoë, insluitende infrastruktuur, is een van die spilpunte waarom Ramaphosa se plan vir die stimulering en herstel van die Suid-Afrikaanse ekonomie draai.
Dit is hoog tyd dat die MBK hiervan kennis neem, die realiteite van die ekonomie in oënskou neem en Ramaphosa se groeiplan begin ondersteun.
· Dr. Botha is ekonomiese raadgewer van die Optimum Beleggingsgroep. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie