‘My kinders mishandel my’

’n Bejaarde vrou sê haar kinders mishandel haar en haar dogter – wie se arm onlangs ná 'n struweling geamputeer is – is nie meer welkom in haar huis nie.
Yandi Du Plessis
Tuyeimo Haidula op Ondangwa

Die pensioenaris wat daarvan beskuldig word dat sy haar dogter, me. Wilka Shikongo, só ernstig aangerand het dat haar regterarm geamputeer moes word, het Maandag in trane in die hof gesê haar kinders mishandel haar al jare lank.

Me. Wilka Mbinga (72) het Shikongo (45) glo op 6 Augustus by hul woning op Omulondo in die Oshikotostreek aangerand.

Volgens polisieverslae het Mbinga glo haar dogter met ’n knopkierie geslaan en haar in die Onandjokwe-staatshospitaal laat beland. Haar gebreekte arm het nie op die mediese behandeling gereageer nie en is op 6 September in dieselfde hospitaal geamputeer.

Mbinga het Maandag in die landdroshof op Ondangwa verskyn op ’n klag van gesinsgeweld met die doel om ernstig te beseer. Sy het gister weer verskyn vir ’n formele borgtogaansoek. Haar aansoek is tot 28 September uitgestel terwyl die saak verder ondersoek word.

Landdros Gabriella Perestrelo het aan die hof gesê sy is bewus daarvan dat die staat borgtog op haar eerste verskyning kan teenstaan, maar het aangevoer Mbinga is 'n ou vrou wat sukkel om te loop en sy kan nie sonder ondersteuning staan nie.

Toe sy buite die hof met ons susterkoerant Namibian Sun gepraat het, het Mbinga erken dat sy haar dogter geslaan het, maar het gesê dit was nie só erg dat dit haar arm sou kon breek nie.

GEBROKE HUIS

Mbinga het gesê sy het nege kinders in die wêreld gebring – en sy is slegs op goeie voet met een uit die agt wat oorleef het. Sy het gesê sy kry swaar vandat haar man in 2004 dood is.

“Ek het alles in my vermoë gedoen om vir daardie kinders te sorg, maar hulle het grootgeword en in dronkaards ontaard wat my mishandel. Sommige van hulle kom net huis toe om my te besteel,” het sy gesê en bygevoeg Shikongo het haarself moontlik beseer toe sy oor die grensmuur gespring het ná een van haar fuifsessies. Volgens Mbinga is dit 'n algemene verskynsel.

“Ja, ek het haar geslaan toe sy aan die speserye geraak het, maar dit is nie hoekom ek haar gedissiplineer het nie. Ek het vir haar gesê om op te hou om na my kombuis toe te gaan, en ek het haar nie so hard geslaan nie. Ek het nie eens geweet sy het ’n gebreekte arm nie, want daardie aand het sy nog uitgegaan. Ek is die volgende dag eers ingelig dat sy in die hospitaal opgeneem is.”

Mbinga het gesê sy het ’n seun wat ook in hegtenis geneem is ná hy haar aangerand en haar regterbeen gebreek het. Sy het die metaalprostese in haar been aan Namibian Sun gewys, wat haar help loop ná die besering. Met trane in haar oë het sy gesê haar kinders vloek haar en noem haar 'n “nuttelose” ma.

As Shikongo herstel – het sy bygevoeg – sal sy nie weer in haar huis welkom wees nie en sal sy ander blyplek moet soek.

Me. Ndapanda Justine Shiweda het as staatsaanklaer opgetree. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!