Mururani se waterprobleme getakel

'n Winkeleienaar moes bontstaan om 'n hele gemeenskap en hul vee met water te probeer help nadat onweer hulle vir vier dae dors gelaat het.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – NamWater se spanne was teen gistermiddag besig met herstelwerk aan waterinfrastruktuur by die Mururani-hek, nadat dié gemeen­skap van sowat 3 000 mense en hul vee vir vier dae sonder water was.

NamWater se woordvoerder, mnr. John Shigwedha, het gistermiddag gesê hulle glo die water sou voor die einde van die dag weer loop en dat die werk byna voltooi is.

Hy sê NamWater is die Dinsdag van die probleem in kennis gestel.

“Dit is veroorsaak weens toerusting vir beide elektrisiteit- en waterverskaffing wat gebreek het,” het hy aan Republikein gesê.

Volgens die Mururani-gemeenskap het hul waterprobleme die afgelope Sondag reeds ontstaan nadat onweer vermoedelik waterpompe beskadig het. Die gemeenskap, wat 'n skool en 'n koshuis met sowat 500 kinders huisves, asook 'n polisiekantoor, gevangenis en veeartsenykantore, is toe sonder water gelaat.

Die Mururani-hek is 'n kontrolepunt in die veterinêre kordonheining vir dieresiektes op die pad tussen Rundu en Grootfontein.

Mnr. Josef Lewis, eienaar van die winkel wes van die hek, sê hy het van die probleem bewus geraak toe mense in groot getalle met emmers en bakke water by hom kom vra het.

“Ek het net een boorgat en dis nie 'n baie sterk een nie, dit lewer maar 1,5 m³ water per uur en kan nie 'n hele gemeenskap en hul vee van water voorsien nie,” sê Lewis, wat gehelp het waar hy kan.

Hy sê sedert Woensdag het meer mense uit die omgewing water begin aanry en teen gisteroggend het dit boonop 16 mm gereën wat help met water vir die vee in die veld. Intussen het Lewis, asook verskeie gemeenskapsleiers teen Woensdag talle oproepe na NamWater gemaak.

Lewis sê dis nie die eerste keer dat wateronderbrekings die gemeenskap teister nie.

Hy sê in die reënseisoen is dit 'n gereelde kwessie. Dan slaan die krag gedurig af en volgende is daar nie water nie.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!