Moody's vra ook vrae oor skommeling
S&P het waarskynlik bloot die bal aan die rol gesit vir ander graderingsmaatskappye om opnuut na Suid-Afrika se kredietstatus te kyk.
Elvira Wood en JJ van Wyk - Die graderingsagentskap Moody's Investors Service het laat Maandagaand kennis gegee dat hy Suid-Afrika se kredietstatus op “hersiening vir afgradering” plaas.
Dit impliseer dat hy in Standard & Poor's Global Ratings (S&P) se voetspore gaan volg en die kredietgradering van Suid-Afrika se staatskuld gaan verlaag. S&P het Suid-Afrika se staatskuld in buitelandse geldeenhede Maandagaand tot rommelstatus verlaag en randgedenomineerde skuld tot die vlak net bo rommel.
Moody's het met verwysing na pres. Jacob Zuma se vervanging van onder meer Pravin Gordhan met Malusi Gigaba as minister finansies, gesê “die verandering in leierskap van sleutel-regeringsinstellings laat vrae ontstaan oor hervormings wat noodsaaklik is om Suid-Afrika se fiskale en ekonomiese krag te volhou en kan onmiddellike gevolge inhou vir ekonomiese groei en openbare skuldvlakke.”
Moody's sê hoewel veranderinge in die regering nie noodwendig 'n aanduiding is van Suid-Afrika se kredietgradering nie, die tydsberekening en skuiwe in dié geval wel vrae laat ontstaan het.
Wanneer hy sy gradering heroorweeg, sê Moody's gaan hy die waarskynlikheid van veranderinge in die sleutelgebiede van finansiële en makro-ekonomiese beleidmaking evalueer, asook strategiese strukturele oorwegings soos Suid-Afrika se beleid oor energie.
Moody's sê hoewel daar die afgelope jare baie gedoen is om veral staatsondernemings te hervorm, is daar nog tekortkominge. Hy verwys ook spesifiek na die Mynbouhandves wat steeds nie gefinaliseer is nie, ongeag Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, wat vroeër vanjaar onderneem het om dit teen Maart in die Staatskoerant te publiseer.
“Moody's sal enige aankondiging of moontlike veranderinge in die regering se planne en die gevolge daarvan vir moontlike groei, en dus die omkeer van die stygende skuldlas, oorweeg.”
Die agentskap sê hy sal ook na die gevolge van die onderliggende politieke dinamika wat tot die kabinetskommeling gelei het oorweeg en vasstel wat die impak daarvan op die ekonomie kan wees.
“Moody's beoog om die oorsig te gebruik om te bepaal of die voortgesette spanning binne die ANC die geloofwaardigheid en effektiwiteit van beleidskepping, die effektiwiteit en onafhanklikheid van openbare dienste en eindelik die krag van Suid-Afrika se instellings verswak.”
Moody's is wel positief en sê dit lyk of Suid-Afrika se ekonomie 'n draaipunt bereik het.
Hy sê ná jare wat laer groei voorspel is, het hy groei van meer as 1% in 2017 en bykans 2% in 2018 verwag. Fiskale konsolidasie, insluitende die stabilisering van die skuld tot binnelandse produkmarge het ook verbeter.
Hy waarsku die herstel is broos, en beter groei in die toekoms gaan baie afhang van plaaslike en internasionale beleggers, en dus die vertroue wat beleggers in Suid-Afrika het.
Sou Moody's bevind dat die onlangse gebeure 'n minimale impak op beleid en toekomstige groei gehad het, sê hy sal hy waarskynlik nie sy gradering verander nie.
Moody's gradeer staatskuld in sowel buitelandse geldeenhede as in rand nog twee trappe bo rommelstatus en die vraag is of hy sover as rommel sal afgradeer.
Moody's sal na verwagting Vrydag sy graderingsbesluit bekend maak.
S&P
S&P sê die rede vir sy besluit is dat hy bevind het Zuma se kabinetskommeling het Suid-Afrika se fiskale en groeivooruitsigte in gevaar gestel en reken hy Suid-Afrika se “bykomstige verpligtinge” gaan verhoog.
Wat staatskuld in buitelandse geldeenhede betref, is Suid-Afrika met een vlak tot BB+ afgegradeer. Dit is onder beleggingsgraad.
Staatskuld in rand is ook met een vlak afgegradeer, maar is net-net nog op beleggingsgraad op BBB-.
Die negatiewe vooruitsig word behou.
Dit weerspieël volgens S&P dat politieke risiko vanjaar hoog sal bly en dat beleidskuiwe gemaak sal word, waarskynlik skuiwe wat fiskale en ekonomiese groei sal ondermyn.
Dié gradering is 'n ongewone stap buite die gewone skedule van die kredietgradeerder en hy waarsku dat hy wéér op 2 Junie oor Suid-Afrika se kredietgradering besluit.
Die risiko van 'n afgradering van rand-staatskuld bly dus ook hoog.
Fitch Ratings het staatskuld in sowel rand as buitelandse geldeenhede net bo rommelstatus, met 'n negatiewe vooruitsig. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie