Moontlike deurbraak
Teen gisteraand was alle aanduidinge 'n moontlike deurbraak is op hande in die dubbele moordsaak op Arandis wat Maandag die land geskud het.
Denver Kisting
Die man wat gisteroggend weens Maandag se bloedbad op Arandis aangekeer is, het glo vir etlike ure geweier om met die polisie saam te werk.
Adj.komm. Edwin Kanguatjivi, die nasionale polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie het 'n man op Karibib – nagenoeg 124 km noordoos van die moordtoneel – aangekeer.
Die man het glo deurgaans verseg om aan die ondervraging van die span onder leiding van adj.komm. Erastus Iikuyu, Erongo se koördineerder van misdaadondersoeke, deel te neem.
Hy het na verneem word op 'n prokureur aangedring.
'n Prokureur het gistermiddag by die man en die ondersoekspan aangesluit, lui Republikein se inligting.
Selfs pres. Hage Geingob het gister nadat hy die staatsrede in die Nasionale Vergadering (NV) gelewer het, gesê hy verneem “'n goed opgeleide mens” is weens die Arandis-moorde aangekeer.
Maar, maan komm. Andreas Nelumbu, die bevelvoerder van die polisie in die Erongostreek, sy span was teen gisteraand nog besig om die man te ondervra.
Hy is in daardie stadium nog nie formeel in hegtenis geneem nie.
Nelumbu het opnuut gevra Namibiërs moet waardevolle inligting met die polisie deel in plaas daarvan om dit op sosialemediaplatforms te deel. “Ek wil nie graag bespiegel nie. Ons hardloop nog rond. Teen môre (vandag) sal ons óf iets konkreets hê óf absoluut niks nie.”
Hy het bevestig hoewel ander mense oor die moorde ondervra is, was net dié man gister in die polisie se visier.
Die man se naam is aan die koerant bekend, maar word weerhou omdat hy nie voor 'n hof gedaag is nie.
In 'n foto wat gister wyd in die sosiale media versprei is, wys die verdagte sy middelvingers vir 'n fotograaf. Dié foto is glo nie gister geneem nie.
Hoofinsp. Kauna Shikwambi, sedert gisteraand die waarnemende hoof van die polisie se skakelafdeling, sê die man is nie Walvisbaai toe vervoer soos aanvanklik berig is nie.
Republikein verneem uit onberispelike oorde die verdagte is glo Maandagoggend op Arandis opgemerk waar hy met 'n OTM-transaksie besig was.
Hy is vantevore met 'n magdom beweerde onwettige wapens en ammunisie verbind.
Mnre. Eckhart Mueller (72) en Heimo Hellwig (60) is Maandagoggend koelbloedig op die Arandis-kampus van die Namibië Instituut van Mynbou en Tegnologie (Nimt) doodgeskiet.
Kanguatjivi sê 'n Tsumeb-inwoner, wat Dinsdagaand ook weens die slagtings ondervra is, is intussen vrygelaat.
Maandagoggend se nuus het skokgolwe deur die land gestuur en selfs Geingob het sy medelye met die naasbestaandes van die ontslape leiers in tegniese opleiding betuig.
Intussen het Mueller se familie bekend gemaak 'n gedenkdiens vir hom word 30 April in Mondesa op Swakopmund gehou terwyl daar later tydens 'n private geleentheid van hom afskeid geneem sal word.
Sy vrou, me. Gudrun Mueller, is sowat drie maande gelede oorlede.
Mnr. Richard Mueller, die Windhoekse prokureur en een van sy seuns, het Maandag gesê sy pa het net die vorige dag (Sondag) uit Kaapstad in Suid-Afrika teruggekeer van suster, ook Gudrun, se begrafnis.
Me. Gudrun Kitshoff is verlede week oorlede.
Hellwig se familie gaan na wat verneem word privaat van hom afskeid neem.
Die Namibiese Vervaardigersvereniging (NMA) het die Arandis-treurspel gister skerp veroordeel en gesê hy verwerp hierdie “lafhartige daad van terreur”.
“Dit het geen plek in 'n beskaafde samelewing soos ons s'n nie,” sê die voorsitter, mnr. Brian Black.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie