My Goose en ek
Tielman van Lill
Ek en my Goose het ’n baie goeie verstandhouding. Sy het die houding en ek die verstand, maar dit pas my. Ek is nie ’n snaar vir houdings nie.
Goose en ek is al sedert Junie 2016 onafskeidbaar. Toe ek haar daardie eerste dag gesien het, was dit liefde met die eerste oogopslag. Ek wou haar terstond hê en ek het nie “nee” vir ’n antwoord gevat nie.
Sy moes maar net saam. Ek reken sy het seker eers later gevoelens vir my begin ontwikkel toe ek liefdevol haar einas met die grootste sorg behandel het. Maar ek was vanuit die staanspoor halsoorkop verlief op haar.
Die herstelproses was nie maklik nie. Ek moes mooi praat en smeek dat sy saam met my deur die proses worstel. Sy was egter binne 'n japtrap bly om my te sien wanneer ek by die huis gekom het.
Veral oor naweke as ek nie aan diens was nie, kon ek my voltydse aandag aan haar skenk. Ek dink dit moes my aanraking gewees het wat die skaal in my guns geswaai het. Ek het sagte hande. Maar dit nou daar gelaat.
Ek moet beken sy was en is nog steeds so geduldig met my en kan vir ure vir my wag sonder om knorrig te raak omdat ek haar so lank afgeskeep het. Sy is altyd tevrede met alles en kla nooit nie. En sy is nie duur en temerig nie. Dit belowe ek julle.
Selfs as sy buite in die reën gestaan het, is sy nog liefdevol. Ek kan haar deur die venster in die reën sien staan hoe sy vir my kyk. Maar ek weier volstrek om onder my skuldgevoelens te verkrummel. Daar is ’n plek vir alles. Ek meen.
Ek onthou die eerste langpad wat ek en sy saam vir ’n naweek weggegaan het. Sy het heeltyd gesing en het nie een keer oor die stof en hitte gekla nie. Ek het kort-kort vir foto’s in ons mooie Namib gestop en sy het geduldig gewag.
Watter vrou sal nog só sag met ’n man se tere binneste kan werk? Die manlike spesie is baie meer fijnbesnaard as wat die gemiddelde vrou ooit sal besef.
Ons is wel baie harerig, praat kastig met growwe stemme en het groot pense met sommige mans wat alte vreeslik matjou met help-my-sterk-lyk-hempies wil lyk. Maar diep binne is hulle softies. Laat ek julle vertel, laat Ta nou net siek word, dan sal jy sien hoe sag hy eintlik is. Maar dit nou daar gelaat.
Met my en my Goose se eerste uitval (letterlik), was ek baie seergemaak. Ek weet sy het dit nie bedoel nie, maar haar onbesonne optrede het my ontstel. En dit boonop ná werk toe ek haar wou uitvat. Ek het mos net goed bedoel.
Genade ons, sy was daardie dag buite haarself en ek moes net mooi vir my wiekets keer. Maar my keer het nie veel gehelp nie en sy het my in die pad gelos. Sy het beslis daardie ronde met ’n uitklophou gewen.
Haar onbesonne gedrag het my stomgeslaan en flou van ontsteltenis gelaat. Veral toe sy binne minute my weer by haar toelaat, kon ek nie verstaan wat haar binne gevaar het nie.
Ek het nie geweet wat om te dink of te doen nie. Die pyn wat sy my toegedien het, was meer as wat ek kon hanteer. (Sien daar kom die softie-storie nou uit.)
My brose ego was erg gekrenk. Veral die volgende oggend toe die dokter bevestig twee van my ribbes agter my regterblad is morsaf, het ek geweet sy is nie ’n katjie wat jy sonder handskoene kan aanpak nie.
’n Motorfiets is ’n wonderlike ding, maar ewe onvoorspelbaar en wispelturig soos ’n vrou. Dankie my Goose.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie