Muhammad Ali (1942-2016): ‘The Greatest’ – vir altyd
Egmont Sippel - As ek ryk genoeg was, het ek Saterdag ’n vliegtuigkaartjie Louisville toe bespreek.
Dis waar Cassius Marcellus Clay 74 jaar gelede gebore is.
Dis ook waar die wêreld in die komende week van Muhammad Ali se stoflike oorskot afskeid sal neem.
Tussendeur was daar ’n reis – ’n verstommende en fassinerende reis – van Odusseïese omvang.
Deur hemel en hel het hierdie man gesweef en geworstel, nie net op fisieke vlak as die grootste bokser nóg nie, maar ook op geestelike vlak as een van die geskiedenis se belangrikste katalisators vir die hervorming van ons denke oor vryheid, gelykheid en geregtigheid.
So groot en wyd en diep was hierdie reis, dat Ali op sy hoogtepunt waarskynlik die planeet se herkenbaarste lewende gesig was.
Feitlik een en almal onthou iets omtrent hom: ’n foto, ’n geveg, ’n video, ’n grappie, ’n sêding, ’n voorspelling van die ronde waarin hy ’n teenstander sou uitslaan, ’n rympie waarin dit voorgedra is:
“I’ll be peckin’ and a-pokin’/ this ain’t no jokin’/ I’ll pour water on Joe’s smokin’/ This will shock and amaze ya/ But I’m gonna retire Joe Frazier . . .”
Dít nou voor sy geveg teen Smokin’ Joe op 8 Maart 1971 in New York se Madison Square Garden – ’n geveg wat, om verskeie redes, as ’n waterskeiding in Ali se loopbaan figureer.
Maar belangrik: Geensins as die énigste waterskeiding nie, want daar was baie in ’n loopbaan en inderdaad lewe wat sport, godsdiens, sosio-politiek, persoonlike waardes en die innerlike reis soos nog geen ander met mekaar verweef en geïntegreer het nie.
Dit begin, hierdie reis, min of meer op die dag toe die fiets van ma Odessa en pa Cassius Marcellus Clay se jongste gesteel is. Vir geregtigheid gaan klop Cassius jnr. by die voormalige polisieman, Joe Martin, aan.
“Ek wil daai dief só graag opfoeter,” aldus Cassius. “I wanna whip him so bad.”
Martin se advies was dat die jongeling eers by sy gimnasium moes aansluit om te leer boks voordat hy houe begin uitdeel. Clay was 12 jaar oud. Ses jaar later, in 1960 in Rome, hang ’n goue Olimpiese medalje om sy nek.
Terug in Louisville was die geldbase koorsig in hul geesdrif om kontrakte met die jong bokser te sluit.
Cassius, van sy kant af, het nie gras onder sy voete laat groei nie. “Archie Moore will fall in four”; Archie val in die vierde ronde. “If Cooper likes to mix/ I’ll take him in six/ but if he talks some jive/ I’ll cut it to five”.
Our ’Enery (soos die Britte ‘Henry’ sê), val in vyf; en toe die grote: Sonny Liston.
’n Massiewe beer van ’n mens was Liston, wat heel gepas as The Big Ugly Bear deur Clay getipeer is. Sonny het die swaargewigtitel gewen deur Floyd Patterson in die eerste ronde uit te slaan en dit verdedig deur Floyd vir ’n tweede keer in die eerste ronde te verwoes.
Geen kans dus nie, het die kenners soos een man van Cassius se 1964-aanslag op Liston se titel gesê. Te nat agter die ore; die uitdager was maar 22 jaar jonk. Nog nooit getoets nie; geen teenstander kon al ’n handskoen op die vinnig bewegende Clay lê nie. Te laag met die hande geboks; Cassius het homself hoofsaaklik verdedig deur uit die pad van gevaar te dans, met sy hande op sy heupe.
Liston gaan so ’n bokser vermoor. Aldus die kenners.
Maar hier was hul eintlike beswaar: Die vrypostige Clay – ook as die Louisville Lip bekend – se bek was eenvoudig te groot.
En toe verneder Cassius vir Sonny.
Massiewe skok het seismiese vlakke bereik toe die nuwe wêreldkampioen homself ’n paar dae later eers as Cassius X voorgestel het, en kort daarna as Muhammad Ali.
