Muise dalk waarom grasvreters hier oorleef

'n Wetenskaplike het vyf maande lank in die woestyn gekampeer om 'n muis te bestudeer wat nêrens anders in die wêreld voorkom nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Was dit nie vir die aktiwiteite van 'n piepklein muis in die Namibwoestyn nie, sou groot grasvreters soos sebras en gemsbokke waarskynlik nie hier kon oorleef nie.

Dit volgens die Namibiese weten­skaplike Halle Shaanika, wie se navorsing bewys het dat die aktiwiteite van die Setzer-haarpootnagmuis (Gerbilliscus setzeri) van enorme ekologiese belang in die dorre gebied is.

Dié muis kom ook nêrens anders in die wêreld voor nie.

“Die invloed van die muise op plantegroei help om die teenwoordigheid van groot grasvretende diere soos die gemsbok en sebra te verklaar – in sulke droë gebiede waar hulle normaalweg weens 'n gebrek aan kos nie sou oorleef nie,” sê Shaanika.

In 'n wetenskapsartikel wat Shaanika op 9 Desember verlede jaar op die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE) se Conservation Namibia se webjoernaal gepubliseer het, vertel hy hoe hy vyf maande lank in die woestyn gekamp het om dié besonderse knaagdiertjie te bestudeer.

Shaanika sê sy fokus was die gebied 60 km buite Swakop naby die Husab-uraanmyn.

“Sulke navorsing is nie vir 'n lui man nie! Ek het tussen 30 en 60 km per dag met my 4x4 vetwielfiets gery. Ek moes al my toerusting, asook 10 liter water saamry – oor berge en heuwels – om tot by die plek te kom waar ek my navorsing gedoen het.

“Hoewel ek alleen was, het ek soos 'n soldaat gewerk en was ek te besig om eensaam te wees,” sê Shaanika.



KLEIN INGENIEURS

Hy sê die haarpootnagmuis, wat tussen 30 en 40 g weeg en sowat 27 cm lank is (waarvan meer as die helfte sy stert is), se gate word kol-kol oor bykans die hele sentrale Namib aangetref en plantegroei is tipies digter in dié kolle.

Shaanika sê ander spesies haarpootnagmuise is al oraloor die wêreld bestudeer omdat hulle bekend is daarvoor dat hulle die grond se eienskappe verander deur gate te grawe.

“Dit word ekologiese ingenieurswese genoem wanneer die 'klein ingenieurs' se aktiwiteite die toestande van grond vir ander spesies verander.

Hul aktiwiteite sal byvoorbeeld die grond se struktuur en deurlaatbaarheid verbeter, toegang tot lug verhoog, die tempo verbeter waar­teen water dit kan binnedring, die grond se vrugbaarheid verhoog en ook plante se produktiwiteit verbeter,” het hy verduidelik.

Hy sê tot dusver is studies hieroor meestal in “natter ” omgewings as die Namibwoestyn gedoen – dalk omdat wetenskaplikes nie verwag dat die diertjies ook so 'n groot impak in droër omgewings kan hê nie.

Shaanika skryf daar was tydens 'n kleiner studie in 1987 aanduidings dat die Setzer-haarpootnagmuis inderdaad ook ekologiese ingenieurs is.

“My studie het voortgebou op hierdie vroeë resultate deur die impak van die muise op 'n veel groter skaal te bestudeer.

“As ek kon vasstel dat die muise wel ekologiese ingenieurs is, beteken dit hulle is noodsaaklik vir die gesondheid van die dorre Namib-ekostelsel.”

Hy hét bewys dat dié muise ware ekologiese ingenieurs is.



'N MUIS SE WAARDE

Hy sê die sleutelvraag in sy studie was: Wat is die waarde van die Setzer-haarpootnagmuis vir die Namibwoestyn?

Shaanika het bevind dat kolle plante dikwels meer dig voorkom waar die muise gate grou en plantegroei word die meeste bevoordeel op plekke waar die muise voorheen gate gegrawe het, maar wat nie meer aktief gebruik word nie.

Hy meen dit gebeur omdat die muise se aktiwiteite die grond se vrugbaarheid en tekstuur verbeter – dan kan water dit vinniger indring en hou die grond die water beter.

“Omdat hul gate die vog in die grond asook plante se produktiwiteit beïnvloed, is dit waarskynlik dat hul voorkeure vir grond en keuse van habitat 'n faktor is in die verspreiding van grasvretende herbivore,” het hy gesê en bygevoeg dit is iets wat tydens 'n volgende studie ondersoek kan word.

Shaanika gee toe dat die muis nie die enigste of hoofrede mag wees vir digter plantegroei in die woestyn nie.

“Wetenskaplikes weet natuurlike meganismes soos watervloeipatrone kan ook vir hierdie patrone van plantegroei verantwoordelik wees.

“Die ekologiese belangrikheid van hierdie klein, haarvoetige knaagdiere is egter te groot om te ignoreer,” het hy gesê.

Shaanika het sy meestersgraad in wetenskap in November verlede jaar by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) onder die toesig van prof. Theo Wassenaar (Nust) en dr. Seth Eiseb (Unam) behaal. Hy beplan om sy PhD in natuurlike hulpbronne vanjaar by Nust te voltooi.

Sy studie is deur Swakop Uranium asook NCE befonds en onder Gobabeb se Namib ekologiese herstel- en moniteringseenheid uitgevoer.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!