Murray-manie en kishoue vir Britse boere
Murray-manie en kishoue vir Britse boere

Murray-manie en kishoue vir Britse boere

Ronelle Rademeyer
Dr. Kobus Laubscher

Die syfers 54-39-28 dui allermins op ’n eienaardige uitkoms van ’n pot tennis. Daar sal na verwagting net meer as 54 000 geel tennisballe tydens Wimbledon 2016 gebruik word en die 39 000 besoekers elke dag van die 14 dae van die byeenkoms sal na verwagting 28 000 kg se aarbeie geniet.
Wimbledon 2016 is nie net die belangrikste gebeurtenis op die Engelse sportkalender nie; dit is die grootste spysenieringsgeleentheid in Europa (volgens die rekords word Engeland nog as deel van Europa geklassifiseer). Tussen ’n verskeidenheid onsekerhede van onbepaalbare omvang en impak, het die Britte die afgelope paar dae verenig in steun vir Andy Murray.
Met Brexit ’n voldonge feit, was Wimbledon vanjaar so ’n effense lig in die tonnel, want die Britse ekonomie steier ná die uitkoms van die onverwagse uittree-stem van 24 Junie. Verbruikersvertroue het die skerpste daling getoon in meer as twee dekades en verbruikers meen om te spaar is nou beter as om te bestee.
Britse banke oorweeg drastiese dalings in rente­koerse as maar net een van die medisynes om ’n resessie te keer.
Dié ten gunste van Brexit wou werkgeleenthede vir die Britte beskerm, maar binnekort kan werk­geleenthede totaal verdwyn tensy die ekonomie kan draai.

Kos vir tennis
Ten spyte van hierdie en ander woelinge het Wimbledon 2016 weer verwagtinge oortref.
Die impak van hierdie groot gebeurtenis strek uiteraard baie verder as net die tennis en veral die bevoordeling op plaasvlak is noemenswaardig. Die nagenoeg 28 ton aarbeie is afkomstig van Kent en word daagliks van vroegdag af vars gepluk om 7 ure later teen 15:30 aflewer te word waar elke vrug met die hand geïnspekteer en in sowat 112 000 houers verpak word.
Elke houer het gemiddeld 10 aarbeie in. Tradisioneel word vars room saam met hierdie aarbeie bedien en daarvoor word nagenoeg 7 000 liter room gebruik. Dié hoeveelheid room is afkomstig van nagenoeg 200 000 liter melk van net meer as 300 koeie wat vir 14 dae lank elke dag gemelk word.
Die prys per bakkie aarbeie met room is 2,5 Britse pond, of nagenoeg R50. Tee en koffie is ewe groot gunstelinge en The Daily Express berig dat meer as 300 000 koppies tee en koffie geniet word. Daarbenewens word 250 000 bottels water, 207 000 maaltye, 190 000 toebroodjies, 15 000 piesangs, 20 000 porsies bevrore jogurt en bykans 12 ton verwerkte salm verbruik.
Die toeskouers les hulle dors met meer as 200 000 glase Pimm’s – ’n tradisionele Engelse mengeldrankie, asook meer as 50 000 liter bier. Wimbledon skep werk en sowat 1 800 personeel is verantwoordelik om die baie besoekers se kos en drinkgoed te bedien. Daarbenewens is daar ook honderde vrywilligers wat help om die byeenkoms glad te laat verloop en hulle word beloon deur gratis toegang te kry tot die terrein waar sekere wedstryde besigtig kan word, sonder kaartjies vir ’n spesifieke baan vir die dag.
Wimbledon is spesiaal en duur vir enige besoeker. Uiteraard word die beste sitplekke vooraf aanlyn verkoop. ’n Beperkte aantal kaar­tjies op Centre Court en die ander bane kan nog tydens die toernooi gekoop word, mits jy bereid is om in lang rye te gaan wag.
Die meeste toeskouers kamp oornag om seker te maak hulle is vroeg genoeg daar om te probeer kwalifiseer vir sulke kaartjies, wat tot R2 100 per persoon vir net die een dag kan kos. Sulke kaartjies is nie oordraagbaar nie en as jy dit nie self kan opneem nie, verval jou kans.
Alles in ag genome bly dit uitsonderlik en die impak wat dit het op die ekonomie van Londen is enorm, veral as die rugwaartse begunstiging van aarbeie in ’n bakkie tydens tennis tot die verskillende Engelse plaashekke verreken word.
Murray se oorwinning is gevier met ’n meer as 20% styging in die verkope van bier en wyn; toeskouers het tennis gekyk in die baie kroeë en nagenoeg 70 miljoen Britse pond daar bestee, aldus The Sunday Telegraph.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer