Moontlike scenario's van die nuwe normaal
Moontlike scenario's van die nuwe normaal

Moontlike scenario's van die nuwe normaal

Die ekonomie ná grendeltyd
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher



Namate die regulasies inskop wat bedoel is om grendeltyd te optimaliseer, word die reaksies al meer uiteenlopend.

Daar is opstand oor hoe noodleniging toegepas word en die poging van regerings om mikrobestuur toe te pas kry die wind van voor. Enersyds het so 'n bestuursbenadering meriete omdat dit die oningeligtes in bedwang probeer hou, maar omseiling van die drakoniese maatreëls het ander gronde as om dit willens en wetens te oortree. 'n Honger maag kom nie vol met demokratiese besluitneming nie en lang rye kossoekendes sal hulle tot geweld wend as daar nie vinnig uitkoms is nie.

Andersyds probeer die regering die stelsel skoon hou van die gieriges wat skaamteloos op die gifte aan armes teer. Dit vra fyn voetwerk en daar is ongelukkig duidelike bewyse van 'n gebrek aan die nodige vlugvoetigheid. Kyk mens vanuit 'n teoretiese hoek, dui dit op die verskil om dinge reg te doen versus die doen van die regte ding, aldus bestuurskenner Peter Drucker. Duidelike leier­skap is nou ewe nodig as doeltreffende bestuur en dit is dalk waar daar gapings is.

Covid-19 is allesbehalwe uitgewoed en op grond van die jongste en beste data lê daar nog 'n opdraande stryd van menige gevalle en sterftes voor.

Dié feit mag egter nooit beplanning vir ná-Covid-19 verplaas of in die wiele ry nie en om dit beter te verstaan, is daar aangeklop by boardofinnovation.com/low-touch-economy. Die strategiese response van leiers maak noodsaaklike aanpassings onontbeerlik.



SOEKE NA OPLOSSINGS

Strategie aanpassings sal tweerigtingverkeer vereis. Van bo na onder sal beperkings op samekomste, reis, higiëniese standaarde en die beskerming van kwesbare groepe maatreëls oorheers. Van onder na bo sal samewerking die wagwoord wees namate mense en organisasies die voordele van anders leef en werk ontdek en selfs geniet. Dit sal buitengewone en nuwe uitdagings bied ten opsigte van leefstyl en hoe daar besigheid gedoen word.

'n Nuwe bedeling via die internet – kom ons noem dit e-lewe – sal vestig in omtrent elke faset van ons daaglikse bestaan. So is daar nou reeds 'n e-vermoë om gesondheid by mense te toets met die hulp van 'n toepassing op 'n slimfoon.

Dié aanpassings sal beslis impakteer op die tweerigtingvloei met bewyse van opstand (e-opstande?) vir waar dié aan die bokant outoritêr wil besluit wat die beste is omdat hulle onseker is en nie e-vaardig is nie.

Uit 'n wye verskeidenheid van veranderings wat reeds ingetree het waarvan daar nog baie in vooruitsig gestel word, is daar veral tien aspekte van veranderings in verbruiksgedrag wat van belang is.

Vroeë reaksie dui op aanpasbaarheid en veerkragtigheid en dié wie wil voorvat, sal hulle knieë spreekwoordelik moet lig. In hierdie aanbieding – die eerste van twee, gaan vyf van die aspekte bespreek word.

Eerstens is dit duidelik dat die geestestoestand van verbruikers gaan verander met 'n toename in depressie, alleenheid en angstigheid oor die onbekende. Mense soek oplossings en behalwe vir sielkundige en ander hulp, is daar 'n toename in die vraag na troeteldiere om veral alleenheid te troef.

Vertroue in veiligheid van produkte en higiëniese standaarde van mense het 'n knou gekry. Verpakking sal herontwerp moet word en aflewering van aankope sonder die mense se teenwoordigheid sal toeneem. In China word die afleweraar se liggaamstemperatuur reeds aangedui, terwyl reise gaan verander – nie net oorgrens reise nie, maar selfs binnelands.

Warren Buffet het reeds sy beleggingstrategie aangepas deur al sy aandele in Amerikaanse lugrederye te verkoop. Werk vanaf die huis sal optimaliseer word en die onmoontlike sal die norm word. Elektroniese ondersteuning sal die mededingende invalshoek (“edge”) wees. Dit sal 'n enorme impak hê op die vraag na kantoorruimte en Jan Taks sal ewe skeppend moet dink oor ander toelatings ten opsigte van aftrekbaarheid van verwante uitgawes.

Minder mense op die paaie is 'n welkome vooruitsig. In die vyfde plek bevind mense en organisasies hulle in 'n oorlewingstryd, met die gevolg dat regulasies en kontrakte eenvoudig omseil sal word. Die noodsaak vir die toepassing van die force majeure-klousules in kontrakte is skielik 'n reddingsboei en daar word verwag dat geregtelike uitdagings daarvan aan die orde sal kom.

Verskeie diensverskaffers soos versekeraars het reeds hulle moont­like blootstelling as gevolg hiervan hersien. Interessant is die aanpassings ten opsigte van litigasie, want nou is daar vordering ten opsigte van groter outomatisering van regswerk. Hofsake waar deskundige getuies benodig word, is reeds aangepas om hulle via die internet te betrek. Hulle word dus nou e-getuies.

In volgende week se rubriek gesels ons verder hieroor.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!