Moody’s: SA het min beweegruimte
Die kredietgradeerder se hoofontleder vir die buurland sê die fiskale agteruitgang is erger as wat verwag is.
Hanlie Stadler – Dit gaan vir die regering baie moeilik wees om sy gordel stywer te trek, veral indien ekonomiese groei swak bly.
In die tweede verklaring in soveel dae, het Moody’s Investors Service Donderdag kommer uitgespreek oor die gebrek aan beweegruimte wat duidelik blyk in die staat se nuwe begroting.
Lucie Villa, die kredietgradeerder se hoofontleder vir Suid-Afrika, sê die fiskale agteruitgang is erger as wat verwag is.
Moody’s is die enigste kredietgradeerder wat Suid-Afrika nog op beleggingsgraad gradeer. Standard & Poor’s Global Ratings en Fitch Ratings het nog nie op Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede gereageer nie.
Villa sê Eskom bly die grootste risiko van die land en verswak Suid-Afrika se fiskale krag.
Villa beskryf dit as “buitengewoon” dat die regering sy bestedingsplafon met R14 miljard verhoog het vir die huidige boekjaar, en met nog R1 miljard in 2020 en 2021.
Villa het darem een stukkie positiewe kommentaar waarin die land oënskynlik die voordeel van die twyfel gegee word: “Gegewe Suid-Afrika se lang prestasiegeskiedenis dat hy by sy bestedingsraamwerk hou, en gegewe die deursigtigheid oor die hersiening (van die bestedingsplafon), reken ons nie die verhoogde limiet sal die geloofwaardigheid van fiskale beleid verswak nie.”
Die begrotingstekort van 4,5% van die bruto binnelandse produk (BBP) vir die 2019-boekjaar – teenoor die 4,2% wat in die mediumtermynbegrotingsraamwerk van Oktober verwag is – is die hoogste sedert 2009. Skuldvlakke gaan nou ook tot meer as 60% van die BBP styg.
Villa sê die nuutste vooruitskattings aanvaar betreklik lae vlakke van belasting-veerkragtigheid. Dit is ’n maatstaf van die verhouding tussen belastinginvordering en ekonomiese groei. ’n Getal bo een beteken die staat se inkomste groei vinniger as die ekonomie en omgekeerd.
Die staat raam ná sy nuwe belastingmaatreëls dat belasting-veerkragtigheid bo een gaan wees. Vir 2019 word dit op 1,31 geraam, vir 2020 op 1,17 en vir 2021 op 1,08.
Dit is teenoor die werklike syfer van 0,98 in 2018. Die hoogste syfer die afgelope paar jaar was die 1,27 van 2015.
Moody’s verwag dat kostebesparing by Eskom eers ná die algemene verkiesing in Mei sal plaasvind. Intussen heers groot onsekerheid oor die finansiële uitwerking van die ontknoping van Eskom in drie eenhede.
Baie ontleders was dit die afgelope paar dae eens dat Mboweni nie genoeg gedoen het om Moody’s te paai nie.
Die meeste verwag dat Moody’s einde Maart sy vooruitsig vir Suid-Afrika se kredietgradering van stabiel na negatief gaan verander. Tensy ’n wonderwerk gebeur, word ’n volslae afgradering tot rommelstatus in November verwag.
Nazmeera Moola, adjunk- besturende direkteur van Investec Batebestuur, sê: “Hoewel die nasionale tesourie gesê het hy het voor die begroting met die graderingsagentskappe gepraat oor Eskom, glo ons dat ’n veel meer geloofwaardige plan oor sy ommekeer binne weke nodig is om te keer dat Moody’s sy vooruitsig op Suid-Afrika se staatskuld na negatief verander.”
Intussen het die Suid-Afrikaanse Reserwebank al ’n strestoets op banke gedoen vir ’n scenario waar Moody’s die land tot rommelstatus afgradeer.
Die bankstelsel het genoeg kapitaal om dit te oorleef, al groei die Suid-Afrikaanse ekonomie vyf jaar lank swak, het Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, Woensdag op die mediakonferensie voor Woensdag se begrotingsrede gesê.
Die eerste wat sal gebeur ná ’n afgradering deur Moody’s is dat Suid-Afrika uit die Wêreldstaatseffekteindeks sal val, en dit sal die koste van kapitaal opjaag, “want tot 38% van ons rand-gedenomineerde effekte word deur buitelanders besit”, volgens Kganyago. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie