Munich Re raak ook van KPMG ontslae
Die herversekeraar Munich Re in Suid-Afrika het KPMG as sy ouditeur afgedank.
Dit is die jongste geval van 'n maatskappy wat KPMG afdank sedert die ouditfirma in 'n skandaal rondom staatskaping deur die omstrede Gupta-familie betrek is.
“Dit is welbekend dat KPMG skade aan sy reputasie en geloofwaardigheid ervaar,” het Nico Conradie, uitvoerende hoof van Munich Re Africa, gesê.
“Ek wil hulle nie van enigiets beskuldig nie, maar ons voel dit is beter vir ons as ons in 2018 'n nuwe ouditeur kry.”
Die besluit is verlede Vrydag geneem, sê Conradie.
Dié verwikkeling volg weke nadat die herversekeraar se bekende direkteur Iraj Abedian bedank het uit protes omdat KPMG as ouditeur behou is.
Abedian het uit protes bedank oor die direksie se besluit om te wag vir die uitslag van 'n interne ondersoek by KPMG voordat 'n besluit oor die ouditfirma geneem word.
Sasfin en Hulisani, betreklik klein maatskappye in Johannesburg, het reeds verlede maand vir KPMG afgedank.
Die parlement het ook gesê hy gaan nie meer die ouditfirma gebruik nie.
Groot banke soos Absa en Standard Bank oorweeg dit ook om van KPMG ontslae te raak.
'n Bron met kennis oor een van die vier groot banke het gesê dié bank het briewe van sy groot kliënte gekry wat hom aangesê het om sy bande met KPMG te verbreek.
Die bank se reaksie was om van KPMG te vereis om alles in sy vermoë te doen om sy huis in orde te kry, insluitende om 'n geheel en al onafhanklike eksterne oudit te laat doen, eerder as die interne een wat die ouditfirma tot dusver gedoen het.
“Die basiese boodskap is: Julle ouens kan nie jul eie huiswerk merk nie.”
Die Reserwebank het egter reeds aan die vier groot banke gesê hulle kan nie vir KPMG afdank nie weens vrese dat dit finansiële stabiliteit kan ondermyn.
Al vier die groot banke moet twee ouditeure hê en daar is min ouditfirmas wat groot genoeg is om dié kontrakte te kan hanteer.
– Netwerk24/Reuters

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie