Motoriste trek hul sokkies op

Die data wat vandeesweek deur die Motorvoertuigongelukkefonds verskaf is, toon ’n 8%-afname in botsings.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith - Kampvegters vir padveiligheid se pogings is ’n tweede agtereenvolgende jaar met ’n afname in motorongelukke, beserings en sterftes die afgelope feesseisoen beloon.

Hoewel die sterftesyfer hoog gebly het, met 70 mense wat op die pad dood is tussen 1 Desember en 5 Januarie, is dit 20% laer as die 88 mense wat laas jaar in dieselfde tydperk in motorongelukke dood is.

Die data wat vandeesweek deur die Motorvoertuigongelukkefonds (MVAF) verskaf is, toon ’n verdere 8%-afname in botsings – 367 in vergelyking met verlede jaar se 400.

Dié data sluit slegs motorongelukke in waarin beserings en sterftes voorgekom het.

In Desember en vroeg-Januarie het 682 mense beserings in motorongelukke opgedoen, in vergelyking met 703 verlede jaar.

’n Soortgelyke neiging is in die feesseisoene van 2018 en 2019 opgemerk toe dit vergelyk is met die vorige jaar se syfers.

Tussen 25 November 2018 en 3 Januarie 2019 het ongelukke met 14% afgeneem, beserings met 18% en sterftes met 29% teenoor die 2017- en 2018-feesseisoen.

Waaksamer bestuurders

Die Namibiese polisie het dié week verklaar motoriste se wetsgehoorsaamheid het aansienlik verbeter. Teenoor vorige jare is minder mense vir dronkbestuur aangekeer.

Data van Nampol se verkeersdepartement wat gister bekend gemaak is, toon ’n totaal van 79 432 motoriste wat tussen 18 November en 5 Januarie deur verkeersbeamptes vir alkohol getoets is. Altesaam 1 299 mans en 145 vroue het positief getoets.

Almal het nie die wettige alkoholperk oorskry nie, aangesien slegs 236 mense vir dronkbestuur in hegtenis geneem is.

Verkeersbeamptes het 501 voertuiglisensies opgeskort en 777 waarskuwings uitgereik.

Tussen 18 November en 5 Januarie is 10 724 boetes vir verkeersoortredings uitgereik, wat op meer as N$11,4 miljoen te staan kom, het Nampol bevestig.

Mnr. Horst Heimstadt van die Privaat Sektor Padveiligheidsforum (PSRSF) sê bestuurders se ingesteldhede is beslis besig om te verbeter omdat hulle begin besef hul gedrag is deel van die probleem.

Hy sê beperkte hulpbronne bly ’n probleem.

“Dit is eenvoudig nie genoeg nie. As ons werklik doeltreffend wil wees, het ons fondse nodig.”

Syfers

Die MVAF-fonds het vandeesweek bekend gemaak beide die Khomas- en Otjozondjupastreek het ’n 20%-afname in motorongelukke getoon.

’n “Groot afname” van 66% en 31% beserings is in die Kavango-Oos- en Otjozondjupastreek aangemeld.

In die Khomasstrreek het beserings met 23% afgeneem.

Die padsterftesyfer in die Omusati-, Zambezi- en Erongostreek het dié seisoen aansienlik afgeneem.

’n Afname van 89% in sterftes is in die Omusatistreek aangemeld – van nege verlede jaar tot een dié jaar.

In die Zambezistreek het die sterftesyfer van sewe na drie gesak – ’n afname van 57%.

Die sterftesyfer in die Erongostreek, wat in die feesseisoen gewild is, was die helfte van 2018 s’n – drie mense is dood in vergelyking met ses die vorige jaar.

Die hoogste aantal padsterftes het in die Ohangwenastreek voorgekom, waar 11 mense dood is.

Karre wat gerol het (23), ongelukke waarby voetgangers betrokke was (92) en botsings (89) maak grotendeels die die feesseisoen se ongeluksyfer op.

Altesaam 14 fietsryers was by motorongelukke betrokke, en 12 mense het uit bewegende voertuie geval of gespring.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!