Mr. Tekkie kry u2019n blaaskans
Mr. Tekkie kry u2019n blaaskans

Mr. Tekkie kry ’n blaaskans

Nellie Brand-Jonker – Dit gaan ’n geseënde Kersfees vir die nuwe skoenwinkelgroep Mr. Tekkie wees nadat ’n interdik wat Pepkor Speciality teen die handelsmerk se gebruik wou bring eers later aangehoor gaan word.

Dit beteken Mr. Tekkie, wat nog in sy babaskoene is, sal in die belangrike feestyd steeds kan handel dryf..

Dit volg nadat regter Siraj Desai toestemming gegee het dat Pepkor ’n wysiging aan sy aanvanklike aansoek kan aanbring.

Die uitstel is nodig om tyd toe te laat vir die nuwe aansoek en die respondent se antwoordende eedsverklaring daarop.

Die hofsaak of Mr. Tekkie van die handelsmerkregister geskrap moet word, sal nou van 3 tot 6 Junie aangehoor word.

Die aansoek om ’n tussentydse interdik te kry teen Braam van Huyssteen, Bernard Mostert en AJVH Holdings en twee ander respondente om hulle te beperk om die handelsnaam Mr. Tekkie te gebruik is Dinsdag op ’n semi-dringende grondslag in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.

Van Huyssteen het Tekkie Town gestig wat nou deur Pepkor Speciality besit word wat deel van Pepkor is, wat ’n filiaal van Steinhoff is. Mostert was jare lank die uitvoerende hoof van Tekkie Town. Steinhoff het Tekkie Town in 2016 gekoop. Van Huyssteen, Mostert en ander het Mr. Tekkie vanjaar begin

Handelsmerk

Adv. Ronée Robinson SC, vir die respondent, het lank aangevoer Pepkor wil ’n interdik teen die gebruik van ’n handelsmerk kry wat al in 1999 geregistreer is voor Tekkie Town se handelsnaam geregistreer is. Sy het aangevoer die Handelsmerkwet bepaal spesifiek dat die gebruik van ’n geregistreerde handelsmerk nie inbreuk maak op ’n ander handelsmerk nie.

Sy het aangevoer Pepkor wil die wysiging aan sy aansoek aanbring omdat hy besef sy gronde om die Mr. Tekkie-handelsnaam van die handelsmerkregister te skrap is futiel.

Robinson het gesê Pepkor het in sy funderende eedsverklaring aangevoer hy kon nie enige bewyse vind van die gebruik van die Mr. Tekkie-handelsmerk nie, maar die respondente het in hul terugkerende eedsverklaring dit onder sy aandag gebring dat hy “siende blind” moet wees, want 50 meter van ’n Tekkie Town-winkel in Mitchells Plain het ’n Mr. Tekkie bestaan.

Sy het aangevoer nadat Pepkor se benadering in die aanvanklike aansoek misluk het, het hulle met ’n heeltemal nuwe saak vorendag gekom en van taktiek verander en het die maatskappy toe die aansoek gebring om sy aanvanklike saak te wysig.

Dit was deur die respondent teengestaan.

Die wysiging wat Pepkor wil aanbring, hou verband met nuwe gronde om Mr. Tekkie op grond van art. 26 van die Handelsmerkwet van die handelsmerkregister te verwyder. Art. 26 hou daarmee verband dat as ’n handelsnaam strydig met sy voorwaardes gebruik word, kan enige party ’n aansoek bring om dit te laat skrap.

Klere

Pepkor voer nou aan dat die gebruik van die handelsnaam nie die voorwaarde wat daaraan gekoppel is nakom nie. Die voorwaarde is dat dit net gebruik kan word met betrekking tot die verkoop van tekkies. Mr. Tekkie gebruik egter die handelsmerk nie net vir tekkies nie, maar ook vir klere.

Adv. Alasdair Sholto-Douglas SC, vir Pepkor, het aangevoer dit was eers nadat die respondente hul eerste winkel geopen het dat dit duidelik geword het dat hulle ook klere verkoop en ’n verdere moontlikheid geskep om die handelsnaam te verwyder.

Leanne Mostert, een van die respondente se regsverteenwoordigers van Webber Wentzel, het na afloop van die hofsaak gesê dit sal hulle nou geleentheid gee om aansoek te doen om die voorwaarde van die handelsnaam te verwyder.

Mostert het gesê die interdik sal nou saam die hoofhofgeding aangehoor word. Dit beteken dus effektief dit word tot Junie volgende jaar uitgestel.

Dit is die tweede hofsaak in ’n maand wat in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor is. Pepkor het vroeër geslaag in sy aansoek om ’n tussentydse interdik te kry om Mr. Tekkie te verbied om sekere skoene op sy rakke te hê. Van Huyssteen-hulle gaan teen die uitspraak appelleer.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!