Moody's se (slegte) nuus kom binne weke
Moody's se (slegte) nuus kom binne weke

Moody's se (slegte) nuus kom binne weke

Die kans is baie goed dat Moody's Investors Service, die laaste kredietgradeerder wat nog nie vanjaar sy oordeel oor Suid-Afrika gevel het nie, die land se staatskuld binne weke sal afgradeer.
Peter Attard Montalto, ontleder van die beleggingsbank Nomura, sê hy het vantevore die risiko “onderspeel”, maar glo nou dat Moody's wel die land met een trappie sal afgradeer, en dít sonder 'n nuwe besoek aan die land.

Die afgradering gaan na verwagting net een vlak wees vir sowel Suid-Afrika se staatskuld in rand as in buitelandse geldeenhede (pond en dollar). Omdat Moody's die land nog op die tweede laagste beleggingsgraad het, sal 'n gradering met een vlak nie by dié gradeerder die gevreesde rommelstatus meebring nie.



Afgradering ­grootliks ingeprys

Montalto reken die afgradering is reeds grootliks in die rand ingeprys, hoewel daar dalk 'n korttermynskommeling kan wees as Moody's se tydsberekening mense onkant vang.

Standard & Poor's Global Ratings (S&P) het Suid-Afrika se buitelandse skuld in April tot rommelstatus afgegradeer. S&P het ook randskuld afgegradeer, maar dit is nog een vlak bo niebeleggingsgraad.

Fitch Ratings het ook in April die land se staat­skuld (alle geldeenhede) afgegradeer tot net een vlak bo rommelstatus.

Dié twee afgraderings binne vyf dae het gekom nadat pres. Jacob Zuma sy kabinet geskommel het – veral omdat hy Pravin Gordhan en Mcebisi Jonas as onderskeidelik minister en adjunkminister van finansies afgedank het.



Aankondiging dalk vervroeg

Montalto sê hulle het vantevore verwag dat Moody's Suid-Afrika einde Mei sou besoek en dan teen middel Junie sy besluit sou aankondig. Die besoek word nou nie meer verwag nie en die aankondiging sal dalk vervroeg word.

Moody's se kalender dui 3 Julie as sy finale datum vir die besluit aan.

Montalto verwag benewens die afgradering dat die vooruitsig vir die gradering negatief sal bly, wat beteken die risiko sal hoog bly dat die land later selfs verder afgegradeer kan word.

S&P en Fitch se vooruitsig is ook negatief.

Montalto verwag dat S&P Suid-Afrika se randskuld vanjaar reeds tot rommel sal afgradeer, maar dalk nie voor sy volgende geskeduleerde besluit op 2 Junie nie. Sy volgende besluit, op 24 November, kom ná Malusi Gigaba se eerste mediumtermyn-begrotingsraamwerk in Oktober. Hy het Gordhan as minister van finansies vervang.

Montalto sê dit was op die Wêreld Ekonomiese Forum se Afrika-beraad in Durban verlede week baie duidelik dat die regering beleggers probeer paai.



Pessimisme

Maatskappyhoofde is egter “baie pessimisties” oor beleggings in Suid-Afrika. Daarteenoor is daar geweldig baie optimisme oor beleggings in die res van Afrika, veral Rwanda, Ethiopië en die Ivoorkus, “waar sakelui en die regering suksesvolle vennootskappe vorm”.

Die verhouding tussen sakelui en die regering in Suid-Afrika word as al hoe meer gespanne beskryf.

Montalto is in dié stadium verrassend optimisties oor Zuma se kabinetskommeling – hy reken dit het eintlik van die verdeling verminder. “Die kabinet kan nou laag lê en met sy dagtaak voortgaan, nie te veel geraas skep deur onnodige hofsake nie en die wetlike proses volg om sleutelbeleid soos kernkrag deur te voer.”

Hy verwys onder meer na die nuwe minister van energie, Mmamoloko Kubayi, se steun van kernkrag, maar ook die klem wat gelê word op die korrekte proses van openbare deelname.

Eweneens neem Gigaba standpunt in teen die onwettige optrede deur die staatsbeheerde wapenfirma Denel met betrekking tot die Gupta-firma VR Laser.

Fikile Mbalula, nuwe minister van polisie, gaan ook nie appelleer teen die skorsing van Berning Ntlemeza as hoof van die Valke nie.



Leierskonferensie

“Eenvoudig gestel, word die aandag nou herfokus op Desember, eerder as om 'verlore' te raak in die gemors van hofsake en gepaardgaande media-aandag.”

Die ANC hou in Desember sy leierskonferensie.

Nomura reken daar is 'n 60%-kans dat Nkosazana Dlamini-Zuma die nuwe ANC-leier sal word, maar dinge behoort ná die beleidskonferensie (30 Junie tot 5 Julie) duideliker te word.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa se steun het wel die afgelope weke “momentum gekry”, maar Montalto reken hy het nie dieselfde steun nie en sy veldtog het ook nie soveel ­finansiering en adviseurs nie.

Montalto sê dit het ook by die WEF se konferensie in Durban duidelik geword dat die verwydering van Zuma nie meer as 'n wonderkuur vir die ekonomie gesien word nie.

- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!