My BFF's ontmoet ek in 'n donker gang
My BFF's ontmoet ek in 'n donker gang

My BFF's ontmoet ek in 'n donker gang

[email protected]
Jeanette Diergaardt
Jeanette Diergaardt – Daar is 'n donker gang waar ek tuis voel. Ver weg van my tuiste en ver weg van enige mens. Dit is 'n gang waar nie veel afwandel nie, maar 'n gebou wat vele mense besoek.

'n Verwelkomende stilte bereik my wanneer ek die gang binnegaan. Bekendes en nuutgevonde vriende verwelkom my hartelik en roep uit na my om met hulle te gesels. In dié donker gang het ek 'n vriend gekry. Sy is nou wel jare ouer as ek, maar ons het van die begin af aanklank bymekaar gevind. Om eerlik te wees, ken sy my van geen kant af nie, maar ek hang aan elke woord wat sy uiter.

'n Kontak het my aan haar voorgestel en onmiddellik moes ek meer navorsing doen oor dié dinamiese vrou. Sy is 'n vrou wat grense ver­skuif. Ek glo baie het haar al vertel sy mag sekere dinge nie doen nie. Maar tog het sy gedoen wat sy wil. Die “moenies” en “dit is nie moontlik nie” het sy glad nie kop toe gevat nie. Sy het voortgegaan en gedoen wat sy wil, want niemand kon haar van plan laat verander nie. Baie mense kyk op na haar, maar ek dink baie min sal haar voorbeeld volg. Daar is dalk net een persent van die ganse mensdom wat net soos sy is, dalk 'n bietjie meer, wie weet. Feit bly staan as daar 'n skrywer is wat ek na opkyk, is dit Joan Hambidge.

Ek wou eers sê “lesbiese skrywer”, maar het toe my 'backspace'-knoppie teen die tafel regdeur my sleutelbord gedruk. Ek hoop IT sal my vergewe vir die passie waarmee ek tik, want hoekom was my eerste instink om te sê “lesbiese skrywer”, sy is 'n dêm goeie skrywer en klaar. Korreksie, sy is 'n briljante digter en akademikus. Haar seksualiteit hoef nie deel te wees van al die geskrifte oor haar nie.

Stel jou voor ons gebruik heteroseksueel om mense voor te stel; Jeanette Diergaardt, die heteroseksuele internjoernalis by NMH. Ek weet, belaglik. Dit sal wel help om pedofiele bekend te maak sowel as moordenaars, verkragters, korrupte politieke leiers en almal wat skade aan die mensdom berokken. Ag wel, wat kan ons doen? Mense sal seker altyd verbaas wees as mense uit gemarginaliseerde groepe uitblink bo almal se verwagtinge of vooropgestelde idees.

Miskien het die Here self besluit sy moet lesbies wees sodat sy al haar aandag daaraan kan bestee om die wêreld aan die brand te skryf. Kyk, kom ek korrigeer my weer, want daar is sensitiewe mense op aarde en ek wil natuurlik nie hê enigiemand moet aanstoot neem nie. Sy kom voor as iemand wat haar beste gee in alles wat sy doen. Sy het dalk ook geweet sy sal 'n briljante ma wees, maar het toe teen ma-wees besluit want haar skryfwerk was haar eerste en enigste passie.

Daar gaan ek weer. Ek babbel voort as ek die geringste kans gegun word. Soms maak dinge net meer sin in my kop. Daarom skryf ek ­liewer alle onsin neer as wat ek ­alles hardop uitblaker.

Terug na my donker gang. Laat weet my as julle kon uitvind waar dié donker gang is. As jy gesê het biblioteek, dan moet jy 'n Grammy of 'n Emmy kry as jy een wil hê. Miskien ook die Nobel-prys as dit meer na jou smaak is. Die Afrikaanse literatuur-afdeling in die biblioteek kry maar min besoekers. Wat 'n jammerte is, want ek moet sê ek ontmoet die interessantste mense in daardie donker gangetjie. In my eerste jaar was ek bietjie bang om te lank daar te vertoef. As ek eerlik met myself moet wees, hou ek nie juis van donkerte en stilte nie. Blykbaar as jy in jou derde jaar is, geniet jy die geselskap van spoke meer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!