Musici wil kus bekoor met Kersliedere

’n Teaterproduksiegroep wil met “pop-up”-operakonserte eksperimenteer, wat gratis opvoerings in die informele gebiede van Walvisbaai en Swakopmund sal behels.
Yandi Du Plessis
Die teaterproduksiegroep Playmakers het die talente van die jong operasanger Galilei Njembo en die pianis Retha-Louise Hofmeyr ingespan om eerskomende naweek musiekuitvoerings op Swakopmund en Walvisbaai aan te bied.

“Ek het gehoor van Retha-Louise en Galilei wat 'n Kerskonsert vir die Kankervereniging aanbied en ek het gedink dit sal 'n wonderlike vertoning wees om vir Kersfees na die kus te neem. Ek het FNB genader en hulle was vuur en vlam om die konsert te borg. Dit is innoverend en klassiek,” sê die regisseur Sandy Rudd van Playmakers.

“Galilei is myns insiens een van Namibië se opkomende sterre; 'n jong man met groot musikale talent. Hy is reeds 'n wêreldklas-operasanger en sal ’n uitstekende ambassadeur vir Namibië wees. Retha Louise is 'n wêreldklas-pianis. Ons het reeds meer as 38 jaar gelede saam by die Nasionale Teater opgetree. Dit is vir my 'n ware eer om weer saam met haar te werk. Twee ongelooflike musikante wat geliefde Kersliedere uitvoer, is nie ’n ervaring om mis te loop nie.”

Die toer sal bestaan uit twee formele konserte, waarvan die eerste op Saterdag (19 Desemver) om 19:00 by die Walvisbaai Internasionale Skool sal plaasvind. Die tweede uitvoering is Sondag (20 Desember) om 19:00 by die Lutherse Kerk op Swakopmund. Playmakers wil ook met “pop-up”-operakonserte eksperimenteer, wat gratis opvoerings in die informele gebiede van Walvisbaai en Swakopmund sal behels.

“Dié informele konserte sal ’n nuwe ervaring vir Namibië wees. Pop-up theatre is soos 'n mini flash mob met een kunstenaar. Galilei en ek sal geskikte plekke vind en hy sal net optree. Niemand het nog nie so 'n operakonsert in Namibië aangebied nie. Ek is baie opgewonde oor hierdie eksperiment. Hopelik sal iemand wat kyk, verlief raak op operasang en kan dit hul lewe vir altyd verander. Wie weet, miskien is dit die nuwe manier van optree. Dit is ’n innoverende, toeganklike teaterervaring,” sê Rudd opgewonde.

DIE KUNSTENAARS

Die 20-jarige Galilei Uajenenisa Njembo is 'n jong voornemende operasanger van Windhoek. Hy studeer tans vir sy BA-graad in musiek vir vokale uitvoering aan die McGill-universiteit, een van die wêreld se voorste tersiêre instellings vir uitvoerende kunste. Aangesien hy 'n lid en gereelde solis van die internasionaal-erkende College of the Arts (Cota) se jeugkoor was, floreer hy deesdae in die klassieke musiekbedryf in Namibië.

Hy het sedert 2017 die verhoog met die Namibiese Nasionale Simfonieorkes gedeel en is in 2018 bekroon as die top-Namibiese student by Trinity College London. In 2019 het hy die Cota-prys vir uitnemendheid ontvang. Later is hy genooi om deel te neem aan die 2020-Immling Opera Festival in Duitsland.

Retha-Louise Hofmeyr was die direkteur van kunste in die Namibiese regering vanaf 1990 tot 2015. Tydens dié periode was sy verantwoordelik vir die ontwikkeling van kunsonderwys en die kreatiewe bedryf. Voorheen was sy 'n musiekdosent aan die Akademie vir Tersiêre Onderwys (1985-1990), 'n musiekvervaardiger vir die voormalige SWABC (1983-1985) en repetiteur vir PACT Ballet. Sy het 'n BMus, 'n onderwysdiploma, 'n MPhil in Entrepreneurskap aan die Universiteit van Pretoria, 'n uitvoerderslisensie van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en 'n diploma van Porto en Salzburg. Sy is 'n musiekeksaminator vir Unisa en het in Suid-Afrika, Namibië, Portugal, Italië, Duitsland, Oostenryk en die VSA opgetree.

Sy het reeds verskeie toekennings ontvang, waaronder twee erebewyse van die Franse regering.

Playmakers is 'n amateur-teatergroep wat die uitvoerende kunste in Namibië bevorder en is al die afgelope 40 jaar betrokke by meer as 100 produksies. Rudd, ’n bekroonde regisseur, was die dryfveer agter al hierdie produksies.

Kaartjies is vooraf beskikbaar op Webticket of by Pick-n-Pay. Kaartjies kos N$100 elk. Alle opbrengste is vir Galilei se klasgelde. Hy studeer tans aan die McGill-universiteit in Montreal, Kanada.

“Dit was so 'n moeilike jaar vir ons almal. Doen jouself 'n guns deur 'n goeie doel te ondersteun en gun jouself 'n uur van genot,” sê Rudd.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!