MTN betaal Taliban glo met Amerikaanse geld
MTN betaal Taliban glo met Amerikaanse geld

MTN betaal Taliban glo met Amerikaanse geld

Luidens die klagstaat het die maatskappy tot $2 000 per toring per maand aan die Taliban betaal om te verseker die terroristegroep blaas dit nie op nie.
Nie net het MTN glo wetend die Taliban in Afghanistan gefinansier nie, hulle het dit deels met Amerikaanse geld gedoen.

Dit is nog een van die skokbewerings wat gemaak word in hofstukke wat pas deur burgerlikes en weermaglede by die distrikshof in Washington D.C., Amerika, ingedien is.

Die verweerders, wat familielede insluit van soldate wat in die voortslepende oorlog in Afghanistan dood is, eis 'n onbekende bedrag in skadevergoeding van MTN en sy filiale.

Daar word beweer dat MTN en minstens sewe ander internasionale ondernemings etlike jare omkoopgeld in ruil vir beskerming aan die Taliban betaal het.

Luidens die klagstaat het MTN tot $2 000 per toring per maand aan die Taliban betaal om te verseker dat die terroristegroep dit nie opblaas nie.

Die maatskappy het gesê hy bestudeer nog die klagte teen hom, maar meen hy het nog altyd op 'n “verantwoordelike en nakomende manier” in al sy grondgebiede sake gedoen.

MTN het in 2006 die moontlikheid begin ondersoek om sake in Afghanistan te begin doen, ondanks die oorlog tussen Amerikaanse koalisiemagte en die Taliban.

Die oorlog woed steeds.

In MTN se jaarverslag van 2007 het die maatskappy erken Afghanistan is 'n “uitdagende” gebied om in sake te doen, maar dat hy “aktief” gaan probeer om die uitdagings die hoof te bied.

Dit sluit in die aanstelling van 'n krisisbestuurder en die inwerkingstellinge van “fisieke voorsorgmaat­reëls” insluitend sekerheidspersoneel.

Dié stappe het egter glo uitgeloop op MTN wat eerder net omkoopgeld aan die Taliban betaal het eerder as om self sy infrastruktuur te probeer beskerm, word in die hofdokumente aangevoer.



Amerikaanse geld gebruik

Afgesien daarvan dat MTN 'n terroristeorganisasie glo met omkoopgeld in toom gehou het, het die diensver­skaffer na bewering ook Amerikaanse kontakte en finansiering gebruik om dit te bewerkstellig.

MTN Afghanistan, 'n volfiliaal van die MTN Groep wat op die Johannesburgse aandelemark genoteer is, het $75 miljoen in Junie 2009 van 'n Amerikaanse beleggingsarm van die Wêreldbank ontvang om sy bedrywighede in Afghanistan te help finansier.

Die International Finance Corporation (IFC) het reeds in 2006 MTN se voorganger in Afghanistan, Areeba, 'n kleiner bedrag gegee, ook om te help om torings en ander infrastruktuur in die oorloggeteisterde land op te rig.

So het IFC 'n belang van 9,1% in MTN Afghanistan bekom wat hy uiteindelik in 2013 aan MTN Dubai verkoop het.

Die IFC het sy lening uit 'n rekening in New York aan MTN Afghanistan oorbetaal, en die diensverskaffer het terselfdertyd die lening na dié rekening oor etlike jare terugbetaal.

MTN Afghanistan het dus geld regstreeks uit Amerika gebruik om sy omkopery van die Taliban te finansier, voer die verweerders aan.

Voorts word daar beweer MTN in Afghanistan het doelbewus nie die IFC ingelig hy is besig om omkoopgeld aan die Taliban te betaal nie, omdat dit die IFC onmiddellik sou noop om sy finansiering te stop.

Die kontrak tussen die partye het pertinent uitgespel dat die geld nie gebruik mag word om “materiële ondersteuning aan terreurgroepe” te voorsien nie en dat MTN enige terreurverwante gebeure aan die IFC moes noem.

Dit blyk MTN het dit nooit gedoen nie.

Hierdie tipe gedrag is 'n oortreding van Amerikaanse wetgewing teen terreur en dis juis op grond hiervan dat die verweerders in die saak skadevergoeding van MTN en van sy filiale eis.

Volgens die jongste beskikbare syfers het MTN sowat 6,4 miljoen gebruikers in Afghanistan aan die einde van 2018 gehad.

Die maatskappy se inkomste uit dié gebied en Jemen saam beloop maar net R1,9 miljard vir die ses maande tot einde Junie 2019.

Dit is teenoor meer as R22 miljard wat MTN in die ooreenstemmende tydperk uit sy bedrywighede in Suid-Afrika verdien het.

MTN se aandeelprys was byna 1,3% laer op R82,49 toe die JSE Dinsdag om 12:00 vir Nuwejaarsdag gesluit het.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!