Mostert stu00e9u00e9ds in die rooi
Mostert stu00e9u00e9ds in die rooi

Mostert stééds in die rooi

Die aanklaer-generaal het gelas die oudlanddros mnr. Rooies Mostert moet vervolg word.
Denver Kisting
Denver Kisting



'n Senior amptenaar gemoeid met 'n dossier waarby mnr. Rooies Mostert betrek word, sê dié oudlanddros sal strafregtelik vervolg word.

Volgens dié bron het die aanklaer-­generaal (AG), me. Martha Imalwa, dié aanbeveling bekragtig. Na wat verneem word, sal hy voor die streekhof gedaag word.

Dít volg op 'n ondersoek deur die Teenkorrupsiekommissie (ACC) na die beweerde onderduimse toekenning van verblyfpermitte.

­Republikein se bron sê die ACC sou gister oor die besluit om Mostert te vervolg, ingelig word.

Intussen sê adj.komm. Abner Agas, polisiekoördineerder van misdaadondersoeke in die Khomasstreek, 'n ondersoek na beweerde bedrieglike grondtransaksies teen Mostert deur die handelsmisdaadafdeling is ook in 'n gevorderde stadium.

Agas sê sodra dié ondersoek afgehandel is en die dossier aan die AG se kantoor vir 'n beslissing voorgelê word, sal besluit word of Interpol se hulp ingeroep sal word.

Die rede hiervoor sal wees om toe te sien dat Mostert uit Suid-Afrika, waar hy nog die afgelope week was, uitgelewer word sou hy nie vrywilliglik terugkeer Namibië toe nie.

Interpol se plaaslike hoof, adj.komm. Immanuel Sam, het vroeër bevestig die ­owerhede het reeds gesprekke rondom Mostert gevoer.

Mostert het eergistermiddag by navraag uit die buurland gesê hy dra nie kennis van die AG se besluit nie.

Hy voer aan mnr. Danie Pieterse van Prins Albert, vir wie hy glo met permitte om die bos gelei het, het destyds glo wapens onwettig die land ingebring.

Nadat hy wat Mostert is vir Pieterse “heel uit daai ding gekry” het, “gaan draai hy sy rug só teen 'n mens”, beweer Mostert.

Volgens Mostert keer hy terug Namibië toe “sodra ek my goed hier klaargemaak het”.

Hy sê hy is onder meer tans besig om besighede in Suid-Afrika te vestig.

Hy kon nie vroeër terugkom na sy vaderland toe nie omdat hy 'n operasie moes ondergaan, sê Mostert.

Volgens hom het hy bewyse oor dié mediese prosedure weens 'n breuk.

Republikein het vroeër vanjaar berig die net span ál nouer om Mostert.

Adv. Erna van der Merwe, adjunkdirekteur van die ACC, het bevestig dié waghond het klagtes ondersoek wat met die beweerde korrupte toekenning van verblyfpermitte verband hou.

Dié dossier is toe aan die AG se kantoor vir 'n beslissing oorhandig.

Die ander vier verdagtes is na wat verneem word beamptes verbonde aan die ministerie van binnelandse sake en immigrasie.

Pieterse het vroeër onthul Mostert het hom na bewering met tussen N$350 000 en N$400 000 ingeloop.

Die aantyging lui dat Mostert glo vir Pieterse, sy vrou, sy bejaarde ouers en twee susters belowe het hy sou hulle help om Namibiese burger­skap te verwerf.

In ruil daarvoor moes Pieterse na bewering geld in staatsprojekte belê.

'n Inwoner van Gobabis sê Mostert het hóm ook met nagenoeg N$400 000 ingeloop.

Volgens dié man hou dit verband met 'n grondooreenkoms wat skeefgeloop het.



Mostert het glo 'n 49%-aandeel in 'n stuk grond by dié Omahekedorp aan hom verkoop en dit sonder toestemming weer onder sy neus verkoop.

Dié stuk grond is glo dieselfde een wat aan mnr. Hennie Schreuder van Brakwater verkoop is.

Schreuder het vroeër vanjaar bedrogklagte ten bedrae van N$1,5 miljoen by die polisie teen Mostert gelê.

Die grond, waarop sake-eenhede glo opgerig sou word, beslaan 3,7 hektaar (bietjie meer as drie rugbyvelde).

Schreuder en Mostert het ooreengekom dat Schreuder N$1,5 miljoen sou stort in wat 'n beslote korporasie (BK) tussen die twee mans sou word.

Mostert het vantevore erken hy het die geld van die Schreuders ontvang en sou dit vroeër vanjaar glo reeds terugbetaal.

Schreuder sê van soortgelyke beloftes het tot dusver dadels gekom.

Maar, sê Mostert, Schreuder het sy deel van die belegging ingevolge 'n kontraktuele klousule verbeur.

Dít, voer hy aan, is omdat Schreuder nie betyds die eiendom laat registreer het nie.

Eergister het Mostert gesê: “Ek is besig om – soos ek my goed verkoop – my skulde te delg. Ek het nog nie daarby uitgekom nie (om die Schreuders terug te betaal nie).”

Hy het vandeesweek gesê hy is bereid om sy man in die beskuldigdebank te kom staan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!