Mooi karre, warm harte
Mooi karre, warm harte

Mooi karre, warm harte

Lloyd Zandberg
As jy van fancy karre, lekker geselskap en harde musiek hou, lees verder.

Chill for Charity, ‘n liefdadigheidsgeleentheid wat deur BBK Production (Baie Baie Kwaai Production) aangebied word, vind op 30 Junie van 10:00 tot 18:00 by die Bella Vista-winkelsentrum in Khomasdal plaas.

Die sentrum is langs Document Warehouse geleë.

Die hoofdoel van die geleentheid is om fondse en noodsaaklikhede vir haweloses in te samel.

Verskeie kompetisies en aktiwiteite gaan aangebied word, onder meer 'n Eurostance-kompetisie.

Die doel van dié kompetisie is om te besluit watter deelnemer se kar die meeste na ’n Europese kar lyk. Die wenner neem N$1 000 huis toe.

Om jou kar in te skryf, kos N$100.

Platejoggies sal vir harde musiek sorg en karwasgeriewe is ook beskikbaar.

Skenkings soos kos, klere, sanitêre doekies, komberse en kontant word verwelkom.

BBK Productions sal die skenkings na afloop van die geleentheid aan Windhoek se haweloses oorhandig.

"Die samelewing vergeet dikwels daar is mense wat op straat en in bosse woon. Ek wil regtig gee aan dié wat nie so bevoorreg soos ek is nie. My ouers het my altyd geleer om dankbaar te wees vir wat ek het, want nie almal is so gelukkig nie.

“Chill for Charity herinner ons daaraan om dankbaar te wees vir wat ons het en om dit te deel met dié wat niks het nie. Ek is baie opgewonde, want dit is my eerste liefdadigheidsprojek. Ek hoop nie dit is die laaste keer nie, maar eerder die begin van groot dinge," sê Cobie Bok van BBK Production.

Toegang vir ’n dag van musiek, wiele en omgee is gratis.

Indien jy jou eie hookah-pyp wil saamvat, bring ’n ekstra N$10 saam.

Die geleentheid word deur Madam's Catering and Bottle Store Service, Black Label-bier en CoolCat Productions geborg.

Skakel 081 434 7776 of 081 126 1624 vir meer inligting.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer