Mundial appelleer teen Kora-uitspraak
Mundial appelleer teen Kora-uitspraak

Mundial appelleer teen Kora-uitspraak

Henriette Lamprecht
Ellanie Smit

Mundial Telecom Sarl appelleer in die hooggeregshof teen ’n onlangse hoërhofuitspraak waarin die regter beveel het dat die maatskappy die geld wat hy aan die Namibiese Toerismeraad (NTB) verskuldig is, terugbetaal.

Dit volg nadat Mundial versuim het om die Kora-Toekenningsaand in 2016 aan te bied.

Regter Herman Oosthuizen het in Januarie in NTB se guns beslis in ’n hofsaak wat sedert 2016 voortsleep.

Oosthuizen het opdrag gegee dat Mundial ’n bedrag van sowat N$23,5 miljoen aan NTB moet terugbetaal, met 20% rente per jaar vanaf 1 Julie 2016 tot die datum van finale betaling. Mundial moet ook die NTB se regskoste dra.

Mundial Telecom Sarl vra dat Oosthuizen se bevel ter syde gestel en NTB se eis van die hand gewys moet word.

In die aansoek sê Mundial Oosthuizen het in verskeie van sy bevindinge ten opsigte van die wet en feite gefouteer.

Die kwessie dateer terug tot September 2016 toe NTB vir die eerste keer Mundial Telecom Sarl, die stigter van die Kora-toekennings, mnr. Ernest Adjovi en mnr. Tonata Shiimi vir N$23 miljoen (plus 20% rente) gedagvaar het.

NTB het vir ’n Platinum Toerismepakket betaal, maar dit nooit ontvang om Namibië te bemark nie.

Mundial Telecom besit die regte om die Kora-toekennings aan te bied, terwyl Andjovi as die president van die maatskappy opgetree het en Shiimi die nasionale direkteur van die toekennings was.

Mundial Telecom het ooreengekom om die geleentheid op 20 Maart 2016 in Namibië aan te bied. Die aanvanklike datum was 13 Desember 2015, maar dit is tot die volgende jaar uitgestel.

Volgens die kontrak wat op 4 Desember 2015 onderteken is, moes NTB N$23,5 miljoen voor of op 10 Desember 2015 betaal.

Hofdokumente wys die eerste paaiement van N$5 miljoen is op 22 Desember 2015 betaal en die tweede van N$5 miljoen op 23 Desember 2015.

Op 7 Januarie 2016 is ’n verdere N$5 miljoen oorbetaal en op 17 Februarie 2016 is N$8,5 miljoen betaal. Die geld is in die bankrekening van Mundial Telecom in Abidjan in die Ivoorkus inbetaal.

Die laaste betaling is gedoen sowat ’n maand voor die toekenningsaand in Namibië, terwyl die beloofde bemarkingspakket insetsels oor die land gewaarborg het teen ten minste 20 Januarie en wat op alle deelnemende Afrika-televisiekanale uitgesaai sou word.

Mundial sê in sy appèlaansoek Oosthuizen het fouteer toe hy bevind het die maatskappy se besluit om die Kora-toekennings weens laat betalings op 15 Maart 2016 te kanselleer, was in teenstelling met hul ooreenkoms en bloot om verlore aansien te herwin. Volgens die maatskappy het die besluit om te kanselleer onder meer ontstaan aangesien niks in die ooreenkoms hulle verhinder het om dit as gevolg van NTB se vertrouensbreuk te kanselleer nie. Oosthuizen het glo ook gefouteer deur die feit te verwerp dat Mundial se besware ontstaan het uit sy ooreenkoms met die regering.

Mundial sê dit is ten spyte van die onbestrede feite en bewyse dat die kansellasie uitsluitlik gebeur het weens die NTB wat nie aan die betalingsvereistes van die ooreenkoms voldoen het nie.

“Die ooreenkoms met die regering was duidelik die bron wat oorsprong gegee het aan die verpligting om die geleentheid aan te bied. Die ooreenkoms met NTB was vir die aankooppakket met betrekking tot die geleentheid. Die onderlinge verwantskap van die twee ooreenkomste word natuurlik nie deur die bepalings wat vermeld is, beïnvloed nie,” lui die hofstukke. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!