Mugabe-dood met gemengde gevoelens ontvang
Mugabe-dood met gemengde gevoelens ontvang

Mugabe-dood met gemengde gevoelens ontvang

Denver Kisting
Denver Kisting



Pres. Hage Geingob is die naweek aanlyn gekasty ná hy na wyle oudpres. Robert Mugabe van Zimbabwe as 'n ikoon verwys het.

Tydens Saterdagoggend se opening van Swapo se kieskollege in Windhoek het Geingob gevra afgevaardigdes moet vir 'n oomblik van stilte ter ere van Mugabe opstaan, wat die vorige dag in die ouderdom van 95 jaar dood is.

Dít het 'n stortvloed kritiek ontketen van mense wat Mugabe as 'n diktator beskou wie se presidentskap reuse-ellende in die buurland teweeggebring het.



Nalatenskap van ­menseregteskendings

Me. Rikki Nathanson, 'n Zimbabwiese menseregteaktivis, het die naweek by navraag gesê sy “weet eerlik nie waar om te begin oor my gevoelens oor hierdie nuus nie”.

Nathanson, 'n transvrou wat Zimbabwe weens verskeie onwettige vervolgings verlaat het en tans in die Verenigde State van Amerika (VSA) woon, sê: “So, Robert Mugabe is dood. Al wat ek kan sê, is my gevoelens is gemeng, dalk verward. Ja, hy was die 'bevryder van die nasie', maar bevryding was nie vir almal beskore nie.”

Volgens haar het cisgender heteroseksuele mense aanvanklik “in 'n staat van vryheid geleef, terwyl lesbiese, gay, biseksuele en transgender mense met honde en varke vergelyk is deur die man wat die boeie van kolonialisme gebreek het – net om die weerlose minderhede met haat te onderdruk”.

Nathanson sê wyle Mugabe het onder meer verkiesingsveldtogte, begrafnisse en troues gebruik om haatspraak te verkondig.

“Ons is geslaan, geteitser en in tronke toegesluit. Hy mag dood wees, maar sy nalatenskap leef voort. Die nalatenskap wat duisende van ons gedwing het om Zimbabwe te verlaat om fisiek, emosioneel, verstandelik en finansieel te oorleef.”

Sy het erken sy dood laat haar verlig hoewel steeds hartseer.

“Al wat ek kan sê as 'n Zimbab­wiër wat gedwing is om in die buiteland te woon, is ek voel verlig en selfs verheug oor die voormalige president van Zimbabwe se dood, maar ek voel steeds hartseer omdat ek geen onmiddellike verligting voorsien vir diegene wat agterlaat is nie.”

'n Landgenoot wat in Namibië woon, het op voorwaarde van anonimiteit vir Nathanson gelyk gegee. Sy sê sy glo nie Mugabe se dood sal vir die deursnee-Zimbabwiër onmiddellike verligting bring nie.

Geingob het gesê Mugabe was 'n uitstekende rewolusionêr, 'n verbete vryheidsvegter en 'n toegewyde pan-Afrikaan.

“Pres. Mugabe het reuse­opofferings gemaak in die stryd teen ongeregtighede en die bevryding van Suider-Afrika van rasse- en koloniale onderdrukking,” het hy by monde van sy woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, gesê.

Oudpres. Sam Nujoma het ook die afgelope naweek by die koor van hulde vir die ontslape oudleier van die buurland aangesluit.

Mnangagwa het op sy beurt heldestatus aan Mugabe toegeken.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!