Mr Price en kie sal meer in SA koop
Mr Price en kie sal meer in SA koop

Mr Price en kie sal meer in SA koop

Ingevolge die nuwe meesterplan onderneem die regering om streng op te tree teen onwettige invoere.
Riana De Lange – Suid-Afrika se grootste klere-kleinhandelaars het belowe om oor die volgende paar jaar 85 miljoen bykomende plaaslik vervaardigde kledingstukke, skoene en leerartikels aan te koop om die plaaslike tekstiel- en klerebedryf ’n hupstoot te gee. Dié onderneming sal die verkryging van plaaslik vervaardigde goedere teen 2030 van die huidige 44% tot 65% opstoot.

Dié aankondiging is gemaak by die tweede Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie in Sandton waar ’n meesterplan vir die ontwikkeling van die plaaslike tekstiel-, klere-, skoen- en leerbedryf onderteken is deur onder meer die regering, arbeid, The Foschini Group, Pepkor, Edcon, Mr Price en Woolworths.

Die tekstielbedryf pleit al sedert die 1990’s vir beskerming en ingryping. Die regering se huidige nywerheidsbeleid-aksieplan sê die tekstielbedryf het ná die drastiese afskaling van invoertariewe in die 1990’s al sowat 120 000 poste verloor. Die bedryf het nou net 95 000 werkers en dra 2,9% tot Suid-Afrika se BBP by.

Ingevolge die nuwe meesterplan onderneem die regering om streng op te tree teen onwettige invoer en vakbonde het hulle verbind tot aanpassings om mededingendheid te verhoog.

Vervaardigingsmaatskappye het R6,8 miljard se beleggings oor die volgende vyf jaar beloof. Dít is deel van R370 miljard se beleggings wat tydens die konferensie beloof is. Volgens die departement van handel, nywerheid en mededinging (DTI) sal die tekstiel-meesterplan teen 2030 120 000 poste in die waardeketting skep; 70 000 daarvan in vervaardiging.

Prof. Justin Barnes, voorsitter van B&M Analysts wat betrokke was by die ontwikkeling van die program, het einde verlede jaar aan Rapport gesê hoër plaaslike produksie is ’n stap om die tekstiel- en klerebedryf te stabiliseer. Meer as 60% van tekstiel, klere, skoene en leerprodukte vir die plaaslike mark word tans ingevoer.

Ingrypings te laat vir staalbedryf

Die staalbedryf, wat al jare kla oor goedkoop invoer- en onvolhoubare geadministreerde pryse, het die afgelope week ’n slag gehad met die aankondiging dat Arcelor-Mittal (Amsa) sy Saldanha-aanleg gaan sluit.

Willie Venter, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir die metaal- en ingenieurswesebedryf, sê Amsa was al lank met sy rug teen die muur sonder noemenswaardige hulp.

“Die regering moet eenvoudig sy ekonomiese beleid dringender hersien om die toenemende werksverliese te stop,” sê Venter.

Sowat 900 mense gaan hul werk in Saldanha verloor. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!