Moorde bekommer polisiehoof

Die Namibiese polisiehoof sê mesaanvalle en huishoudelike geweld is die vernaamste faktore in moorde in die land.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die Namibiese polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, sê die hoeveelheid misdaad in die land bekommer hom, veral die voorvalle van moord, verkragting, geslagsgeweld, polisiegeweld en veediefstal.

“Hoewel die syfers aandui dat misdaad onder beheer is, is die erns van misdaadvoorvalle kommerwekkend en los dit slagoffers en hul families getraumatiseer,” het hy onlangs gesê.

Volgens Ndeitunga is verlede jaar tussen Januarie en Maart 73 moorde aangemeld, met ewe veel moorde oor dieselfde periode in 2021.

Vanjaar het die Khomasstreek 12 moorde aangeteken teenoor agt in Ohangwena, sewe in Erongo, een in Kavango-Wes en Omaheke met twee, sê hy.

Verder sê hy gebeur 45% van hierdie voorvalle tuis en word deur huishoudelike geweld gedryf, 16% kom op straat voor, 15% by alkoholafsetpunte en ander plekke en 9% op plase.

Ndeitunga sê 31% van dié moorde is met 'n mes gepleeg, 14% met 'n vuurwapen, 6% met 'n kapmes, 6% met klippe en 43% met onbekende voorwerpe.

“Deel van ons strategie is die voortgesette gesamentlike streekoperasies, die aksieplan teen geslagsgeweld en die hersiening van die drankwet,” sê hy.

“Nogtans sal dié strategieë sonder die publiek se insette nie genoeg wees nie. Ek doen 'n beroep op die publiek om saam met die polisie te werk om misdaad in hul gemeenskappe te bekamp,” het hy gesê.

Ndeitunga het ook op gevalle van polisiewreedheid gereageer.

“Onlangs het ek ontstellende berigte ontvang van ver­skeie voorvalle van magsmisbruik of oormatige gebruik van geweld deur sommige polisiebeamptes, op mense onder toesig van die polisie.

“Polisiebeamptes moet altyd deur die wet gelei word in die hantering van verdagtes en as die situasie daartoe lei, moet beamptes slegs geweld toepas ewewigtig met die vlak van weerstand, soos in die Wet op Kriminele Prosedures 51 van 1977 voorgeskryf, vir die inhegtenisneming en aanhouding van verdagtes,” het hy gesê.

Ndeitunga sê polisieoperasies gemik op die bekamping van veediefstal lewer resultate met groot getalle vee wat onlangs gevind is.

Ander operasies soos Operasie Basadi, Operasie HokaNam en die padveiligheidoperasie duur steeds voort, sê hy.

Hy moedig die blootlê van korrupsie aan, maar waarsku polisiebeamptes om slegs met sy toestemming inligting te versprei wat in die uitvoer van hul pligte ontvang is.

Ndeitunga het Vrydag by die Israel Patrick Iyambo-polisiekollege in Windhoek gepraat.

By die geleentheid het 46 Namibiese ­polisiebeamptes en Windhoek-stadspolisielede ná 'n drie maande kursus op basiese polisieopleiding gegradueer.

Die lede het by die polisiemag aangesluit om die leemtes in regsdienste, finansies, rekenaarkundigheid, forensiese wetenskap, verpleging, joernalistiek en menslike hulpbronne te vul, het hy gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!