Mostert-ontsnapping 'groot verleentheid'
Die polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, sê hy oorweeg om die polisiebeamptes wat die voortvlugtige mnr. Rooies Mostert moes bewaak, af te dank.
Ronelle Rademeyer
“Dit is 'n totale, totale verleentheid en 'n verontagsaming van pligte. Ek ruik ongerymdheid en sal nie verbaas wees as daar korrupsie ter sprake is nie.”
Só het die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, gisteroggend gesê toe hy vir kommentaar oor die ontsnapping Saterdag van mnr. Rooies (Walter) Mostert genader is.
Mostert het uit die Auas Hills- mediese sentrum by dié gelyknamige aftreeoord ontsnap.
Hy is sedert Augustus daar aangehou sodat hy mediese behandeling kon ondergaan.
Mostert is op 1 Mei vanjaar in hegtenis geneem. Hy is op dié dag naby Tses deur die polisie aangekeer toe hy probeer het om ongesiens vanaf Suid-Afrika na Namibië terug te keer. Dit was nadat die polisie 'n wenk van die publiek ontvang het.
Die oudlanddros en eertydse Namibiese rugbyspeler het die afgelope ongeveer drie jaar in die Wes-Kaap gewoon.
Die Namibiese owerhede het Suid-Afrika versoek om hom uit te lewer en die proses was aan die gang toe hy probeer het om ongesiens terug te keer.
Mostert staan in die streekhof in Windhoek saam met mee. Joyline Kambutuku, Eveline Meroro en mnr. Salomo Joram op 29 klagte tereg. Die staat voer aan Mostert het in 2012 'n Suid-Afrikaanse familie gehelp om onwettige burgerskap te bekom deur vervalste dokumente in te dien en verder, dat hy in 2013 'n ander familie met N$340 000 ingeloop het. Sy drie medebeskuldigdes het hom na bewering hierin bygestaan.
Mostert se formele aansoek om borgtog in dié hof is vroeër tot 17 November uitgestel. Hy word daarin deur mnr. Evert Gous verteenwoordig.
Ndeitunga het gister 'n beroep op die publiek gedoen om die polisie te kontak indien hulle enigiets van Mostert se bewegings weet.
Hy het die versekering gegee die polisie “sal ernstig optree” teen die polisiebeampte en sy senior offisier wat daarvoor verantwoordelik was “om hom 24 uur per dag te bewaak”.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie