MTC, Paratus sien rooi oor CoW-lisensie
MTC, Paratus sien rooi oor CoW-lisensie

MTC, Paratus sien rooi oor CoW-lisensie

Operateurs meen die nuwe wending maak van die munisipaliteit ’n mededinger en dat hulle nie kans gegun is om beswaar aan te teken nie.
Yolanda Nel
Yolanda Nel - Die kommunikasiesektor is woedend oor die aankondiging dat die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie van Namibië (CRAN) ’n lisensie vir uitgebreide telekommunikasiedienste (ECNS) aan die Windhoek-munisipaliteit (CoW) toegeken het.

Dit nadat laasgenoemde glo vir ’n netwerkfasiliteitsdiens-lisensie (NFSL) aansoek gedoen het.

Die twee lisensies verskil in die sin dat die ECNS voorsiening maak vir die verskaffing van telekommunikasiedienste, asook die ontplooiing en bedryf van ’n netwerk.

Hierteenoor stel die NFSL die lisensiehouer in staat om een of meer netwerkelement, infrastruktuur en ander fasiliteite in stand te hou, te besit en beskikbaar te stel, wat voorsiening maak vir die verskaffing van telekommunikasie, vir uitsaai (broadcast), elektroniese kommunikasie of toepassingsdienste.

MTC se mnr. Tim Ekandjo het in ’n verklaring gesê met die NFSL-lisensie sou die munisipaliteit veseloptika aan ander gelisensieerde operateurs moes verhuur sodat dié operateurs telekommunikasiedienste kan verskaf.

Met die ECNS kan die CoW egter telekommunikasiedienste en -bedrywighede lewer, asook ’n netwerk ontplooi.

“Vir die verskaffing van telekommunikasiedienste in Windhoek moet ’n lisensiehouer dus nou goedkeuring van die CoW kry om telekommunikasietoerusting op hul grond op te stel, óf deur vir die installering van ondergrondse vesel te grawe, óf deur torings op te rig.

“Dit is vanselfsprekend dat wanneer sodanige magtiging van ’n mededinger versoek word, laasgenoemde die goedkeuring tot eie voordeel kan vertraag,” het Ekandjo gesê.

Hy sê die besluit van CRAN belemmer mededingendheid en bots met die Kommunikasiewet sowel as die wet op mededingendheid.

“Jy kan nie vir een soort lisensie aansoek doen en iets kry waarvoor jy nié aansoek gedoen het nie. As die proses behoorlik gevolg is, sou MTC ook die geleentheid gehad het om beswaar te maak of kommentaar te lewer. Hierdie prosedure is egter nie deur CRAN gevolg nie. Ons is nie die geleentheid gegun om kommentaar te lewer voordat die lisensie toegeken is nie,” het hy gesê.

Selfs Paratus het gereageer dat dit hoogs onreëlmatig is vir Cran om die lisensieklas te wysig en goedkeuring in ’n ander lisensieklas toe te ken. “Sulke wysiging word onder normale prosedurele omstandighede met openbare konsultasie en betrokkenheid deur belanghebbendes gedoen,” lui Paratus se verklaring.

Wat die stap nog meer omstrede maak, is dat die CoW se uitvoerende hoof en die munisipale raad in Maart vanjaar ’n interdik ontvang het om ingevolge die kommunikasiewet nie met Paratus se werksaamhede, insluitend die installering van veselinfrastruktuur, in te meng of te belemmer nie.

Kort nadat die lisensie aan CoW uitgereik is, het Cran insette vir die formulering van ’n potensiële wetsregulasie gevra. Deur dié regulasie wil CoW ’n verbod op telekommunikasieoperateurs plaas om telekommunikasie-infrastruktuur op paaie, sypaadjies of enige openbare plekke aan te bring. Die fokus van die regulasie is spesifiek teen die grou van loopgrawe vir veselinfrastruktuur.

Paratus het reeds met sy regspan beraadslaag oor stappe teen die CoW. Ook MTC het gesê hy oorweeg sy wetlike posisie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!