Moodyu2019s gradeer Mangaung 3 kerwe af
Moodyu2019s gradeer Mangaung 3 kerwe af

Moody’s gradeer Mangaung 3 kerwe af

Nellie Brand-Jonker – Die internasionale kredietgradeerder het die Mangaung- metropolitaanse munisipaliteit, waaronder Bloemfontein val, met drie kerwe afgegradeer nadat hy banke vir uitstel moes vra om lenings terug te betaal.

Munisipaliteite reik ook skuldbriewe in die skuldmark uit aan onder meer beleggingsfondse en aftreefondse om geld vir projekte in te samel.

Mangaungit bestaan uit die munisipaliteite van Bloemfontein; Botshabelo; Thaba Nchu; Dewetsdorp; Wepener; Van Stadensrus en Soutpan, toon sy webtuiste.

Die gradering wat vergelykbaar is met ander internasionale skulduitreikers is van Ba3 tot B3 afgradeer.

Dit volg nadat die metropool reeds begin Mei een vlak afgegradeer is. Toe was sy kredietgradering reeds drie vlakke onder beleggingsgraad.

Die vooruitsig op die gradering is boonop negatief.

Terselfdertyd het Moody’s die nasionale gradering op die skuldbriewe van Baa1 tot B1 verlaag.

Die afgradering is die uiteinde van die hersiening van die gradering wat 2 Mei begin het.

Kontant droog op

“Die afgradering van drie kerwe weerspieël die swak en vinnige agteruitgang van die munisipaliteit se likiditeit, wat gelei het daartoe dat hy onlangs in gebreke gebly het om bankskuld betyds terug te betaal. Dit dui op ’n hoë waarskynlikheid van ’n wanbetaling in die toekoms,” het Daniel Mazibuko, ’n assosiaat-hoofontleder van Moody’s Investors Service South Africa, in ’n verklaring gesê.

Die probleme met sy kontantvloei het ontstaan weens ’n kombinasie van swak bestuur – wat die probleme om skuld in te vorder vererger het – en die lae doeltreffendheid van die sentrale regering se herstelplan.

“Die omvang van die afgradering weerspieël Moody’s se vorige verwagting dat doeltreffender kommunikasie tussen Mangaung en die sentrale regering sou plaasvind om die probleme met invordering te takel en addisionele ondersteuning te kry indien nodig. Dit het nie gerealiseer nie.”

Die voorlopige resultate vir 2019 toon dat Mangaung se kontant tot R131 miljoen van R289 miljoen in die vorige jaar gedaal het.

Vra banke vir uitstel

Dit het die munisipaliteit aangespoor om uitstel te vra om sekere van sy finansiële verpligtings na te kom.

“Mangaung se administrasie het uitstel van sewe dae gevra van banke vir die terugbetaling van sy lenings op die sperdatum van 30 Junie.”

Verbruikers se agterstallige betaling aan Mangaung het van R1,3 miljard tot R2,8 miljard verhoog, toon die voorlopige resultate.

Moody’s meen die finansiële herstelplan wat die munisipaliteit saam met die sentrale regering ontwikkel het in Julie 2018, was tot dusver nie suksesvol nie.

Die munisipaliteit het ’n omvattende ontleding gedoen van die handelaars en staatsdepartemente wat hom nog geld skuld, maar net R192 miljoen van die ou skuld is van Julie 2018 tot Mei 2019 van staatsdepartemente ingesamel.

Einde Junie vanjaar het die gesamentlike skuld aan die stad R4,1 miljard beloop – die sakesektor en die regering skuld 36% daarvan, terwyl inwoners en ander skuldenaars die res skuld.

Moody’s meen die ondoeltreffende insameling van agterstallige skuld toon die stad se swak bestuur en bestuurspraktyke.

Die munisipaliteit het nog nie die veranderinge in werking gestel wat die nasionale tesourie aanbeveel het vir sy 2019-begroting nie.

Die negatiewe vooruitsig hou verband met die onsekerheid of Mangaung sy finansiële vertoning en likiditeit in die komende 12 tot 18 maande sal verbeter. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!