Musiek streel jou gemoedstoestand
Musiek streel jou gemoedstoestand

Musiek streel jou gemoedstoestand

Sanet de Waal
Musiek. Ek is ongelukkig nie musikaal nie, maar musiek speel 'n belangrike rol in my lewe.

My pa het altyd gesê ons het laaste in die ry gestaan toe musiektalent en lengte uitgedeel is. Ja, dit is die einste pa wat gesê het my suster het wieletjies onder haar voete, omdat sy nie kan stil sit nie. Ek het ook eintlik wieletjies, maar ongelukkig rem my finansies my as dit by verre reise kom.

Maar terug by musiek en wat dit vir jou gemoedsrus kan doen.

Daar is soveel musiekgenres om van te kies, en met vandag se YouTube en WiFi is enige musiek net 'n paar drukke weg. Die genres waarvan ek hou, is natuurlik Afrikaans (maar nie te veel daarvan nie), alternatiewe musiek, selektiewe country, Christelike musiek en my gunsteling, die musiek van die jare 70's, 80's en 90's. Ek is nie so lief vir jazz en reggae nie, maar ek glo dit is omdat ek nie daarmee grootgeword het nie.

Ek kan onthou hoe ons Sondaeaande voor die draadloos gesit en na plate geluister het en latere jare na Springbok Radio. Ek was daardie tyd nog jonk, maar ek kan nog so goed veral vir Chris Blignaut en sy gewilde liedjie “Ou ryperd” onthou.

Volgens Wikipedia was hy die eerste Suid-Afrikaanse sanger wat 'n kontrak met 'n platemaatskappy aangegaan het (in 1930). Sy ander treffers was “Ou tante Koba” en “Daar oorkant die spruit”.

Dan onthou ek vir Engelbert Humperdinck. Ek glo julle het lanklaas sy naam gehoor of miskien het julle dit nog nooit gehoor nie. Hy was en is nog steeds een van my gunstelinge. Dit voel soos gister wat ons gesin saam sy liedjies geluister het. “Spanish Eyes”, “Please release me”, “The last waltz” en “Quando quando quando”.

Hy sal altyd 'n legende bly, net soos my ander gunsteling, Frank Sinatra. Hy het nou 'n kleurvolle musiekloopbaan gehad. Ek is gek oor “My way”, “New York, New York”, “I've got you under my skin” en “Angel Eyes”. Maar niks kom by “Fly me to the moon” nie.

Ek glo ek het my wye musieksmaak aan my oudste suster te danke. Ek was op 'n jong ouderdom aan 'n groot verskeidenheid musiek blootgestel.

Jy sal gou agterkom in watse tipe bui ek is as jy na my musiekkeuse van die dag luister. Dit kan wissel tussen Roxette, Lewis Capaldi, Deon Groot, Bonnie Tyler, Spoegwolf, Snow Patrol en Linkin Park, om net 'n paar kunstenaars te noem.

Dan praat ek nie eers van Bad Boys Blue en Modern Talking nie. Kyk, ek is 'n sucker vir dié groepe se musiek. Ek moet dit seker nie hardop sê nie, maar daar is dit. Dit is nou nie “diep” musiek wat jou binneste roer nie, maar sommer net lekker luistermusiek. 'n Mens het dit ook somtyds nodig, alles kan nie altyd ernstig wees nie.

Daar is nog soveel goeie herinnering wanneer ek dink aan sekere sangers soos onder meer Gé Korsten, Cora Marie, Sias Reinecke en Sonja Herholdt.

Dit is die lekkerste as jy 'n liedjie hoor en goeie of somtyds slegte herinneringe kom in jou gedagtes op. Veral as dit jou terugvat na herinneringe van jou kinderjare, jou universiteitsdae, jou eerste liefde, jou troudag of sommer net waar jy 'n dag lekker saam met vriende gekuier het. Musiek sal altyd seker maak jy vergeet nooit daarvan nie.

Wie het gesê jy moet musikaal wees om musiek te geniet?

Kommentaar

Republikein 2024-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 22° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 21° | 32° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 24° | 34° Mariental: 24° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 21° | 34° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 23° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 15° | 23° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 17° | 34° Lilongwe: 23° | 34° Maputo: 21° | 29° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 18° | 28° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!