Mugabe vertrou g'n opvolger
Mugabe vertrou g'n opvolger

Mugabe vertrou g'n opvolger

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe het nog nie planne om uit te tree nie ondanks sy gevorderde ouderdom en groeiende kommer oor sy gesondheid.
Frank Chikowore



Zimbabwe se pres. Robert Mugabe het aan duisende van die regerende Zanu-PF-party se ondersteuners by 'n byeenkoms by die Chinhoyi- Universiteit van Tegnologie gesê hy is steeds in staat om president van dié Afrikaland te wees.

'n Skeuring dreig in die veteraanleier se party omdat hy nog nie 'n opvolger aangewys het wat ná 39 jaar in sy voetspore moet volg nie.

Mugabe het gesê hy bly in sy pos aan omdat sy party erg verdeeld is. Hy het dus nie vertroue in enige ander Zanu-PF-lid om teen Morgan Tsvangirai, voormalige premier van die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC), in die verkiesing te staan nie.

“Sommige mense sal graag president van dié land wil wees. Sommiges sê die president is op pad, maar ek gaan nêrens nie. Sommige sê ek is besig om dood te gaan, maar ek gaan nie dood nie,” het Mugabe gesê.

Mugabe (93) sê hy is bang dat enige ander persoon wat hom wil opvolg, nie vir Tsvangirai in die verkiesing sal verslaan nie.

Zimbabwiërs sal volgende jaar hul kruisies trek. Zanu-PF is in twee duidelike faksies verdeel.

Een faksie word volgens gerugte deur Emmerson Mnangagwa, Mugabe se adjunk, gelei. Die ander faksie, wat uit Jong Turke bestaan, hoop dat Grace Mugabe, die president se vrou, die nuwe leier word.

“Enigiemand wat wil oorneem, sal met verloop van tyd deur die mense aanvaar moet word. Daar is tans geen eenheid in die party nie en die MDC sal sonder enige moeite wen as iemand nuut teen Tsvangirai te staan kom,” het hy gesê.

Die 93-jarige Mugabe se aankondiging dat hy nog nie gereed is om uit te tree nie, het gekom nadat sy vrou hom 'n paar dae gelede aangemoedig het om sy opvolger bekend te maak.

Mugabe se uitlatings kom op 'n tyd waarin Tsvangirai en ander pro-demokratiese groepe 'n beroep op Zimbabwiese rolspelers gedoen het om die mag af te staan omdat hulle misluk het daarin om die belange van dié verarmde nasie op die hart te dra.

Promise Mkwananzi, woordvoerder van die Tajamuka-drukgroep, het gesê Mugabe is lankal nie meer geskik om te regeer nie en dat hy moet uittree sodat nuwe bloed kan oorneem.

“Hy (Mugabe) is oud en swak en moet daarom bedank, want hy is onbevoeg om die land te lei,” het Mkwananzi gesê.

Maar Mugabe – wat die afgelope ruk talle kere na Singapoer moes reis vir mediese behandeling – het gesê hy het steeds die energie om Zimbabwe se president te wees.

“My dokters het gesê my organe is steeds baie sterk. Hulle was verras om te sien dat my bene steeds sterk is en ek bid tot God dat Hy sal aanhou om my die kans op lewe sal gee,” het hy gesê. -Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!