Mugabes het Zim gemelk
Die presiese omvang van die rykdom van die voormalige presidentspaar is nie bekend nie.
Die oorsprong van oudpres. Robert Mugabe en sy vrou, Grace, se rykdom is glo staatshulpbronne, plase wat van kommersiële boere afgeneem is en onwettige diamanthandel.
Hul skatte is gebruik om onder meer motors, juwele en etlike paleise in Zimbabwe, Suid-Afrika, Maleisië en China te koop.
Die presiese omvang van hul rykdom is nie bekend nie.
In 2004 het die Zimbabwiese reserwebank Grace luidens ’n berig in BuzzSouthAfrica.com glo N$20 miljoen uit die staatskoffers betaal.
Luidens ’n dokument op WikiLeaks het Grace en haar skoonsuster, Sabina Mugabe, en verskeie hooggeplaaste staatsamptenare, insluitend weermaggeneraals, onwettig diamante by myners van die Chiadzwa-myn gekoop en vir miljoene dollars herverkoop.
Sedert die regering die myn in 2006 oorgeneem het, is nywerheidsontginning gestaak en word diamante met die hand uitgehaal.
Gideon Gono, destyds president van die reserwebank, het in 2008 gesê die myn se diamante is so waardevol dat as die bedrywighede gewettig word, die maandelikse wins van sowat N$16 miljard die land se ekonomiese probleme sou oplos.
In 2005 het Grace ’n kommersiële melkplaas van ’n boer oorgeneem en dit tot Gushunga, haar man se stamnaam, hernoem. Die eens winsgewende plaas het onder haar leiding getaan.
Grace sukkel steeds om meer as US$1 miljoen terug te kry wat sy glo in ’n mislukte diamantring-transaksie met ’n Libanese sakeman verloor het.
Die staatsbeheerde Herald het berig dat sy in hofdokumente wat by die hooggeregshof in Harare ingedien het, sê sy het Jamal Joseph Ahmed in 2015US $1,35 miljoen vir ’n diamantring betaal.
Volgens haar het sy egter ’n minderwaardige ring ontvang wat net US$30 000 werd is.
Die Mugabes se seuns, Robert en Bellarmine Chatunga, het hul ma se duur smaak geërf. Bellarmine het twee weke gelede op Instagram ’n foto geplaas van sy horlosie van US$60 000 waarop Armand de Brignac Gold, een van die duurste sjampanjes ter wêreld, gegooi word.
“$60 000 on the wrist when your daddy run the whole country ya know!!!” lui die onderskrif.
Grace het luidens ’n berig van News24 in September vanjaar ’n Rolls-Royce 2017 Ghost-model vir N$5,8 miljoen kontant gekoop. Russell Goreraza, haar seun uit haar eerste huwelik, het glo ook twee Rolls-Royce-limousines na Harare ingevoer.
BLOU PALEIS
In 2003 beskryf die Britse Sunday Times die prag en praal van die sogenaamde Blou Paleis met sy blou dakteëls in die rykmansbuurt Borrowdale in Harare.
Benewens enorme slaapkamers is ’n gimnasium, sauna, biblioteek, kroeg, snoekerkamer, onthaalsaal, kombuis en spens gebou. Niks is aan goue kandelare, ingevoerde Italiaanse teëls en toebehore ontsien nie.
Grace het vroeër ook haar ander huis in dié buurt, “Gracelands”, aan wyle Moeammar Ghaddafi verkoop.
In Mei vanjaar is ’n huis in Sandhurst, Johannesburg, vir R45 miljoen via ’n dopmaatskappy aan Grace verkoop. Die huis het glo volgens ’n berig op iol.com groot grasperke, ’n koivisdam, ’n somerhuis, kothuis, ses onthaalvertrekke, vier slaapkamers en vier badkamers.
Die Mugabes het glo ook huise in China, Hongkong en Maleisië.
Grace het luidens ’n berig in BuzzSouthAfrica in 2003 ’n opskudding veroorsaak toe sy sowat US$120 000 op ’n inkopietog in Parys bestee het. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie