Méér toeriste stroom na Namibië in 2015

Besoekers uit China en Angola minder
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Meer as 1,5 miljoen mense het in 2015 vanuit die buiteland in Namibië aangekom wat 'n 3%-styging teenoor die vorige jaar van 1,47 miljoen mense was. In 2015 is groei van 5,1% in toeriste-aankomste teenoor die vorige jaar getoon.
Dít is volgens die statistieke van die toeristestatistiekverslag vir 2015 wat Woensdag deur die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, bekend gestel is.
Die toptienlande wat tot Namibië se toerismemark bydra, is Angola (447 038); Suid-Afrika (351 864); Zambië (147 754); Duitsland (90 729); Zimbabwe (70 940); Botswana (45 049); die Verenigde Koninkryk (25 412); Amerika (24 430); ander Afrika-lande (20 683) en Frankryk (20 189). Die topdrielande vorm 68% van die totale toeriste-aankomste.
Toeriste-aankomste uit Afrika het met 5,2% gestyg met Angola en Suid-Afrika wat oorheers. Europese toeriste het met 5,4% gestyg met toeriste uit Duitsland en die Verenigde Koninkryk die meeste. Die toeristemark uit Noord-Amerika het 12,4% gestyg, maar 0,7% minder Chinese het Namibië in 2015 besoek.
Altesaam 53% toeriste uit Afrika kom kuier in Namibië om vriende en familie te besoek, terwyl Europeërs (77%); Amerikaners (71%); asook ander toeriste (58%) die land vir vakansiedoeleindes besoek. Die toptien vakansietoeriste uit die buiteland kom van Duitsland; die Verenigde Koninkryk; Amerika; Frankryk; Switserland; Nederland; ander lande, Italië, Portugal en België. Die toptien buitelandse saketoeriste is van Duitsland, die Verenigde Koninkryk, China, ander lande, Amerika, ander Europese lande, Frankryk, Skandinawië, Portugal en Spanje.
Statistieke van toeriste-aankomste dui aan dat toeriste van Zimbabwe langer as 'n maand in Namibië vertoef, gevolg deur toeriste van ander Afrika-lande (25 dae) en Duitsland (19 dae). Toeriste van Botswana en Frankryk kuier gemiddeld minder as 14 dae.


MANS REIS MEER AS VROUE
Wat geslag betref, het altesaam 880 991 mans (63%) Namibië besoek met 506 782 vroue (37%). Uit Afrika kom kuier 64,7% mans en 35,3% vroue, uit Europa 58,6% mans en 41,4% vroue, uit Amerika 53,7% mans en 46,3% vroue en uit ander lande 67,7% mans en 32,4% vroue.
Die ouderdomsprofiele dui aan dat die meerderheid toeriste wat Namibië besoek, in die ouderdomsgroep van 30 tot 39 jaar (26%) is, gevolg deur die 40 tot 49-ouderdomsgroep (22%). Die ouderdomsgroep met die laagste teenwoordigheid is van 0 tot 19 jaar oud (7%).
Die meeste toeriste arriveer by die noordoostelike grensposte (25%), noordelike grensposte (23,5%) en die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (23%). Die meerderheid toeriste kom Namibië per pad binne, gevolg by lughawens. In vergelyking met 2014 (72,6%), het 'n daling in die gebruik van paaie in 2015 (70,8%) voorgekom. Meer toeriste (27,1%) het in 2015 gevlieg teenoor die 25,8% in 2014.

SEISOENALITEIT
Die meeste toeriste besoek Namibië tydens die laaste kwartaal van die jaar vanaf Oktober tot Desember wat 28,3% van alle toeriste na die land behels. Altesaam 10,6% besoek Namibië in Desember, gevolg deur Augustus (9,6%). Desember is ook die maand wanneer die meeste toeriste uit Afrika kom kuier met Augustus wat die piekmaand vir oorsese toeriste is. Januarie is die swakste maand met slegs 6,5% toeriste wat die land besoek. Shifeta het gesê seisoenaliteit is een van die uitdagings wat aandag moet geniet.
" Dit is goed om te sien dat drie piektye vir oorsese toeriste nou duidelik in April, Augustus en Oktober te siene is, met toeriste uit Afrika-lande wat in Mei, September en Desember kom kuier," lui die verslag.


