Mosambiek gly na mislukking
Mosambiek gly na mislukking

Mosambiek gly na mislukking

Estelle de Bruyn
André le Roux

Te midde van ’n oënskynlik indrukwekkende ekonomiese groeikoers van meer as 6% – grootliks weens die ontginning van Mosambiek se grondstowwe en bou van hawe-infrastruktuur – bevind die land hom midde-in drie verstrengelde wesenskrisisse:

Die ekonomie
Dit is duidelik dat die vrugte van daardie indrukwekkende groei van ’n lae grondslag nie na die gewone Mosambieker afwentel nie.
Volgens die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) se jongste beskikbare statistieke vir ’n land wat oor min of geen data-integriteit van sy eie beskik nie, leef 60% (15,6 miljoen) van Mosambiek se burgers op minder as US$1,25 (R20) per dag.
Vergelyk dit met Suid-Afrika, waar ’n reeds onhoudbare 13,3% (7,1 miljoen) van dié land se bevolking onder dié internasionale armoedemaatstaf probeer bestaan. Ironies is die “groeiende” ekonomie aan die wortel van Mosambiek se probleme.
Dié land se geldeenheid, die metical, is in die hande van ’n gewone Mosambieker slegs 25 Suid-Afrikaanse sent werd. Dit geld ook daardie polisiemanne wat veral Westerse toeriste aan die land se gewilde en skilderagtige kus voorlê en afpers.
Mosambiek beleef, soos tans ook die geval met Zimbabwe én verskeie ander Afrikalande, ’n ernstige tekort aan kontant as betaalmiddel in wat al lank en in wese ’n bestaansekonomie is.
Wat die Mosambiekse makro-ekonomie betref, het ons buurland pas versuim om sy staatswaarborge vir ’n plaaslike skeepswerfbouer se onbetaalde internasionale lening van US$535 miljoen (sowat R8,1 miljard) gestand te doen. Dit is net die begin.
Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het twee weke gelede verdere geldhulp aan Mosambiek opgeskort “hangende volle duidelikheid en ’n beoordeling van die feite” oor onverklaarde lenings wat Mosambiek uit onbekende oorde aangegaan het. Van dié “lenings” is deur die regering van Armando Guebuza vanaf 2005 tot 2015 aangegaan en beloop volgens Mosambiekse media meer as US$1 miljard ­(sowat R15,2 miljard). Die vrees bestaan nou dat die regerende Frelimo onder pres. Filipe Nyusi weens dié toedrag van sake kan skeur. Die heel laaste terugslag wat Mosambiek nou kan bekostig, is verdere politieke onstabiliteit.

Renamo
Die onenigheid in Frelimo self verhoog die druk wat die toenemend aktiewe Renamo op die bevrydingsparty van Samora Machel plaas.
Die dreigende konflik, militêr en polities, tussen Renamo en Frelimo is die ergste sedert die einde van die burgeroorlog tussen hulle in 1992.
Renamo, grootliks gevestig in die Gorongosa-gebied, wat Noord- en Suid-Mosambiek van mekaar skei, voer tans met al hoe meer waagmoed tref-en-trap-aanvalle op Mosambiekse veiligheidsmagte hier en in die noordelike provinsies uit.
Die Frelimo-magte reageer deur klopjagte op bekende Renamo-leiers se vestings, soos dié van Afonso Dhlakama. By sy huis is op meer as 40 aanvalsgewere, landmyne en vuurpylrigters beslag gelê.
Internasionale nuusagentskappe berig toenemend oor die summiere teregstelling van Renamo-ondersteuners in Gorongosa en Tete.
Dit sluit in, sê die Britte, dodelike gewapende aanvalle op voertuigkonvooie op hoofpaaie in dié provinsies.
Ook die IMF is besorg oor die verslegtende politieke veiligheid van Mosambiek en wys daarop dat spanning sedert die 2014-verkiesing toeneem. Renamo, veel meer as net ’n weerbarstige rebelle-organisasie aan die buiterand van die Mosambiekse politiek, het die uitslag verwerp en dring aan op politieke desentralisering. In dié verkiesing het Renamo byna 37% van stemme teenoor Frelimo se 57% gewen.
Dhlakama beheer vier van Mosambiek se tien provinsies en dring toenemend, én met geweld, daarop aan dat die sentrale regering selfregerende magte na dié provinsies afwentel. Hy wil die mineraalryke Gorongosa-gebied vir Renamo toeëien.
Dié konflik hou ook ernstige implikasies in vir die politieke geografie van Oos-Afrika, waar buurlande, soos Tanzanië, Malawi, Zimbabwe en Zambië, aan die ontvangkant van Mosambiekse vlugtelinge is.

Misdaad
Die spanning op ekonomiese gebied en die uitwerking wat dit het op die altyd latente konflik tussen Frelimo en Renamo voed Mosambiek se grootste maatskaplike euwel: Misdaad, ingesluit ongekende vlakke van korrupsie van bo tot onder.
Die VSA waarsku sy burgers dat misdaad in Mosambiek “kritieke” afmetings aanneem. Amerikaanse besoekers word veral gemaan teen die diefstal van hul persoonlike dokumente, soos paspoorte, wat identiteitsdiefstal tot gevolg het.
Internasionale reisagentskappe waarsku Suid-Afrikaners in die besonder teen rowers in Inhambane, die gewilde suidelike provinsie.
Numbeo, ’n internasionale data- en demografiese navorsingsinstelling, sê misdaad in Mosambiek het die afgelope drie jaar met 87,5% toegeneem.
Met Mosambiek se kers wat aan die een kant deur sy ekonomiese krisis brand, aan die ander kant met Renamo se groei ten koste van Frelimo smeul en in die middel deur misdaad verteer word, het dit noodsaaklik geword dat Suid-Afrika in eie belang optree.
Flou pogings vroeër vanjaar deur pres. Jacob Zuma loop op niks uit nie. Die ANC bly kniediep in sy politieke skuld aan Frelimo in die strugglejare. Renamo wantrou ANC-bemiddeling juis daarom.
Soos vir Zimbabwiërs is Suid-Afrika vir Mosambiekse ekonomiese vlugtelinge die eerste betreklik veilige bestemming – net om verdere druk te plaas op hierdie land se werkloosheidskrisis en die xenofobiese weerstand wat dit veral in Limpopo en Mpumalanga tot gevolg het.
Die oorspoel-effek van Mosambiek se probleme is lank reeds deur Suid-Afrika gevoel en sal uitbrei namate die Renamo-bedreiging toeneem.
Daar is byna algehele vryheid van beweging tussen Suid-Afrika en Mosambiek, wat gebuk gaan onder groeiende wetteloosheid. Klits daarby in dat Suid-Afrika ernstig afhanklik is van Mosambiekse energiebronne en die Maputo-hawe as uitvoerdepot vir groot verdieners van buitelandse valuta, soos steenkool. Suid-Afrikaanse toerisme na Mosambiek is noodsaaklik vir daardie land se kontant-ekonomie.
Die beskikbare statistieke van die menseverkeer tussen Suid-Afrika en Mosambiek wys dat sedert 2010 minstens 700 000 Mosambiekers en Suid-Afrikaners per maand deur die grensposte tussen dié twee lande beweeg. Dié interafhanklikheid word bedreig deur misdadigers in polisie-uniforms wat padversperrings as “kitsbanke” opstel.
Suid-Afrikaners en ander Westerse toeriste is die sagte teikens. Mosambiek is ’n mislukte staat in wording. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!