Moord op vroue, kinders styg in SA
Moord op vroue, kinders styg in SA

Moord op vroue, kinders styg in SA

Een van die groot uitdagings om sulke misdade te voorkom, is volgens die SA minister van polisie, juis as die slagoffer en die oortreder na aan mekaar is.
Daar is 3 915 vroue en kinders in die jaar tot 31 Maart vermoor.

Die syfers is afgryslik en skokkend en sê baie van die morele karakter van die samelewing, het Francois Beukman, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, Woensdag gesê.

Die statistieke vir die 2017-'18-boekjaar is Woensdag aan LP's voorgelê.

Die meeste van die moorde – 886 – is in KwaZulu-Natal gepleeg, gevolg deur die Oos-Kaap met 730, Gauteng met 657 en die Wes-Kaap met 649. In die Vrystaat is 254 vroue en kinders vermoor, in Noordwes 231, in Mpumalanga 217, in Limpopo 215 en in die Noord-Kaap (76).

Die getal moorde op vroue het landswyd met 11% toegeneem van 2 639 in die 2016-'17-boekjaar tot 2 930 in die 2017-'18-boekjaar.

Kindermoorde het met 17,4% van 839 tot 985 toegeneem.

Beukman het gesê die samelewing moet 'n groter poging aanwend om gesinsgeweld en geweld tussen verwante partye te bekamp.

“Baie van die misdade teen vroue en kinders word deur mense gepleeg wat hulle ken.”

MISHANDELING

Bheki Cele, die minister van polisie, wat ook die komiteesitting bygewoon het, het gesê kinders loop regtig erg onder mishandeling deur.

Een van die groot uitdagings om sulke misdade te voorkom, is volgens Cele juis as die slagoffer en die oortreder na aan mekaar is.

“Dit is een ding wat vir ons as die polisie groot probleme skep. As jy saam met jou meisie gaan en jy vermoor haar, kom die optrede altyd agterna. Dit kan nie vooraf gebeur nie. Die polisie kan nie verliefdes by padversperrings voorkeer en vra is dié jou meisie en dan sê nee, jy kan nie saam met haar gaan nie.

“Dié is aspekte wat die sake baie, baie moeilik maak,” het hy gesê.

'n Ander groot probleem is dat sake dikwels teruggetrek word.

Hy het toegegee dat die polisie soms nie weet hoe om slagoffers van gesinsgeweld te hanteer nie en dat opleiding daarom belangrik is. “Ek het aan die polisiebestuur gevra waarom ons nie meer vrouebeamptes by die ontvangstoonbank kry nie.

“Ek verbeel my net as 'n vrou vir 'n polisieman moet sê sy is verkrag. Ek dink dit traumatiseer jou meer. As jy dit nie behoorlik verduidelik nie, verloor ons die saak in 'n later stadium. As dit 'n vrouebeampte is, sal dit makliker wees . . . die sensitiwiteit met die eerste aanmelding moet aan boord geneem word,” het Cele gesê.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer