My eerste vaderlose Vadersdag
My eerste vaderlose Vadersdag

My eerste vaderlose Vadersdag

Francoise Steynberg
Sondag was my eerste Vadersdag sonder my pa ná hy verlede jaar oorlede is.

Ek werk en oom Des bel oor 'n storie en ek wens hom in 'n bewerige, tranerige stem ’n gelukkige Vadersdag toe.

Ek hoor sy stem raak ook dik aan die ander kant.

"Dis vir my ook 'n hartseer Vadersdag, want albei my seuns is oorlede," sê hy.

Ek kan nie verder met hom gesels nie, want ek wil net tjank.

Ek wil tjank oor ons kinders wat nie meer pa's het nie. Oor die kinders wat nooit hul pa's geken het nie.

En oor die enkelmoeders wat vir die afwesige vaders moet instaan. Ek is kwaad vir die pa's wat nie vir hul kinders papgeld betaal nie. Ek is kwaad vir die pa's wat nie tevrede is met een vrou nie en hul huise en families opbreek.

Ek is woedend vir die pa's wat hulself aan drank vergryp en hul vroue, kinders en ouers mishandel. En nog meer oor die kinders wat nie hul ouers waardeer en mooi na hulle omsien nie. Eer jou vader en jou moeder.

Ek wil ook huil oor die mans in my lewe wat vir my 'n vaderfiguur was ná my pa siek geword het en nie meer kon praat nie. Oudkollegas Jan Poolman en Errol Hurter was my ander pa's en is ook nie meer daar vir my nie. Ek mis hulle verskriklik.

Ek mis my pa se vet skaapribbetjie op die braai. Ek mis ons saamsing en ek sou wat wou gee om weer een keer met hom te dans. My pa het my leer dans nog voor ek 'n tiener was. Ek het ons dansery al gemis toe hy deur veelvuldige sklerose in 'n rolstoel en later in 'n bed vasgekluister was. Ek verlang na toe ons ounagte om politiek gesels het en ek wonder wat sou hy oor vandag se wêreldnuus te sê gehad het, en wat hy van Donald Trump sou gedink het.

Ek is hartseer omdat ek nie meer my pa se enigste dogtertjie is nie. Ek was altyd sy dogtertjie, al was ek al lankal 'n groot vrou. Ek het nou nog soveel keer sy raad nodig. Ek wil steeds vir hom soveel vrae vra.

Ek wou nog meer weet van die Steynbergs se geskiedenis. Ek is hartseer omdat ek nog soms soos 'n onskuldige dogtertjie wil voel en nie altyd die krag het om die probleme van die grootmenswêreld alleen op my skouers te dra nie.

Ek is besig om te pak om in 'n lekker huisie in te trek. Bokse word gepak en ou goed word weggegooi. Ek sê vir my ma ek sal vir haar 'n kragprop aan 'n elektriese toestel aansit.

Sy sê nee, dis te gevaarlik en hoe sal ek nou weet hoe om 'n kragprop aan te sit. Ek kap terug en sê my pa het my alles geleer. My pa het gesê ek moet alles kan doen wat 'n man kan doen. Daarvoor sal ek vir altyd dankbaar wees.

Ek wens my pa kon net nóg een keer saam met my op die huisie se lekker stoep sit en na die sonsondergang kyk terwyl 'n ribbetjie op die kole sis.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!