My blou fietsie
Almal het as kind 'n gunstelingspeelding gehad. Ek praat nou van desjare toe ons as kinders op klein dorpies en plase grootgeword het waar die draadloos meestal net Radio Skoonveld opgevang het, terwyl die kortgolfsein iewers tussen die berge, vlaktes en duine verlore geraak het.
Windhoekers was die uitverkorenes, want dié dorpenaars kon inry toe gaan, 16 mm-flieks saam met 'n projektor by Uncle Spike's in die hoofstraat uitneem om by die huis te kyk, saans “wiendou sjopping” doen en na FM-radio en Springbokplate luister. Maar ons daar doerrrr op die platteland moes met minder klaarkom, en daarmee het ek tot vandag nog steeds nie 'n probleem nie.
Ek onthou hoe ek menige oggend met 'n stuk biltong in die kies na Siembamba op die radio geluister het daar waar die draadloos op die yskas in die kombuis gestaan het. Dit was skynbaar die enigste plek in die huis waar die kortgolfsein en die radio vriendelik met mekaar was en ek moes op 'n stoel staan om oopmond na die kinderstories te luister.
Sommige laaities het 'n gunstelingkarretjie gehad, terwyl die dogters weer 'n pop as beste maatjie gekoester het. My liefling was so 'n blou fietsie met wit wieletjies wat my as beginner eers met twee sywieletjies moes regop hou.
Ek onthou die eerste dag wat pa Ponie die sywieletjies, op my aandrang, afgehaal het. Hy was besig om in die groot hoenderhok 'n kleiner kampie vir die vars uigebroeide kuikens en die kloekende ma-hen te maak en ek wou graag vir hom wys hoe ek sonder dié sywieletjies verby hom gaan flits.
Ek het daar van die stoep se kan af spoed gevat om met 'n vaart daarvan af te ramp. Met pa en die hoenderhok nog etlike meters weg het ek met elke trapslag meer selfvertroue gekry, maar die noodlot moes seker toeslaan. Dit was my eerste val met regte rowe en al, maar ook nie my laaste nie.
In die sewe jaar voor ek my skoolloopbaan daar op Maltahöhe afgeskop het, moes ek myself besig hou op Saffier, en dit is waar ek bitter baie ure en dae in die saal van my ysterperd spandeer het.
As ek en pa Ponie in die oggende met die F100-bakkie van die veeposte af teruggekom het, het my dag as “spietkop” begin om later as 'n jaagduiwel af te sluit, terwyl ek om die opstal, vellekamer, waenhuis, hoederhokke en dam soos 'n derduiwel laat wiel het om vir oulaas met 'n plank tot op die stoep te ramp waar ek eers asem kan skep.
Die “spietkops” en jaagduiwels het ek natuurlik hier in Windhoek gesien as ons gekom het om my ouer sussie vir 'n langnaweek of vakansies uit die koshuis te kom haal. Die motorfietse se gebrul het my grootoog op die Gross Hertzog-hotel se stoep laat staan, en ek kon myselfwers op so 'n gevaarte sien.
Dis seker hoekom ek in 2016 besluit het om weer 'n motorfiets aan te skaf. Nie om te jaag en te spring nie, maar wel om weer die vryheid en wind in die gesig te ervaar soos toe ek nog 'n kind was. Met my KLR-motorfiets nou weer op haar stukke, kan ek weer sorgvry die pad aandurf.
Ná laasnag en vanoggend se heerlike reëns, moes ek haar vanoggend afdroog anders kom ek met 'n nat bas by die kantoor aan en wat sal die mense nou van my dink? Ieder geval, op pad kry ek die heerlikste reuke, geure en aromas denkbaar wat uit die nat veld en grond opstuif om my rookvrye neus vlerke te gee.
Ek kon nie anders as om aan my blou fietsie op Saffier te dink wat as kind my dieselfde vreugde en vryheid verskaf het nie. Ek het selfs op 'n keer die pad na oupa Piet-hulle op Springbokvlate gevat wat 'n goeie ses myl van Saffier se opstal geleë was.
Ek het vanoggend diep gesukkel om haar neus nie elders heen te draai om met vrye teuels soos 'n stout kind stokkies te draai nie.
Dalk kon ek vandag sommer gou weer Saffier en Springbokvlakte verras waar my spore steeds lê en my hart nog skuil.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie