Moratorium op uitvoer van hout opgehef
Moratorium op uitvoer van hout opgehef

Moratorium op uitvoer van hout opgehef

Hout wat wettig geoes is, mag nou vir uitvoerdoeleindes na Walvisbaai vervoer word, mits al die papierwerk in orde is.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Nagenoeg 100 000 stukke hout van bome wat wettig op plase in die twee Kavangostreke en Zambezi afgekap en opgesaag is, mag nou plaaslik verkoop en uitgevoer word nadat die moratorium op die vervoer van rou hout opgehef is.

Dié aankondiging is Maandag deur die ministerie van landbou, water en bosbou gemaak in opvolg van die kabinet se goedkeuring daarvan tydens sy laaste sitting van die jaar Vrydag.

Die adjunkminister in dié ministerie, me. Anna Shiweda, het aan joernaliste gesê die bome is afgekap nadat groot stukke grond in 2016 vir landbouproduksie in die Kavango-Wes-, Kavango-Oos- en Zambezistreek (deur die ministerie van grondhervorming) bewillig is. “Dit was nodig om hierdie grond (vir produksie) skoon te maak en die direktoraat bosbou het permitte vir die oes van die bome uitgereik. Beamptes het die plase besoek en die volwasse bome gemerk wat afgekap kon word,” het sy gesê.

Volgens haar het die boere op eie inisiatief kopers geïdentifiseer en die hout is meestal uitgevoer.

Shiweda het verduidelik die regering was genoodsaak om ’n stokkie daarvoor te steek toe die publiek, omgewingsaktiviste en burgerlike organisasies druk uitgeoefen het om die grootskaalse uitvoer van meestal onwettig gekapte bome stop te sit.

‘n Moratorium is toe op die kap van bome en die bemarking van die hout geplaas, het Shiweda verduidelik.

“Ons het uitgevind baie van die hout is onwettig geoes en uitgevoer saam met die bome wat wettiglik afgekap is.

“Ons het ons amptenare na die (betrokke) plase gestuur om vas te stel watter hout is afkomstig van bome wat wettiglik afgekap is, en aan daardie boere toestemming te gee om die hout uit te voer. As ons teruggaan in die geskiedenis, is daar aan 400 boere goedkeuring verleen om bome af te kap ten einde landerye te vestig.

“Ons het nou amptenare van die ministeries van landbou, water en bosbou, asook die omgewing en toerisme teenwoordig wanneer die hout gelaai word. Ook die polisie, as dit nodig is,” sê Shiweda en voeg by geen onlangs afgekapte bome se hout mag vir verskeping gelaai word nie.

Wat die gebergde hout op Walvisbaai betref, sal die eienaars daarvan bewys moet lewer van die oes- en vervoerpermitte wat toon dit is wettiglik afgekap en al die dokumentasie moet geverifieer word.

Sy het ook daarop gewys dat Namibië fabrieke vir die verwerking van die hout moet oprig en werksgeleenthede skep. “Dit is jammer dat die gesaagde hout die land in onverwerkte vorm moet verlaat.”

Volgens haar sal net omtrent 10% van die hout binnelands verkoop kan word vanweë die beperkte vraag. Die res sal alles uitgevoer moet word.

Intussen het die uitvoerende direkteur van dié ministerie, mnr. Percy Misika, in ‘n verklaring benadruk hout sal net bedags opgelaai mag word en nie snags nie.

Republikein het voorheen berig dat hout skelm in die nag gelaai is terwyl die moratorium van krag was.

Ingeligte bronne het beweer die Chinese sakeman mnr. Xuecheng Hou se New Force Logistics CC het onwettig bome op plase suidoos van Rundu langs die D3401- en D3425-roetes na Cumo en Gcwatjinga in Kavango-Oos afgekap. Van die bronne het selfs aangevoer dat dit “op 'n nywerheidskaal” plaasgevind het.

Volgens Misika sal daar beheerpunte by die Mururani-, Bravo- en Rooidag-hek om die beweging van vragmotors wat hout vervoer, te monitor. Geen vragte sal gedurende die nag deurgelaat word nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!