Moskee Marokko se pragstuk

Mooiste marmer- en mosaïekwerk
Ronelle Rademeyer
Francoise Steynberg in Casablanca - In Casablanca in Marokko troon ’n majestueuse moskee oor die see.
Die impossante Hassan II-moskee is die grootste in Marokko en het die wêreld se hoogste minaret van 210 meter met 60 verdiepings en ’n laser wat direk na Mekka skyn. Die gebou is 200 meter in lengte en 100 meter in breedte.
Die moskee is deur Michel Pinseau ontwerp en deur die siviele ingenieursmaatskappy Bouygues gebou. Dit is in 1993 ná sewe jaar se konstruksie voltooi met handgewerkte marmer en ’n dak wat kan oopmaak. Onderdak kan 25 000 mense aanbid terwyl plek vir ’n verdere 80 000 aanbidders buite die moskee ingeruim is.
Koning Hassan II het in 1981 aangekondig dat hy ’n spesiale baken in Casablanca wil hê en sy wens was dat dit die tweede grootste moskee naas die een in Mekka moes wees.
Boukoste het sowat 585 miljoen euro beloop en baie van die geld het van die publiek gekom met 12 miljoen mense wat skenkings vir dié doel gegee het. Besighede en Arabiese lande soos Koeweit en Saoedi-Arabië het ook geld bygedra.
Konstruksie het in Julie 1986 begin en moes volgens skedule in 1989 op Hassan II se 60ste verjaardag voltooi wees. Dit het egter nie gebeur nie en dit is eers op 30 Augustus 1993 op die profeet Mohammed se verjaardag ingehuldig.
Die moskee is buite en binne ewe beeldskoon en dit slaan die asem weg. Behalwe die Italiaanse wit marmerkolomme en die 56 glaskandelare, kom al die graniet, marmer, hout en ander materiaal uit Marokko.
Die Zellige-mosaïekwerk is veral indrukwekkend, asook die steen- en ­marmervloere en houtsneewerk wat deur 6 000 tradisionele Marokkaanse kunstenaars gedoen is.
Die hammambaddens in die ondergrondse verdieping is oop vir die publiek en ’n spesiale pleistertegniek genaamd “tadelakt” is vir die baddens gebruik. Dit behels die vermenging van eiergeel en swart seep met die pleister.
Westerse vroue se hoofde hoef nie bedek te wees nie, maar kleredrag moet respekvol wees. Skoene moet binne die moskee uitgetrek word om die marmervloere nie te beskadig nie. Foto’s, maar geen video-opnames nie, mag binne die moskee geneem word.
’n Besoek aan dié gebou is ’n ­belewenis en ’n móét op enige besoeker se lys van Marokkaanse besienswaardighede.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!