Die naam, het hy verduidelik, is deur Elijah Muhammad aan hom gegee. Elijah was die giftige klein leier van die gehate, en selfs gevreesde, Nation of Islam-sekte. Die swaargewigkampioen van die wêreld se nuwe trawante was radikale swart bewusmakers soos Malcolm X en sy kader.
‘NO VIETCONG EVER CALLED ME NIGGER’
Skielik was Ali dus op die publiek en sportbase se swartlyste. Saam met die Black Panthers en Black Muslims het hy wit Amerika se vyand nommer een geword. Dat hy homself “The Greatest” genoem het, was sout in die wonde.
Uit die bloute is sy weermagstatus dus verander sodat hy vir die oorlog in Viëtnam opgeroep kon word.
Toe Ali weier (onder meer deur te verklaar: “No Vietcong ever called me Nigger”), is hy vroeg in 1967 – op ouderdom 25 – van sy wêreldtitel en bokslisensie gestroop en tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Ali se siening was dat hy eerder teen ongeregtighede aan die tuisfront sal baklei. Om mense in verre plekke te gaan doodskiet, was uit die bose.
Vir die reg om in sy religieuse en menslike beginsels te glo, én dit uit te leef, was Ali bereid om tronk toe te gaan, of selfs te sterf.
In die tronk het hy nooit beland nie en later van tyd is die vonnis inderdaad nietig verklaar. Tydens Ali se onaktiewe jare, in die fleur van sy lewe, het die formidabele Joe Frazier egter kampioen geword.
Uiteindelik het die twee ontmoet en op 8 Maart 1971 het Frazier ’n epiese geveg gewen deur Ali in die 15de ronde plat te slaan, waarna Smokin’ Joe drie jaar later deur ’n jong monster genaamd George Foreman vermorsel is.
Watter kans kon Ali dus, teen daai tyd al 32, teen Big George staan?
Op 19 Oktober 1974 het hy die wêreld nogmaals aan sy bonatuurlike vermoëns herinner toe hy Foreman in Zaïre se sogenaamde “Rumble in the Jungle” sou uitslaan.
’n Laaste groot epiese Ali-geveg, die “Thrilla in Manila” teen Frazier, het ’n jaar later gevolg. Hierdie derde brutale konfrontasie tussen twee reuse van die swaargewigkryt het albei boksers tot ’n groot mate van alle mojo gedreineer.
In later jare het Joe sy woorde begin sleep en ’n afgeleefde Ali is ná ’n paar krytnederlae – in gevegte wat nooit moes gewees het nie – in 1984 met Parkinson se siektes gediagnoseer. Hy was duidelik nie meer in staat om sy leuse van ouds (“Float like a butterfly, sting like a bee”) of sy beroemde Ali-shuffle (waarin sy voete teen die spoed van lig gekris-kruis is) uit te leef nie.
GROOTHARTIG
Sy grootste oorwinning is uiteindelik egter buite die kryt behaal toe die Amerikaanse publiek – en inderdaad die ganse wêreld – hom vir sy beginselvastheid, heldemoed, durf en groothartigheid as mens begin waardeer het.
Ali was ’n onmeetbare krag vir die goeie.
In die kryt het hy monsters in die vorm van Foreman, Frazier, Liston en Norton geslag – teen Norton het hy selfs vir 11 rondes lank met ’n gebreekte kakebeen baklei – maar buite die kryt het hy ’n globale ikoon van menslikheid en geregtigheid geword.
Terugskouend het mense ook begin verstaan dat wat destyds as grootpratery geïnterpreteer is, eintlik meelewende spot en tong-in-die-kies humor was.
’n Teken van die respek wat Ali verwerf het, was toe hy die Olimpiese vlam vir die 1996-Spele in Atlanta moes aansteek.
Hoe woes hy weens Parkinson’s gebewe het – en hoe vasberade hy ten spyte daarvan was om die taak met grasie en waardigheid af te handel – het menige traan reg rondom die aardbol losgepink.
Ná Saterdag het daai hartseer in ’n vloed verander.
Vir só ’n man, só ’n reus, sou ek Amerika toe vlieg om my respekte tydens ’n begrafnisdiens te betoon.
“The Greatest” was hy ongetwyfeld. “The Greatest” sal hy altyd wees.
• MultiChoice het op DStv se kanaal 199 begin om die legendariese Muhammad Ali se lewe te vier ná die bokser se afsterwe. Die kanaal sal van Ali se grootste gevegte wys, asook onderhoude met hom en dokumentêre opnames oor sy lewe. Dit sal tot komende Sondag uitgesaai word. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie