Mu00e9u00e9r kiaatbome gaan val
Mu00e9u00e9r kiaatbome gaan val

Méér kiaatbome gaan val

Namibië se enigste Zambezi-kiaatwoud word bedreig deur planne vir uitgebreide besproeiingskemas.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die Mafwe tradisionele owerheid in samewerking met 'n Chinese maatskappy, African Safari Wood Lodge CC, beplan om beskermde en bedreigde Zambezi-kiaathout op 12 000 hektaar te "oes" en te "vervoer".

Die gebiede waar die oes gaan plaasvind, is op 2 000 ha van die Katima-plaasbesproeiingskema en 10 000 ha van die Zambezi Moderne Landboubesproeiingskema in die Liselo- kommunale gebied.

Volgens 'n omvangsverslag van Nyepez Consultancy CC, wat opdrag gegee is om 'n omgewingsimpakstudie vir die voorgenome afkap van die waardevolle bome te doen, het die Mafwe tradisionele owerheid en die direktoraat van bosbou in die ministerie van landbou, water en bosbou die Chinese maatskappy die groen lig gegee om 'n spesifieke getal Zambezi-kiaatbome op albei plase af te kap. Dit sê nie wat die getal is nie.

Volgens die verslag gaan die Chinese maatskappy in samewerking met die Mafwe tradisionele owerheid die hout in stukke opsaag en in groot vraghouers na die Walvisbaaise hawe vervoer om na China uit te voer.

Die verslag lui voorts die Chinese maatskappy "is spesifiek gehuur" om die hout in die twee gebiede te oes. Dit is na bewering nie betrokke by die beplande landbouproduksie in die twee gebiede nie.

Volens die verslag wil African Safari Wood Lodge CC 'n oespermit vir klein, medium en groot bome van die bosboudirektoraat in die Zambezistreek bekom.

Dit kon nie van die landbouministerie vasgestel word of die maatskappy inderdaad 'n permit gekry het nie. Die Mafwe tradisionele owerheid kon ook nie vir kommentaar bereik word nie.

Nyepez Consultancy het aangedui hulle het konsultasies met geïdentifiseerde belanghebbendes gedoen wie se aanbevelings in oorweging tydens die voorbereiding van die omgewingsimpakstudie geneem sal word.

Nyepez Consultancy het in 'n advertensie aangekondig openbare konsultasie vind op 15 Junie om 09:00 in die Kamunu-gemeenskapsaal op Katima Mulilo plaas waar die voordele en nadele van die projek bespreek sal word. Voorstelle is tot 22 Junie welkom.

AGTERGROND

Die twee grondgebiede – die Katima-plaasbesproeiingskema en die Zambezi Moderne Landboubesproeiingskema – is langs die grens van Zambië geleë.

Die Zambezi-streeksraad, die Mafwe tradisionele owerheid en die landbouministerie het besluit om die Katima-besproeiingsprojek in 'n groenskemaprojek te "laat herleef" en "uit te brei". Die grootte van die plaas is toe van 300 ha tot 2 000 ha vergroot.

Die Zambezi Moderne Landboubesproeiiingskema wat die 10 000 ha-staatswoud verhuur, is die verlate tabakprojek van die Chinese Ng Yung se Namibia Oriental Tobacco.

Volgens die omvangsverslag het Namibia Oriental Tobacco aggeslaan op die wydverspreide kritiek teen die beplande tabakprojek en besluit om hul voorstel vir grondgebruik te verander na die groei van mielies, groente en vrugte.

BEWARINGSKUNDIGES SE KOMMER

Bewaringskundiges, wat anomiem wil bly, het hul kommer uitgespreek oor die beplande oes van Zambezi-kiaathout wat as "byna bedreig" deur die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUCN) gelys is.

Reeds in 2005 het die IUCN waargeneem dat hierdie bome – beskerm deur bosbouwetgewing - bedreig word deur oorbenutting vir hout, heinings en hutkonstruksie.

Die bewaringskundiges het gesê die beplande besproeiingskemas voorsien nou die groen lig vir die grootskaalse vernietiging van die enigste kiaatwoud in Namibië.

Die tweede volume van die geïntegreerde grondgebruikplan vir die Zambezistreek wat deur die grondministerie in 2015 saamgestel is, verklaar voorts dat besproeiing nie die beste gebruik van die grond is nie, ondanks oorvloedige waterbronne.

'n Strategiese omgewingswaarnemingsverslag adviseer ook teen grootskaalse besproeiingsplase “wat betrokk eis by uitgebreide skoonmaak van bome of rivierhabitat” wat vervang word deur enkelgewasse op dieselfde grond jaar na jaar.

Dit meen dit “is minder skadelik vir die omgewing” en meer bemagtigend vir die plaaslike bevolking om kleinskaalse besproeiingserwe te hê.

Die landbouministerie het gesê dit ondersoek die vrae wat vir hulle gestuur is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!