Mudge onttrek as presidensiu00eble kandidaat
Mudge onttrek as presidensiu00eble kandidaat

Mudge onttrek as presidensiële kandidaat

Hoewel die RP steeds verkiesbaar vir die Nasionale Vergadering bly, meen die party Mudge se onttrekking is in die land se beste belang.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Die Republikeinse Party (RP) het gister aangekondig hul president, mnr. Henk Mudge, onttrek as presidensiële kandidaat aan die komende verkiesing.

Die RP gooi nou sy gewig agter dr. Panduleni Itula as ­presidensiële ­kandidaat “omdat hy die enigste ander mens is wat 'n kans teen pres. Hage Geingob het om as president verkies te word”.

Mudge sê hy het 'n beroep op ander partye se kandidate gedoen om ook dié verantwoordelike stap te doen “omdat dit in die land se beste belang is”.

“Almal behoort reeds te weet hulle het geen kans nie. Itula is die één kans wat ons het om verandering in hierdie land teweeg te bring,” het Mudge gesê.

Hy het verduidelik die RP bly steeds verkiesbaar vir die Nasionale Ver­gadering (NV).

Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het gesê dit is te laat vir Mudge om te onttrek omdat stemlyste reeds gefinaliseer is, maar Mudge sê die ECN probeer kiesers verwar.

“Ons het nié die lys vir ­presidensiële kandidate afgeteken nie, maar slegs die een vir die NV,” het hy gesê en ­bygevoeg hulle sal voorts regsaksie teen die ECN instel.

Die ECN se hoofkiesbeampte, mnr. Theo Mujoro, het gister aan Republikein gesê presidensiële kandidate kan nie ná die sluiting van nominasies op 18 Oktober onttrek nie. Dit kom nadat die Namibia Economic Freedom Fighters (NEFF) se presidensiële kandidaat, mnr. Epafras Mukwilongo, ook aangedui het dat hy gaan onttrek en dat sy party ook vir Itula gaan steun.

“Selfs al wil die ECN nie ons ­onttrekking aanvaar nie, sal ons ons lede versoek om vir Itula te stem,” het Mukwilongo gesê.

Mudge meen Namibië is diep in die moeilikheid en het na voorbeelde soos die GIPF- en SME Bank-­skandaal verwys.

“Die Harambee-span en -vriende, wat die Chinese insluit, het hierdie land geplunder tot waar ons letterlik bankrot is. Dit is miljarde, nie net miljoene nie.

“Ons kort 'n nuwe president en nuwe regering. Pres. Geingob het getoon hy het nie wat nodig is om hierdie nasie te laat floreer nie.

“Die kommerwekkendste is dat ­korrupsie, onder sy presidentskap, vererger het tot waar ons waarskynlik een van die mees korrupte lande in Afrika is. Dit wil gedoen wees!” het Mudge gesê.

Hy het gesê Swapo maak voort­durend dieselfde ou beloftes en roem hulle op wat hulle sedert onafhanklikwording vir die land gedoen het, wat “'n blatante leuen” is.

Mudge meen opposisiepartye het die verantwoordelikheid om die nasie 'n alternatief te gee, maar kan nie omdat hulle te versplinter is.

Hy het gesê die RP se pogings om opposisiepartye te oortuig om 'n verenigde front te vorm, is deur egoïsme in die wiele gery.

Mudge het ook gesê die RP is nie net vir witmense nie.

“Kyk wie sit saam met my aan die tafel. Die wittes is die minderheid.”

Mudge het gesê die RP belowe hy gaan die hof inspan om Swapo te dwing om die Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag(SWATF)- en Koevoet-soldate as oorlogsveterane te erken.

Sy party belowe ook om die stemtoestelkwessie hof toe te neem, al beteken dit hulle staan alleen, het Mudge gesê.

Hy het gesê 'n gebrek aan ander ­opposisiepartye se finansiële steun is die rede waarom daar dadels gekom het van die beplande hofsaak om die gebruik van die EVM's af te skaf.

Mudge het verder gesê hy wil duidelikheid verskaf ná “'n persoonlike aanval in Republikein ” oor die party se steun aan SWATF- en Koevoet-soldate wat nie as veterane erken word nie.

“Die mense ly al baie lank en het uit desperaatheid reeds na ander politieke partye vir hulp uitgereik, maar almal het hulle gefaal.”

Mudge sê ná die RP genader is, het die party hulle finansieel gesteun om die Namibië Oorlogsveteranetrust (Namvet) te vorm.

“Terselfdertyd het ek dit aan hulle gestel ek is nie besig om stemme te koop nie en hulle is vry om vir enigeen te stem.” - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!