Moody’s verwag steeds 1,3% vir SA vanjaar
Na verwagting gaan Nigerië teen 2,3% groei vergeleke met die verwagte 1,9% waarteen dié land se ekonomie verlede jaar gegroei het.
Nellie Brand-Jonker
Die internasionale kredietgradeerder Moody’s verwag steeds Suid-Afrika se ekonomie gaan vanjaar teen 1,3% groei.
Dit is onveranderd van sy voorspelling in Oktober.
Hy glo ook steeds, soos in Oktober, dat die ekonomiese groei vir 2018 net 0,5% was. In September verlede jaar het Moody’s nog groei van 1,5% vir 2019 verwag en 0,7% vir 2018 voorspel.
Die kredietgraderingsagentskap sê in ’n nuwe verslag oor die vooruitsigte vir die kredietgraderings van lande in Afrika suid van die Sahara hul staatskuldprobleme kan vererger – weens die toenemende spanning vanweë die internasionale handelsoorlog en taaier likiditeitsvereistes (hoe maklik dit is om finansiering op die internasionale finansiële markte te kry).
Die verslag bevat nie ’n graderingsbesluit nie.
Daniela Re Fraschini, ’n ontleder en skrywer van die verslag, het in ’n verklaring gesê 15 van die 21 lande wat Moody’s gradeer se vooruitsig is stabiel, terwyl ses ’n negatiewe vooruitsig het. Verlede jaar is 20 lande se kredietwaardigheid gradeer en toe het nege ’n negatiewe vooruitsig gehad.
Die vooruitsig vir die streek was toe ook in geheel negatief. Dié vooruitsig ’n jaar gelede het egter te doen gehad met die streek se gedempte en sukkelende herstel in sy ekonomiese groei.
“Ons negatiewe vooruitsig vir lande in Afrika suid van die Sahara word veroorsaak deur hul volgehoue kredietprobleme wat verband hou met hul voortgesette fiskale kwesbaarheid en blootstelling aan eksterne faktore,” sê Re Fraschini.
BBP-GROEI
Volgens haar verwag hulle egter dat die druk op die gradering van staatskuld vergeleke met vorige jare sal afneem, ten spyte van die moeiliker eksterne omgewing.
Moody’s verwag die streek se geleidelike ekonomiese herstel van 2018 gaan vanjaar voortduur met BBP-groei wat tot 3,5% gaan versnel van die verwagte 2,8% vir 2018.
Die streek se twee grootste ekonomieë – Nigerië en Suid-Afrika – gaan na verwagting stadiger herstel en hul groei gaan baie laer wees as die groei wat in die eerste helfte van die dekade behaal is.
Na verwagting gaan Nigerië teen 2,3% groei vergeleke met die verwagte 1,9% waarteen dié land se ekonomie verlede jaar gegroei het.
Re Fraschini sê die meeste regerings in die streek beplan vanjaar verdere fiskale konsolidasie (’n beleid om ’n land se begrotingstekort te laat krimp en skuld te verminder) hoewel die vordering hiermee stadig gaan wees weens sekere lande wat swak groei ervaar.
Sy sê programme van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) in die streek steun die vooruitsigte vir fiskale groei en hervorming in 2019.
Behalwe vir ’n paar uitsonderings verwag Moody’s die verhouding van staatskuld tot BBP van die lande wat gegradeer word, gaan in 2019 net effens verswak of stabiliseer. Re Fraschini sê dit weerspieël die invloed van voortgesette fiskale konsolidasie en die positiewe uitwerking van beter ekonomiese groei.
SKULDVERHOUDINGS
’n Aantal lande bly egter steeds kwesbaar weens hul hoër skuldverhoudings omdat hul ekonomiese groei laer is as verwag, hul wisselkoers verswak het en omdat die skuld van swak staatsondernemings toeneem.
Sy sê die blootstelling aan die taaier internasionale finansieringstoestande verskil van land tot land.
Lande met ’n groot tekort op hul lopende rekening, groot terugbetalings op skuld in die buiteland en wat ’n groot gedeelte van hul staatskuld oorsee uitgereik het, gaan voortgesette eksterne druk ervaar.
Die taaier internasionale finansieringsmark hou verband met die styging in Amerikaanse rentekoerse en die versterking van die dollar. Dit het tot ’n uitvloei van portefeuljekapitaal uit opkomende markte gelei. Die invloed hiervan is veral sleg vir lande wat afhanklik is van eksterne kapitaal omdat hul staatskuld in Amerikaanse dollar in verhouding tot hul BBP baie hoog is.
Enige toename in risikovermyding in die finansiële markte as gevolg van onsekere handelstoestande kan ook tot ’n taaier finansieringsmark lei. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie