Mugabe mag sy limousine behou
Mugabe mag sy limousine behou

Mugabe mag sy limousine behou

Robert Mugabe, oudpresident van Zimbabwië, se begroting vir uitgawes soos motors, buitelandse reise en lyfwagte is drasties besnoei.

Mugabe mag wel sy koeëlvaste swart Mercedes-Benz-limousine behou, maar dit sal nou 'n burgerlike nommerplaat hê, en nie die bekende “Zim 1” nie. Pres. Emmerson Mnangagwa, wat Vrydag as Zanu-PF se enigste presidensiële kandidaat vir 2018 se verkiesing benoem is, het 'n vleuel van die presidentskantore en 'n biblioteek aan Mugabe vir amptelike besoeke afgestaan.

Mugabe is in November oortuig om die tuig neer te lê ná 'n militêre oorname.

The Independent in Zimbabwe berig dat Mugabe en sy vrou, Grace, verlede week met 'n drasties ingekorte gevolg na Singapoer vertrek het. Grace het aangedring om sowat ses lyfwagte te behou.

“Mugabe moes ingee en toestem tot minder sekuriteitswagte en minder volgelinge sodat Grace haar eie ses lyfwagte kon behou,” sê 'n regeringsbron.

In die verlede sou Mugabe se gevolg uit sowat 80 mense bestaan het.

Mugabe mag beperkte buitelandse reise ingevolge sy nuwe aftree-ooreenkoms onderneem. Terwyl hy nog president was, het hy sowat US$32 miljoen (R420 miljoen) tussen Januarie en September vanjaar aan buitelandse reise bestee.

Mnangagwa en sy kabinet sal ook die gordel stywer moet intrek.

Patrick Chinamasa, die nuwe minister van finansies, het slegs US$17 miljoen (R222 miljoen) in sy nuwe begroting aan Mnangagwa en sy kabinet vir buitelandse reise toegestaan.

Sekuriteit by Mugabe se sogenaamde Bloudakpaleis, waar die Mugabes onder huisarres was, is van 85 wagte tot 20 verminder.

Volgens die koerant wil Mnangagwa verseker dat Mugabe in sy aftrede so gemaklik as moontlik leef. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!