AANBEVELINGS IN VERSLAG
Volgens die verslag moet die Namibiese toerismebedryf aggressiewe bemarking doen en mededingende dienste en pryse aanbied. Dit is nodig om besoekers wat vriende en familie besoek, in vakansiereisigers te verander. Die onlangse binnelandse toeriste-opname het aangedui dat toeriste in hierdie kategorie nie baie geld in Namibië bestee nie, omdat hulle by vriende en familie bly.
Bemarkingstrategieë moet verbeter om Namibië te bevorder as 'n gehalte- en waarde-vir-geld-bestemming om positiewe groei en Namibië se mededingendheid in die wêreldtoerismemark te handhaaf. Belanghebbendes in die toerismebedryf moet aangemoedig word om innoverend te wees met die skep van nuwe produkte. Uitstekende diens moet gelewer word om meer toeriste te lok en huidige toeriste aan te moedig om weer te kom.
In hierdie verband is dit onvermydelik dat die Namibië Toerismeraad (NTB) die tersaaklike voorsienings en strategieë soos uitgestippel in die Nasionale Volhoubare Toerismegroei en Ontwikkelingstrategie in vennootskap met belanghebbendes implementeer.
Volgens Shifeta is dié strategie en die Nasionale Toerismebelegging-promosieprofiel en -strategie deur die kabinet en parlement goedgekeur.
Die statistieke dui ook aan dat steeds hewig op tradisionele bronmarkte soos Europa soos Duitsland en die Verenigde Nasies gesteun word. Dit is ook onvermydelik dat Namibië aggressief 'n aanvraaggedrewe, navorsingsgebaseerde bemarkingstrategie ontwikkel en implementeer. 'n Strategiese plan, sakeplan en bedryfsplan moet opgestel word wat aan die werklikhede en gewoontes van die toerismebedryf voldoen en nuwe en ontluikende markte binnedring.
Daar was 'n afname in aankomste van Angola in 2015 vanweë daardie land se ekonomiese krisis wat op die uitfasering van die Amerikaanse dollar gevolg het. Dit het ook gelei tot die afdanking van werkers en sluiting van sakeondernemings op Oshikango en ander noordelike en noordoostelike dorpe waardeur Angolese gereis het. Sake-eienaars moet oorweeg om hul sakekonsepte en kliëntesegmente te verander om Namibiese en Angolese kliënte in te sluit.
Toeristegetalle uit China het in 2015 met 0,7% gedaal weens onsekerhede in die wêreldekonomie en mededingendheid wat wêreldwyd groei.
Voorts moet die regering en die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) dit oorweeg om dié lughawe as 'n toeriste- of streeknaaf te ontwikkel. Dit sal bydra toe 'n verhoging in toeriste-aankomste en hul besteding. Met die huidige uitbreiding van die Walvisbaai-hawe wat aan die gang is, moet Namibië dit oorweeg om passasierskip-toerisme as 'n toerismeproduk in te stel.
" Hierdie bevindinge het gevolge vir die aanbod van produkte vir intra-streekreise, oorsese aankomste, asook binnelandse toerisme. Ons moet ook begin om 'n aggressiewe binnelandse bemarkingstrategie, asook 'n intra-streektoerisme-strategie toe te pas," lui die verslag.
" In ooreenstemming met die Nasionale Toerismegroeistrategie moet ons almal 'n slagspreuk aanvaar dat toerisme almal se besigheid is. Ons moet saam die regering se siening vir toerismegroei en ontwikkeling in samewerking met die private sektor aanvaar," is die verslag se aanbeveling.
Die minister bedank die NTB vir sy bemarkingspogings, die ministerie van binnelandse sake en immigrasie vir sy ondersteuning en rolspelers in die toerismebedryf vir hul advies en samewerking.
" Vir Namibië om suksesvol te wees, moet mededingendheid verhoog deur 'n uitstaande ervaring en waarde vir geld vir reisigers te verseker," het Shifeta gesê.
" Almal moet nóú saamwerk om toeriste-aankomste te laat groei, toeriste se besoeke te verleng, hul besteding te verhoog en die geografiese verspreiding van toeriste in Namibië verseker sodat almal voordeel uit toerisme kan trek."

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!