Moody's waarsku Eskom oor omdraaiplan
Die agentskap verwag die kragverskaffer se finansieringskoste sal in die lopende boekjaar weer meer as sy kontantvloei wees.
Francois Williams
Eskom se 2019-resultate beklemtoon hoe onvolhoubaar sy kapitaalstruktuur is en hoe dringend 'n omdraaiplan benodig word, sê die kredietgraderingsagentskap Moody's.
Moody's verwag Eskom se finansieringskoste sal in die lopende boekjaar weer meer wees as sy kontantvloei.
Die agentskap verwag nie dat die R105 miljard wat Eskom tot en met 2021 van die staat gaan ontvang enigiets meer sal uitrig as om sy skuldlas te stabiliseer nie.
Die ekstra geld wat die staat vinniger na Eskom kanaliseer is wel kredietpositief, maar dit het nodig geword sodat Eskom sy status as lopende saak kan behou, het Johanna Fic, senior visepresident van Moody's en die agentskap se leidende ontleder oor Eskom, in 'n verslag gesê wat Dinsdag uitgereik is.
Moody's wys in die navorsingsverslag op Eskom se kontantvloei uit bedrywighede wat R32,7 miljard beloop het, terwyl hy R35,8 miljard aan rente op skuld moes uitgee.
Teen einde Maart het Eskom se bruto skuld gevolglik met 13% tot R441 miljard toegeneem.
Moody's wys op die feit dat Eskom se kragverkope gedaal het weens die impak van die ekonomiese insinking op die mynbousektor wat die groot verbruiker van elektrisiteit in Suid-Afrika is.
Waar Eskom vroeër gespog het dat hy meer elektrisiteit aan buurlande gaan verkoop om te vergoed vir die laer binnelandse verkope, het dié droom nie gerealiseer nie want oorgrens-verkope was ook laer omdat watervlakke by buurlande se hidrokragstasies verbeter het. Hulle het dus nie nodig gehad om soveel elektrisiteit van Eskom te koop as voorheen nie.
SAREC REAGEER
Moody's sê Eskom se primêre energiekoste het met 16,8% tot R99,5 miljard gestyg. Die koste om elektrisiteit van onafhanklike kragprodusente te koop het met R5,6 miljard gegroei. Dit verteenwoordig 4,8% van die kraglewering maar 25% van die primêre energiekoste.
Maar die Suid-Afrikaanse Raad op Hernubare Energie (Sarec) het verwoed gereageer op die bewering dat hul bydrae 25% van Eskom se primêre energiekoste verteenwoordig. Sarec het verduidelik Eskom se eie primêre energiekoste sluit net marginale brandstofkoste in, en nie die aanvanklike en vervangingskapitaalbesteding aan sy kragstasie-vloot nie. Maar die tarief wat Eskom aan die onafhanklike kragprodusente betaal sluit wel dié koste in. Dus word appels nie hier met appels vergelyk nie.
Sarec wys ook daarop dat Eskom ook ander onafhanklike kragprodusente kontrakteer soos diesel- of gaskragstasies en nie net son- en windkragprodusente nie.
Sarec beklemtoon hy dra tegnies nie tot Eskom se primêre energiekoste by nie want die energie van die son en wind is gratis. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie