MultiChoice help skole
MultiChoice help skole

MultiChoice help skole

Hulpbronsentrums by 300 skole landwyd gevestig.
Francoise Steynberg
Augetto Graig – MultiChoice Namibië het verlede week met hul skolehulpprogram vir 2017 by die Sekondêre Skool Jan Möhr in Windhoek begin.

Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa, het leerlinge toegespreek en gesê hulle moet 'n les uit 2016 se uitslae leer en hul punte verbeter.

“Ek wil A’s en B’s sien, ten minste C’s,” het sy gesê.

“Om 'n graad te druip is nie die einde van die wêreld nie - dit is die begin van 'n nuwe uitdaging wat net deur jouself oorwin kan word. Ek moedig julle aan om met nuwe vasberadenheid 'n punt te bewys - ook aan julself.

“Moenie omstandighede as verskoning om te misluk gebruik nie, kom dit eerder te bowe,” het sy gesê.

“Ons sal nie aanhou om julle kanse te gee om te misluk nie."

Hanse-Himarwa het die leerlinge gevra om opnuut te fokus en hulself ernstig aan hul skoolwerk toe te wy.

MultiChoice Namibië se hulp en aansienlike belegging in hulpbronsentrums by meer as 300 skole landswyd bied 'n gulde geleentheid ook aan Jan Möhr-leerlinge, het sy gesê.

Me. Milka Mungunda, MultiChoice se raadsvoorsitter, het by dieselfde geleentheid gesê die maatskappy se prioriteit vir die volgende drie jaar is die opgradering van bestaande sentrums.

In 2016 is hulp aan skole in die Erongo-, Hardap-, Kavango-, Omusati- en Omahekestreek verleen.

Dit behels die installering van satellietskottels, PVR-dekodeerders en TV-stelle waarop DStv se opvoedkundige kanale uitgesaai word.

Onderwysers by die begunstigde skole ontvang ook opleiding in die gebruik en tegniese hantering van die toerusting, asook hoe om dit tot voordeel van hul lesse te gebruik.

“Julle moet eienaarskap van die toerusting neem en dit mooi oppas om te verhoed dat dit breek of wegraak, sodat ander ook daarby kan baat,” het Mungunda gesê.

Me. Lizette Foot, MultiChoice se hoofwoordvoerder, het gesê: “Vandag se kinders word groot met TV en video. As 'n tegnologiemaatskappy is MultiChoice nog altyd trots daarop om ons sukses in menslike hulpbronne te koppel aan ons sukses as 'n maatskappy. Die sukses en impak van enige tegnologiese gereedskap hang geheel en al af van die menslike element,” het sy gesê.

“Televisie kan gebruik word om abstrakte idees lewendig te maak en leerlinge in kontak te bring met mense en gebeurtenisse wat hul nooit gedink het moontlik is nie.”

Mnr. Clement Kloppers, die skool se hoof, was gasheer vir besoekers soos die permanente sekretaris, me. Sanet Steenkamp, en haar adjunk, adv. Bience Gawanas, Khomas se onderwysdirekteur, mnr. Gerard Vries, en Jan Möhr se skoolraadvoorsitter, mnr. Gert Maasdorp.

Volgens Kloppers is ouerbetrokkenheid noodsaaklik vir leerlinge se sukses. Hy het die teenwoordigheid van die skool se ouerondersteunersklub geloof. Hy het ook aangekondig dat dit sy laaste jaar as skoolhoof sal wees en dat hy wil hê die Sekondêre Skool Jan Möhr moet nommer een in die land wees in 2017.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!