Moontlike swanesang vir Blue Machine?

Die kruispad van die gesoute Namibiër en die jonger Kazak se aspirasies bots vanaand.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die 29-jarige Daniyar Yeleussinov van Kazakstan wag vanaand vir Julius Indongo in Hollywood, Florida om te bepaal wie die vakante IBF-interkontinentale weltergewigtitel (67 kg) sal opraap.

Die 37-jarige Indongo (Blue Machine) is Namibië se voormalige verenigde superliggewig-wêreldkampioen (63.5 kg) van die Internasionale Boksfederasie (IBF), Internasionale Boksorganisasie (IBO) en Wêreldboksvereniging (WBA).

Indongo se loopbaan het grootliks stoom verloor sedert sy enigste twee nederlae in die beroepskryt, wat beide in wêreldtitelgevegte teen topgerekende Amerikaanse opposisie was.

Die Namibiërs het ná skaars 259 dae sy drie wêreldtitels op 19 Augustus 2017 aan Terence (Bud) Crawford in dié Amerikaner se agterplaas afgestaan. Die gevreesde Crawford (nou 33), wat tans ná 37 gevegte steeds onoorwonne is (28 uitklophoue), het in die derde ronde met ’n venynige lyfhou die buit by sy Wêreldboksraad-kroon (WBC) gevoeg.

Blue Machine het in Maart 2018 verlore aansien teen die hotklou Regis Prograis om die WBC se tussentydse superliggewigtitel-wêreldtitel probeer herwin, maar die Yank het hom opnuut in die tweede ronde met ’n tegniese uitklophou oordonder.

Indongo was gewis nie opgewasse teen Crawford se afgeronde styl nie, maar die dollartekens was uiteraard onweerstaanbaar vir hom en sy destydse promotor, Nestor Tobias.

Kan Indongo die horlosie terugdraai en vorendag kom met ’n skok soos in sy eerste wêreldtitelgeveg op 3 Desember 2016 toe hy Eduard Troyanovsky in Moskou met ’n perfekte vroeë treffer teen die kennebak van sy IBO- en IBF-wêreldtitels ontneem het?

Vyf maande later in Glasgow, Skotland, was Indongo op sy allerbeste toe hy die ervare Ricky Burns oor 12 rondes met ’n eenparige puntebeslissing van sy WBA-wêreldkroon beroof het. Dié sege het die Namibiër die eerste vegter uit Afrika gemaak wat met drie groot “wêreldkrone” in dieselfde gewigklas verenig.

Ná ’n lang aftyd was sy enigste geveg sedertdien vroeg in Augustus verlede jaar teen die paloeka, Carltavius Jones Johnson (toe 4-1) in die VSA, vir wie hy in die tweede ronde uitgeslaan het. Johnson het nog nie weer geboks nie.

Indongo is nie gemaklik teen linkshandige boksers nie en dit wys in sy ervarings teen Crawford en Prograis, wat hom sonder veel sweet kon oorrompel. Yeleussinov is opnuut ’n hotklou en dit voorspel op sigself gevaar.

Nie Indongo óf Yeleussinov word deur enige van die gesaghebbende boksbeheerliggame op hul wêreldranglyste as top-15 gereken nie, maar vanaand se uitslag kan vir die wenner deure open.

Yeleussinov se jeugdigheid en stamboek as Olimpiese kampioen van die 2016 Spele in Rio de Janeiro maak “The Kazakh Thunder” ooglopend ’n sterk vooruitsig.

Die Kazak, wie se seepgladde hotklou-styl met dié van Vasyl Lomachenko en Floyd Mayweather Junior vergelyk word, het vyf uit nege gevegte as geldbokser met uitklophoue teen gerekende teenstanders gewen. Hy val graag uit veranderende hoeke aan en beskik oor buitengewone handspoed en voetwerk. Hy is ’n harde slaner met beide vuiste en sy verdediging is indrukwekkend.

In sy laaste twee gevegte in die VSA het hy Alan Sanchez (20-4-1) en Reshard Hicks (12-0-1) in die vyfde en eerste rondes met tegniese uitklophoue oordonder.

Hoewel sy afrigter Immanuel Moses van die AC-boksgimnasium in Windhoek uit die VSA sê Indongo is topfiks en reg vir die Kazakh Thunder, is dit te moeilik om te oordeel of hulle mekaar net moed inpraat, en of Indongo wel nog die skietgoed het. Moses het reeds weke gelede by die oefenkamp aangesluit.

Die geveg word deur Matchroom USA en DiBella Entertainment gereël en word regstreeks op DAZN gestroom.

NUUSKONFERENSIE

By eergister se media-opbou het die Kazakse bokser volgens boxingnews24 gesê: “Die grootpratery en slegsêery vooraf pla my niks. Ek is ’n tawwe vegter; ek het ’n uitstekende amateurrekord; ek is vinnig en sterk. Vrydagaand sal ek my spoed, krag en vaardighede ten toon stel.

“Ek weet hy het ondervinding en is taai en sterk. Ek respekteer hom as gewese kampioen, maar ek dink ek is beter. Ek voel uitstekend. Ek dink my tyd het aangebreek.”

Die Windhoeker het gesê: “Alles het glad verloop tydens my oefenkamp in Alabama. Ek voel goed, binne en buite. My kondisionering het verbeter vandat ek in Amerika kamp opgeslaan het. My liggaam voel tuis in die swaarder gewigsklas en ek glo sake sal uitwerk.

“Ek maak nie voorspellings vir gevegte nie, maar ek kan julle sê: dade spreek harder as woorde.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!